Kategorie: Algemeen
Konsertreëlings:
Volg hierdie skakel om die volledige konsertreëlings te sien:
https://bit.ly/konsertreëlings2024
Konsertkaartjies:
Bespreek by die skakel hier onder:
Kaartjies vir 2-11 September 2024
https://qkt.io/vBCzZL
Grand Finale Kaartjies – 12 September 2024
UITVERKOOP
Vir enige navrae kontak vir Megan per e-pos by:
megan@jvrprim.co.za
Ons is reeds besig om aan 2025 se Akademiese week te beplan. Indien enige iemand ‘n kontak het met iemand by Lego – boublokkies sal dit so gaaf wees om my (Marinda Brink) in kennis te stel. Die tema van die week is geskoei op Lego – boublokkies. Die plan is om volgende jaar se Akademiese week nog groter en met nog meer pret aan te bied.
Kontak my gerus: marinda@jvrprim.co.za
Dit is tyd vir veiling! Kliek op die skakel vir meer inligting: https://qkt.io/gSkzHj
Ons is baie trots op twee van ons oud-Jannies wat skitterend tydens hierdie jaar se nasionale senior ATKV-Afrikaansolimpiade gevaar het!
Stella Malan behaal ‘n gesamentlike 4de plek in die Wes-Kaap en 7de in Suid-Afrika en Mari Swanepoel die gesamentlike 7de plek in die provinsie en 11de in die land.
Dit is ‘n ongelooflike prestasie vir ‘n baie uitdagende eksamen waaraan duisende hoërskoolleerders regoor Suid-Afrika deelneem.
Ons harte loop oor van trots! Welgedaan, Jannies.

Op 15 en 16 Julie vind daar ouerbesoeke plaas. 15 Minuut-afsprake sal met onderwysers gemaak kan word om oor jou kind(ers) se akademiese vordering of emosionele welstand te gesels.
Volg hierdie stappe om ‘n afspraak te maak:
- Volg die skakel vir die Besprekingsbladsy.
- Kies die graad waarin jou kind is.
- Onder “Select Staff”, kies die onderwyser met wie jy ‘n afspraak wil maak.
- Op die kalender, gaan na Julie en kliek op 15 / 16 Julie.
- Kies die tydgleuf wat jou sal pas. Indien daar geen tydgleuwe meer beskikbaar is nie, stuur gerus ‘n boodskap op WhatsApp of per e-pos aan die betrokke onderwyser om ‘n alternatiewe tyd te reël.
- Rol af op die bladsy en vul jou naam, e-posadres, kind se naam en enige addisionele kommentaar in.
- Jy sal ‘n bevestiging van jou afspraak per e-pos ontvang.
- Indien jy die afspraak wil skuif of kanselleer, volg die stappe in die e-pos.
- Jy kan tot en met 24 uur voor ‘n afspraak nog bespreek, verander of kanselleer.
- Om te sien watter onderwyser bied watter vak aan, sien gerus die personeelblad op die webtuiste.
Die skool verdaag op 15 en 16 Julie vroeër: 12:45 (gr. 1-3) en 13:00 (gr. 4-7)
So kom die 2de laaste week van kwartaal twee asook die eksamen tot ‘n einde terwyl Moeder Natuur se winterreën salig oor die stad uitsak. Ek glo dat heelwat ouers/voogde saam met hul kinders ‘n groot sug van verligting gegee het toe die laaste vak op Woensdag, 05 Junie, geskryf is. Die antwoordstelle is amper klaar gemerk, ‘n deeglike modereringsproses word gevolg en punte word verwerk sodat ons op Vrydag, 14 Junie, die dag wat die skole sluit, vir elke leerder sy/haar rapport kan gee.
Graag wil ek spesifiek die leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die eksamen asook die besonderse werketiek wat hulle dwarsdeur die kwartaal gehandhaaf het. Hartlike dank ook aan ons ouers/voogde wat hul kinders so mooi en lojaal die afgelope twee weke tydens die eksamen/assessering ondersteun het om net hul beste te doen. Laaste, maar nie die minste nie, ‘n hartlike dank aan ons opvoeders en leerontwikkelingspersoneel wat met soveel deernis en toewyding ons leerders vir die eksamen en assesserings voorberei het.
Vanaf Maandag, 27 Mei, het die interim buitemuurse sportprogram in skooltyd, net na die aflê van die daaglikse eksamens plaasgevind. Die doel om nog steeds met sportoefeninge tydens die eksamentyd voort te gaan, was tweeledig: eerstens, die leerders geniet dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug te geniet en aktief te wees wat sommer ook met hul algemene geestelike welsyn tydens eksamen help. Tweedens, help die program om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf veral met ‘n welverdiende drie weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter, effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamen sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper sewe weke van geen oefeninge en afrigting sou plaasvind nie.
Saterdagaand, 01 Junie, het ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mt. Nelson Hotel plaasgevind. Al die kaartjies was vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid uitverkoop. Die tema vir die aand was ‘Glansryk in Wit’ en die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers het soos in die verlede as afslaer opgetree. Hy het die ongelooflike 41 lotte binne ‘n kort tydjie onder groot geesdrif van die gaste verkoop. Ons is hom uiters dankbaar vir die puik taak wat hy verrig het. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ‘n enorme R1,5m ingesamel is. Dit het al ons verwagtinge oortref veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook die geleentheid gebruik om al ons gaste en veral ons ouers wat op die aand ‘n finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul finansiële bydrae om LS Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Daar is darem nie net ‘n spogveiling gehou nie, maar ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mt. Nelson was uiters stylvol voorberei en verfraai. Die samesyn was kosbaar en die goeie gevoel van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz vir sy dinamiese leiding en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Anna Blackmore en Michelle Forsyth weereens hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n onvergeetlike glansaand.

Op Vrydag, 31 Mei, het ons skool ‘n pantoffeldag aangebied en kon die leerders vir R20 met hul gunsteling-pantoffels skool toe kom. Leerders en personeel het met hul gunsteling-pantoffels by die skool opgedaag en ‘n allemintige R6 700 is op die dag vir die Monte Rosa ouetehuis ingesamel wat die gr. 3’s volgende week aan hulle gaan oorhandig. Baie dankie juf. Michelle vir die reëlings asook vir almal se bydrae. Dit word opreg waardeer.
Dit is dan my eer en voorreg om die 2024 Hoofseun en Hoofdogter wat op 05 Junie verkies is, naamlik Frank van der Walt en Karu Rademeyer bekend te maak. My beste wense vergesel hulle met hul nuwe rol as hoofleiers by ons skool. Mag dit vir hulle baie vervulling bring. Ons is baie trots op Frank en Karu!

Op Woensdag, 05 Junie, het Marié Cruywagen (BR-lid) vir die onderwysers IKT-opleiding gegee om MineCraft Education in hul leer en onderrig te inkorporeer. MineCraft Education is ‘n samewerkende en veelsydige toepassing wat opvoeders ‘n transformerende manier bied om leerders te betrek en hul passie vir leer aan te wakker. MineCraft Education hou die volgende voordele vir leerders in:
- Verhoog kreatiwiteit
- Verbeter probleemoplossingsvaardighede
- Moedig lees en skryf aan
- Ontwikkel navorsingsvaardighede
- Verskerp wiskundige vaardighede
- Stimuleer verbeelding en inspireer kreatiwiteit
- Help om koderingsvaardighede te ontwikkel
Baie dankie, Marié! Ons het groot waardering vir al jou kosbare tyd en toegewydheid om IKT by Laerskool Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem.

Hiermee sluit ek dan af met ‘n treffende aanhaling van Arthur Ashe en wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek sonder eksamenstres saam met jul gesin toe:
“Success is a Journey,
not a Destination.
The Doing is often more important than the Outcome!’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Op Woensdag, 12 Junie, sal die gr. 1-3-leerders van Laerskool Jan van Riebeek die geleentheid hê om ‘n bedreigde spesie Fynbos-saailinge te plant en eerstehands te leer oor konsepte soos bewaring, endemies en bedreigde plantspesies en ‘n praktiese geleentheid hê om by te dra.
Meer inligting:
Kaapstad se flora-koninkryk (Cape Floral Kingdom) is een van ses flora ‘koninkryke’ in die wêreld. Ons koninkryk spog met die grootste verskeidenheid plante in die wêreld! Daar is ongeveer 9000 plantspesies waarvan amper 70% endemies is!
Ongelukkig kom die koninkryk onder vreeslike druk a.g.v. menslike teenwoordigheid, stadsuitbreiding en -ontwikkeling. Amper een derde van die spesies is op die bedreigde spesies lys.
As deel van ‘n gemeenskap en bewaringsprojek het ons ‘n rehabilitasieprogram gestig om van die mees bedreigde spesies terug in hulle natuurlike omgewing te plant. Ons Kloofstraat Park is so geleë dat ons ‘n baie spesifieke groep Fynbos-/Renosterveld-spesies kan plant. Dit is op die rooilys van krities bedreigde spesies. 1500 Saailinge is klaar geoes en word in ‘n kwekery gekweek ter voorbereiding vir oorplanting. Ons beoog om 300m2 van die park te omskep in ‘n inheemse, endemiese Fynbos-Renosterveld publieke spasie.
Markdag vind Donderdag, 13 Junie, vanaf 09:30 tot 10:30 plaas.
- Dit is die senior fase se beurt om Markdag aan te bied.
- Leerders word herinner dat hulle nie klappers of lewende hawe mag verkoop nie.
- Karri sal vanaf Vrydag, 7 Junie, tot Woensdag, 12 Junie, oop wees om ‘n tafel te bespreek indien jou kind(ers) in graad 4-7 iets by die markdag wil verkoop.
Die tweede week van die eksamen het klopdisselboom verloop. Soggens tydens eksamen is dit vir die eerste uur of twee doodstil in die skool soos die leerders besig is om hul kennis op skrif te stel. Vanaf 10:00 met die aanbreek van pouse wat dan gevolg word deur die interne sportprogram kom die hele skool skielik tot lewe met al die vrolike stemme wat die heerlike winterweer buite geniet. Gelukkig kom die eksamen op Woensdag, 05 Junie, tot ‘n einde en keer ons huishoudings terug na normaal met ‘n welverdiende vakansie wat voorlê.
Môreaand, 01 Junie, vind ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mount Nelson Hotel, plaas. Hierdie geskiedkundige hotel boei al gaste sedert 1899 en sodra jy die perseel betree, ervaar jy die gevoel van glans en ontspanning wat dit die perfekte venue vir ons gewilde veilingsdinee maak. Vanjaar se tema is ‘Glansryk in Wit’ en ek wil al die gaste by voorbaat hartlik bedank wat die glansgeleentheid gaan bywoon asook hul bereidwilligheid om hul hande diep in hul sakke te steek om ons skool finansieel te ondersteun. Fondse geïn word direk in projekte geploeg om onder andere die infrastruktuur by die skool asook die IKT-leer en -onderrig aan te spreek. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Anna Blackmore en Michelle Forsyth hartlik te bedank vir hul deeglike beplanning en harde werk agter die skerms om die sukses van die veilingsdinee te verseker. Daar is 40 lotte plus ‘n spesiale verrassingslot wat opgeveil gaan word. Gelukkig is ons baie bevoorreg om MC du Toit as ‘n bedrewe afslaer aan die stuur van sake te hê.
Laat my toe om die volgende twee leerders hartlik geluk te wens met hul puik prestasie tydens die ATKV se semi-finale rondte op 15 Mei te Hoërskool Bellville:
- Pieter Rademeyer – 6de plek in die Wes-Kaap
- Dané Olivier – 6de plek in die Wes-Kaap
Welgedaan julle twee, julle maak ons baie trots. Baie dankie ook aan juf. Andri vir haar puik leiding in die verband en baie geluk met jou aanwysing as ‘n ATKV-beoordelaar.
Graag wil ek met ons ouers/voogde ‘n bekommernis rakende die taalgebruik van veral ons gr. 5 – 7-seuns tydens skool- en sporttyd, deel. Ek glo dat die meeste ouers/voogde salig onbewus van die onaanvarebare kru- en vloektaal is wat deur sommige seuns tydens pouses, voor en na skool gebesig word. Ek het alreeds met die onderskeie grade se seuns ‘n ernstige gesprek gevoer oor die gebruik van kru- en vloektaal. Ek het mooi aan hulle verduidelik dat ‘n mens se woorde toon wie jy werklik is en as jy kru- en/of vloektaal gebruik dit wys dat jy nie baie vir ander mense omgee nie. Hierdie gedrag weerspreek in totaliteit ons waardes en Jannies behoort van beter te weet. Leerders op ‘n jong ouderdom mag dalk dink dat dit “cool” is om vloek-/krutaal te gebruik en om die een of ander rede dink hulle dat dit hulle volwasse laat klink. Ons weet almal dat vloektaal maklik ‘n gewoonte kan raak daarom wil ek dit onmiddellik in die kiem smoor. Hiermee insinueer ek nie dat ek dink die seuns se taalgebruik by die huis te hore kom nie, maar eerder om julle hulp te vra om met jul kinders te praat dat vloek- en krutaal onaanvaarbaar is en niks met volwassenheid te doen het nie. Baie dankie vir julle ondersteuning in die verband.
Op Woensdag, 31 Mei, het stemgeregtigde Suid-Afrikaners die geleentheid gekry om hul stemme tydens die nasionale verkiesing te laat geld. Ek hoop en vertrou dat alle stemgeregtigde burgers hulle na die stemlokale gehaas het om hul kruise te trek om die nuwe nasionale vergadering sowel as die provinsiale wetgewer in elke provinsie te verkies. Vanjaar was die meeste kiesers ooit geregistreer, naamlik 27,7 miljoen met ‘n allemintige 52 partye op die nasionale stembrief om voor te stem. Kom ons hoop en bid dat al die politieke beloftes nagekom sal word en die morele gesag in die samelewing herwin sal word. Baie dankie dat jy jou kruisie in jou kind/ers se belang gemaak het in die poging om Suid-Afrika ‘n beter plek vir almal te maak!
Hiermee sluit ek dan af met ‘n treffende aanhaling oor die eksamen van die lewe en wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin toe:
“Life is the most difficult exam.
Many people fail
because they try to copy others,
not realizing that everyone has a different question paper!’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Dit spyt ons om julle mee te deel dat Suzaan Coetzee vroeër die kwartaal haar bedanking ingedien het. Sy verlaat ons aan die einde van die kwartaal. Ons beste wense vergesel Suzaan op haar nuwe reis en mag sy haar nuwe werk terdeë geniet.
Megan Zondagh gaan haar pos oorneem en sal van volgende kwartaal af die kontakpersoon wees vir navrae i.v.m. kommunikasie, inteken-probleme en Jan Kas.
-
Kontakbesonderhede: megan@jvrprim.cp.za | 067 448 4943 (WhatsApp chat)
-
Vir Jan Kas navrae, kan julle steeds die jankas@jvrprim.co.za e-posadres gebruik.
Ons is verder in die proses om onderhoude te voer om ‘n nuwe persoon in Megan se plek vir die biblioteek- en digitale geletterdheid-vak aan te stel.
Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026


