Ek hoop en vertrou almal het ‘n heerlike lang naweek geniet en nie vergeet om die Nasionale Vrouedag op 9 Augustus hoog te ag aangesien die spesiale dag die baanbreker bydraes van vroue oor die jare in Suid-Afrika vier. Dit was terselfdertyd ‘n ideale geleentheid om opnuut oor die regte van vroue in ons pragtige land te besin. Baie dankie vir al die Jannies en personeel wat op Dinsdag, 10 Augustus, pers klere aangetrek het om die spesiale dag te ondersteun.

Terwyl ons die naweek terdeë geniet het, was daar egter ‘ongekende pyn’ in die Britse en Ierse Leeus-kamp met die Springbokke wat die 3de en beslissende toets in Kaapstad met 19 – 16 gewen het. Die Bokke het beslis karakter getoon, die Leeus se stert geknoop en gewys waarom hulle die 2019 Wêreldbeker Kampioene is. Ek is seker daar sal nog lank oor die deurslaggewende bydraes van die immergroen Morné Steyn en die fenomenale Cheslin Kolbe rondom braaivleisvure gepraat word. Vrydag, 6 Augustus, was dit lekker gewees om te sien hoe die Jannies en personeel in groen geklee skool toe gekom het ter ondersteuning van die Bokke se titaniese stryd die volgende dag.

Ek het ook op Woensdag, 11 Augustus, die voorreg gehad om die balkies aan ons 2021 biblioteek-monitors in my kantoor te oorhandig. Ek het hulle by voorbaat bedank vir hul goeie werk en toewyding om die leeskultuur by Laerskool Jan van Riebeeck verder uit te bou. Dus doen ek ‘n beroep op ons ouers/voogde om jou kind/ers aan te moedig om te lees. Help hulle om nuwe woorde te leer en woordeskat te bou. Lees sal ons Jannies help om agter te kom hoe stories geskryf word, en dit beteken dat hoe meer hulle lees, hoe beter skryf hulle. Ek glo julle sal saamstem dat lees die een tydverdryf is wat altyd meer terug gee as wat jy hoef in te sit. Probeer jou kind/ers ‘n bietjie weghou van elektroniese toestelle en tablette deur ‘n boek te lees. Ek erken dat digitale inligting ook sy voordele het, maar die lekkerte om ‘n boek vas te hou, om die reuk van die bladsye te ervaar en jouself te verdiep in die storie, is soveel beter as om te wonder watter beeld die volgende klik op die muis gaan voortbring.

Voor v.l.n.r.: Lea de Ridder, Markus de Ridder, Kate Mouton, Luja Marx, Sophie Wasserman, Lara Warren en Anna Dawes. Agter v.l.n.r.: mnr. Beets, Stella Bojé, Liza Hitge, Cara Swanepoel, Albert Griesel en juf. Gerber. Afwesig: Mia Cruywagen

Ons skool se waarde vir die maand is: verantwoordelikheid. Dit gaan gepaard met die kleur van groen. Ons doelwit vir die maand is om ons Jannies en personeel te leer om te alle tye verantwoordelik op te tree en eienaarskap vir ons aksies te neem. Moderne tye het ongelukkig ‘n selfgesentreerde generasie geskep wat aanhoudend aandring op meer en meer regte, maar nie bereid is om dit te balanseer met die gepaardgaande verantwoordelikhede nie. Dus doen ek ‘n ernstige beroep op julle om ons opvoeders ook by te staan met die uitdagende proses om ons Jannies te leer dat elke besluit wat ons neem en elke aksie wat ons uitvoer, bepaalde gevolge vir die toekoms inhou.

Graag sluit ek af met die bekende aanhaling deur Abraham Lincoln rakende ons waarde van die maand: “You cannot escape the responsibility of tomorrow by evading it today!”

Geniet jul naweek en wees veilig.