Woensdag, 1 September, was amptelik Lentedag en dit op ‘n koue dag! Moontlik het die boodskap nie duidelik by Moeder Natuur uitgekom nie, want die winter is baie astrant om terug noordwaarts te beweeg. Vanuit ‘n meteorologiese oogpunt is die temperature darem net te laag en mag ‘n mens dalk net wonder, is somer nog om die draai? Simbolies is lente die natuur se teken van nuwe lewe soos plante weer begin groei en bloeisels hul welkome opwagting maak. Dalk ook vir ons ‘n nuwe “begin” om al die slegte ervaringe van die pandemie opsy te skuif en die figuurlike dankbaarheidsbril op te sit. Dit was ook wonderlik om te sien hoe ons Jannies en onderwysers lentedag gevier het met onder andere pragtige blommevlegsels in die hare, blommekranse op die kop en inmekaargevlegte blommeringe om die nek. Dit het ons almal sommer lekker geïnspireer en weer hoop gegee.


Die afgelope naweek het die tweede rondte van die Eisteddfod (musiek) onder streng Covid-protokol in die skoolsaal geskied. Ons Jannies het hul puik van hul taak gekwyt en ons is dankbaar vir die ondersteuning en leiding van Juffrouens Helecia, Estelle en meneer Ben. Ons bekwame musiekdepartement beskik oor soveel ervaring en ons kon nie vir beter musiekopvoeders vra nie, aangesien hulle hul daaglikse take met passie, toegewydheid en omgee uitoefen. Ko-kurrikulêre aktiwiteite by ons skool sal altyd hoog geag word aangesien dit instrumenteel is in terme van persoonlikheidsontwikkeling, kulturele vorming en om die Jannies se talente te ontgin. Dalk het julle gewonder waar kom die woord Eisteddfod vandaan? Soos ons dit ken is dit ‘n kunsfees met wedstryde in musiek, digkuns en kunswerke. Die term ‘’eisteddfod’’ wat reeds in die agtiende eeu in gebruik was, is afgelei van ‘n Walliese woord ‘’eistedd’’ wat sit of sitting beteken m.a.w. mense het ‘n kompeterende fees gehou wat hoofsaaklik op musiek en literatuur gekonsentreer het. Die ontstaan en groei van Eisteddfod in Suid-Afrika vanaf 1899 is hoofsaaklik te danke aan Walliese setlaars (meestal mynwerkers) en Afrikaners. Die Eisteddfod is ‘n voorbeeld van gesonde kompetisie met geen wrywing tussen deelnemers nie. Deelnemers kry dikwels die geleentheid om mekaar beter te leer ken en in goeie gees teen mekaar te kompeteer. Hier is beslis ‘n soort van kameradie om mekaar te ondersteun en hulle raak saam opgewonde oor mekaar se toekennings. Dit is ook ‘n baie goeie geleentheid om voor vreemde mense op te tree en selfvertroue op te bou. Ek moedig al ons Jannies aan om in te skryf en hul talente ten toon te stel.

Op Dinsdag, 31 Augustus 2021, het ek die voorreg gehad om die Graad 7’s se Top 10 akademiese presteerders vir kwartaal 2 in die saal aan te kondig. Die Top 10 leerders het elk ‘n spesiale sertifikaat ontvang om erkenning aan hul harde werk en pligsgetrouheid te gee. Ons glo dat dit ook die res van ons Jannies sal inspireer om hard te werk en verantwoordelikheid vir hul eie leer te neem. Hiermee dan die Graad 7’s se Top 10 akademiese presteerders (alfabetiese volgorde) soos einde kwartaal 2:

  • Fredrich Erasmus
  • Mieke Hertzog
  • Jan Karsten
  • Cala Snijders
  • Amelie Snyman
  • Katrien Stimie
  • Héloïse Strauss
  • Mia Symington
  • Taniel Webber
  • Luca Zulch

Baie geluk aan die bogenoemde akademiese presteerders asook hul trotse ouers en grootouers. Baie dankie aan al die opvoeders wat reeds van Huppelland se dae instrumenteel was om ons leerders te bemagtig, te motiveer en te inspireer tot hoër hoogtes. Ons kernbesigheid is akademie en ons is trots op die kwaliteit van onderrig en leer by Laerskool Jan van Riebeeck met die oog op uniekheid van elke Jannie.

Dit spyt my om met julle mee te deel dat die hoof van Huppelland, Mariëtte Herholdt, ons in kennis gestel het dat sy aan die einde van die jaar ons diens gaan verlaat om onder andere meer tyd saam met haar man, Marius, te spandeer. Mariëtte bestuur Huppelland vir meer as 9 jaar baie effektief. Sy het diep spore in die skoolgemeenskap getrap en diep in die harte van ons Jannies en ouers gekruip. Ons sal op ‘n latere stadium formeel van haar afskeid neem. Baie dankie Mariëtte vir wat jy alles vir Huppelland asook die Laerskool gedoen en beteken het. Dit gaan nie ongesiens verby nie. Ons gun jou egter die tyd van aftrede om kosbare tyd saam met jou man deur te bring. Baie dankie dat jy nog steeds beskikbaar sal wees om vir ons te help.

Graag sluit ek met ‘n vriendelik versoek af dat ons as skoolgemeenskap asseblief nog steeds versigtig en waaksaam rakende die pandemie sal optree. Ons almal is verby ‘keelvol’ vir die situasie, maar hou asseblief in gedagte dat verskeie van ons gesinne nog steeds in isolasie is of selfs positief vir Covid-19 getoets het. Sommige gesinslede se gesondheid is en word tot die uiterste deur die virus beproef. Die derde vlaag is nog lank nie verby nie en vir almal se veiligheid wil ek versoek dat ons Covid-protokolle te alle tye sal toepas. Dit is ‘n groot uitdaging om ‘n skool effektief te bestuur met al die uitdagings wat die pandemie bring. Baie dankie vir julle samewerking in die verband.

Geniet die lente en die naweek. Mag die volgende aanhaling deur Daniel Kahneman vir jou iets tydens die ongekende tye beteken: “It’s a wonderful thing to be optimistic. It keeps you healthy and it keeps you resilient.”