Kan julle glo dat ons in ‘n oogwenk alweer die einde van week 4 van kwartaal 3 bereik het. Ek dink vandag in besonders aan al ons ouers/voogde en leerders wat tans Covid onder lede het of wat self-isoleer. Dit is baie moeilik om van jou familie, vriende of kollegas geskei te word, maar dit is so noodsaaklik om te verhoed dat die virus verder na jou geliefdes en gemeenskap versprei. Self-isolasie affekteer ‘n mens se normale aktiwiteite, roetines en werksaamhede. Dit opsig self kan weer ‘n toename in eensaamheid, angs en depressie tot gevolg hê. Hierdie onsigbare vyand diskrimineer nie teen ouderdom, waar jy woon, of waar jy werk nie. Enige persoon kan besmet word. Hierdie wêreldwye krisis het geweldige negatiewe gevolge, maar dit is jou keuse hoe jy dit gaan aanpak. Wees verseker dit is normaal om tydens die ongekende tye hartseer, gespanne of oorweldig te voel. Gesels met mense wat jy kan vertrou as dinge neerdrukkend raak. Die pandemie word oorweldigend met negatiewe ‘goed’ geassosieer, maar dit bied ook ‘n geleentheid om ‘n persoonlike inventaris van ons lewens te maak, nuwe perspektief te kry en te bepaal wat ons eintlike prioriteite in die lewe moet wees. My gebed is dat ons sal aanhou hoop, meer dankbaar sal wees en nooit ophou om te droom waarin ons in die lewe wil belê nie.

Covid het verder ook veroorsaak dat julle as ouers/voogde nie meer so gereeld by die skool kan kom inloer nie. Ek kry so min die geleentheid om vir julle te vertel en te wys wat alles t.o.v. die akademie op ‘n daaglikse basis by die skool plaasvind. Wees verseker dat ons toegewyde opvoeders ‘n baie hoë standaard handhaaf wanneer dit by die kurrikulum kom. Dus wil ek graag my besoek verlede week aan die Graad 7’s tydens Engels Huistaal by juffrouens Charlene en Mardry met julle deel. Die twee juffrouens behandel tans formele vergaderingsprosdures met hul onderskeie klasse en die leerders speel aktief die onderskeie rolle wat in ‘n normale, formele vergadering geskied. Die interessante agenda en storielyn is as volg: “Agenda and meetings between residents and Count Dracula in London.” Juffrou Charlene het ‘n indrukwekkende toneelstuk geskryf wat afspeel in die woonbuurt van Whitby. Die bevreesde inwoners is paniekerig oor die gerugte dat ‘n gevreesde vampier die oorsaak is van inwoners wat daagliks net eenvoudig spoorloos verdwyn. Selfs twee geliefde onderwysers het soos mis voor die son verdwyn. Die burgemeester van Hamelin en die “Pied Piper” met sy rooi-oog rotweermag word ook in die intrige betrek. Die leerders kry die geleentheid om tydens die omstrede vergadering al die bogenoemde rolle te vertolk insluitend die rol van die sjarmante “Count Dracula”, wat die hoofverdagte is. Verder word rolle onderverdeel as prokureurs, plaaslike vissermanne, polisiemanne, dr. Seward, ‘n plaaslike sielkundige, ‘n vroulike gastehuiseienaar asook ‘n verteenwoordiger van die Diere Beskermingsvereniging. Die burgemeester van Hamelin dui met groot entoesiasme aan dat sy bereid is om van elke vampier in die woonbuurt ontslae te raak in ruil vir ‘n smaaklike ham toebroodjie. Die inwoners het weens finansiële uitdagings besluit dat hulle nie kaas en tamatie ook op die ham toebroodjies kan bekostig nie!

Groot was my verbasing nie om te ervaar hoe ons Graad 7’s met oorgawe hul onderskeie rolle vertolk nie. My mond het letterlik oopgehang oor hul veerkragtige vermoë om vinnig op hul voete te dink en sinvol te redeneer, en dit in Engels! ‘n Swaar, Britse aksent word tydens die vergaderinge gebesig wat in my geestesoog iewers gedurende die Shakespeare-era afspeel. Baie dankie juffrouens Charlene en Mardry wat konstant hard werk om ons hoë standaarde by Engels Huistaal te alle tye te handhaaf sodat ons Jannies die vrugte daarvan kan pluk! Hierdie is maar net een van my wonderlike ervarings die afgelope tyd in die klaskamer. Akademie is ons kernbesigheid. Wees verseker dat jul kinders ‘n veilige hawe van puik onderrig en omgee geniet.

Ek sal nie sommer ‘n leerder uitsonder nie, want vir my is al die Jannies ewe belangrik, maar ek sal my plig versuim indien ek nie iets oor die merkwaardige prestasies van Jan Karsten (Gr.7) die afgelope tyd met julle deel nie. Jan is nie net die huidige o/14 SA Skaakkampioen nie, maar hy het ook op Vrydag, 13 Augustus 2021, ‘n spesiale Wiskunde toekenning by die skool deur ‘n afvaardiging van die WKOD asook die HUB van Horizon ontvang. Jan het ‘n eerste plek uit 25 000 inskrywings in die Wes-Kaap vir die jaarlikse Horizon Wiskunde Olimpiade behaal. Hy het ook in die teenwoordigheid van sy trotse ouers (Suna en Eben) ‘n spesiale sertifikaat, ‘n goue medalje asook ‘n splinternuwe iPad vir sy ongelooflike prestasie ontvang. Welgedaan, Jan! Ons is saam met jou ouers baie trots op jou! Daar lê beslis vir die jonge heer ‘n blink toekoms voor!

Verder wil ek ook die beheerraad hartlik bedank vir die BR-vergadering wat op Maandag, 16 Augustus, plaasgevind het. Tydens hierdie vergadering is onder andere die terreinplan van die skool bespreek. Die beheerraad het ongelooflike visie om die infrastruktuur van die skool so aan te spreek dat die vloei van sisteme op die perseel meer effektief kan geskied. Andries Viljoen dryf tans die projek saam met ‘n komitee van ouers. Ons sal binnekort meer inligting in die verband met julle deel. Daar lê ‘n baie opwindende tyd vir JvR voor om te verseker dat ons byvoorbeeld spasie meer effektief tot voordeel van ons leerders gebruik.

Graag sluit ek af met die bekende aanhaling deur Dean Koontz rakende ons waarde van die maand, nl. verantwoordelikheid: “The world howls for social justice, but when it comes to social responsibility, you sometimes can’t even hear the crickets chirping.”

Geniet jul naweek en wees veilig.