Ek glo dat ons almal die deelname aan winterspansporte asook lekker sosiale skoolfunksies waar ons as ‘n skoolgemeenskap die hoogte- en laagtepunte saam kan deel, mis. Wat is dan nou nie lekkerder as om rondom die sportveld ons skoolsportspanne aan te moedig nie of om Eisteddfod- en kooroptredes saam by te woon nie? Op Woensdag, 25 Augustus 2021, het ons so ‘n voorsmakie van netbal- en rugbydeelname teen Laerskool Van Riebeeckstrand gekry. Die weer het wonderlik saamgespeel net voor die kouefront sy kloue kon inslaan. Ons seuns was so opgewonde om net weer ‘n rugbywedstryd vir hul skool na amper 2 jaar te kon speel en die stralende gesiggies het elke oomblik terdeë geniet. Nie so seker wie die meeste in hul noppies was nie, ek, die trotse afrigters of die seuns. Dit was vir my amper ‘n emosionele oomblik en ‘n wonderlike voorreg om luidkeels die spanne aan te moedig. Ons rugbyspanne was hopeloos te sterk vir die opposisie se B- en C-spanne, maar dit was ‘n wonderlike geleentheid wat ons koester. Ek is so trots op die manier wat ons seuns rugby gespeel het, hoe hulle hulself gehandhaaf het en as nederige oorwinnaars uit die stryd getree het. Hulle was ware ambassadeurs van ons trotse skool. Ek kon ongelukkig nie die netbalwedstryde tuis bywoon nie, maar as alles volgens plan verloop, speel ons volgende Woensdag netbal teen Laerskool Kampsbaai. Volgens ons netbalafrigters was die middag gevul met ‘n merkwaardige gees van opgewondenheid en sportmanskap. Daar is geen twyfel daaroor nie, sport is goed vir ons leerders se emosionele gesondheid tydens die ongekende tye van onsekerhede. Ongelukkig is geen toeskouers toegelaat nie, maar vasbyt ouers/voogde en hopelik sal ons moontlik binnekort saam luidkeels om die sportvelde ons Jannies kan aanmoedig. Baie dankie aan ons ouers wat vanuit hul motors of vanaf nuwe Kerkstraat ons netbalspanne met passie aangemoedig het.

Ek het ook die afgelope week die voorreg gehad om saam met ons BR Voorsitter, Merwe Scholtz, tydens skoolure deur die skool te stap, die infrastruktuur te inspekteur asook om te wys wat ons op ‘n daaglikse basis by die skool doen. Die pandemie ontneem ouers/voogde die geleentheid om die skool te besoek, sommer net in te loer of skoolaktiwiteite te mag bywoon. Ek glo Merwe sal saamstem dat die klasklimaat hartlik, warm en innemend is. Leerders en opvoeders is ontspanne, beide is bereid om hulself oop te stel en betrokke te wees. Ons omhels beslis ‘n etos waar ons ons leuse uitleef om jou ware self te wees. Die moraal is hoog en ons Jannies is gemotiveerd om te leer en nie eers die pandemie kry ons onder nie. Om vandag ‘n onderwyser te wees is egter nie maklik nie. Ek dink dit is baie uitdagend en ek glo met jul onlangse ervaring as tuisopvoeders gedurende die onderskeie grendelperiodes, vereis dit dalk meer as wat jy as ouer/voog pre-Covid in terme van onderrig gedink het. Ons is regtig geseënd met toegewyde opvoeders, omgee mense wat nie net ‘n salaris soek nie, maar eerder ‘n passie uitleef. Hulle beskik oor ‘n sterk konseptuele begrip van hul onderskeie vakgebiede wat ‘n hoë standaard van leer en onderrig verseker. Vir my as skoolhoof is dit ‘n riem onder die hart om te weet ons opvoeders handhaaf ‘n klasmilieu waarin elke leerder voel hy/sy het ‘n plek om vol te staan en ‘n rol het om te speel.

Kunsonderrig by meeste skole speel dikwels tweede viool, want daar word by die meeste skole eerder gefokus op syfervaardighede en tale. Gelukkig by Laerskool Jan van Riebeeck volg ons ‘n holistiese benadering en het ons al ‘n geruime tyd gelede besef dat ons in ‘n visuele wêreld leef en dat visuele geletterdheid belangrik is om ‘n sinvolle bestaan te kan voer. Vir ons is visuele kunsonderrig uiters belangrik, want dit stimuleer kreatiwiteit en lei tot verhoogde akademiese prestasie. Baie dankie aan juffrou Rentia wat so hard werk om haar vakgebied uit te bou en ook in die proses ons skool binne esteties met ons talentvolle leerders se kunswerke te verfraai.

Vir kennisname: Ons Finansiële Bestuurder, Christoff Bothma, het onlangs bedank en vandag is sy laaste dag by die skool. Christoff het ‘n kort tydjie by ons vertoef, maar ons wil graag vir hom hartlik bedank vir sy harde werk en toegewydheid die afgelope 10 maande en ons wens hom die beste vir sy pad vorentoe. Baie dankie aan Marili Thomson wat gaan instaan totdat ons ‘n nuwe aanstelling gemaak het.

Graag sluit ek dan die laaste keer rakende die waarde van Augustus-maand (verantwoordelikheid) af d.m.v. ‘n aanhaling: “Every privilege comes with a responsibility. If you don’t take the responsibility, you will lose the privilege”

Geniet jul naweek en wees veilig.