Na afloop van elf besige en opwindende weke kom kwartaal 3 vandag amptelik tot ‘n einde met die sluit van die skole vir ‘n kort vakansie voordat ons die finale kwartaal van die jaar aanpak. Ek hoop en vertrou dat julle ook kwartaal 3 saam met jul kind/ers terdeë geniet het. Dit is vir my ‘n riem onder die hart om daagliks te sien hoe gelukkig die leerders by die skool is. Hulle vrymoedigheid om daagliks by my kantoor te kom inloer om te groet of net om seker te maak dat ek, soos hulle dit stel: ‘’okay’ is’, is seker die beste byvoordeel wat ek, as skoolhoof, voor kon vra.
As ons vinnig oor die afgelope kwartaal terug kyk en ‘n kort refleksie sou wou doen, staan die volgende vir my uit:
- Heelwat sportgeleenthede is vir die wintersporte (netbal, hokkie en rugby) die afgelope twee kwartale suksesvol gereël. Al het daar hierdie winterseisoen verskeie van die wedstryde, as gevolg van die gure weer uitgereën, is daar vanjaar ‘n rekord totaal van 743 wintersport-wedstryde gespeel. Dit is 157 wedstryde meer as gedurende 2023 en 215 wedstryde meer as 2022. Dit is beslis ‘n pluimpie vir die sportkantoor. Baie geluk dan ook aan ons o/13A-dogtershokkiespan en ons o/7A-seunshokkiespan wat die seisoen onoorwonne afgesluit het. Baie geluk aan die kaptein van ons eerste dogtershokkiespan, Hila Hertzog, en hul afrigters mnr. Leon en juf. Suné met die merkwaardige prestasie. Sportdeelname en -prestasie het oor die afgelope 3 jaar aansienlik by ons skool verbeter. Ons sportplan en -visie is stadig maar seker besig om vrugte af te werp. Daar is vir seker nog baie ruimte vir verbetering en soos ons weet, word Rome ook nie in een dag gebou nie.
- Die aanbied van ‘n baie suksesvolle mini-sportdag (o/7 – o/9 rugby & netbal) op Saterdag, 03 Augustus. Vanjaar was dit ‘n perd van ‘n ander kleur, aangesien die sportdag hierdie jaar soveel groter was as in 2023 met 1 500 leerders wat aan 208 wedstryde deelgeneem het. Vir seker het ons skool nog nooit so ‘n groot sportbyeenkoms aangebied nie. Die dag was uiters suksesvol weens puik beplanning, veerkragtigheid en deeglike uitvoering! Dit is ‘n bewys dat ons skool ook groot sporttoernooie effektief kan aanbied tot voordeel van ons leerders.
- Die opening van die wêreldklas Zen Den waar daar gestreef word om ‘n veilige en kalm omgewing vir leerders wat sensories oorlaai of oorweldig voel, te skep. Ons doel met die Zen Den is om die nodige wegbreekruimte gedurende skooltyd te skep waar leerders nodig het om hulle sintuie te reguleer en van hul angstigheid ontslae te raak. Hulle innerlike kalmte kan hier herstel word, sodat hulle weer rustig kan raak om verder in die klaskamer te funksioneer. Die sentrum bevorder selfregulering, emosionele welstand en akademiese sukses deur ‘n holistiese benadering wat die uniekheid van elke leerder erken en ondersteun. Om op te som, kan Zen Den gesien word as ‘n ‘toevlugsoord’ waar leerders kan selfreguleer, herlaai en floreer. Hier wil ons ook leerders met unieke uitdagings rakende neurodiverse prosessering ondersteun en hulle met die nodige vaardighede bemagtig om die wêreld met selfvertroue vierkantig in die oë te kyk.
- Ons tweejaarlikse skoolkonsert is definitief nie net die hoogtepunt van die kwartaal nie, maar vir seker van die jaar, veral as ‘n mens die leerders se opinie moes kry oor dit wat vir hulle spesifiek die kwartaal uitgestaan het. Ons skoolkonsert is baie gewild en as gevolg van die aanvraag van kaartjies, is dit vanjaar oor ‘n tydperk van twee weke aangebied. ‘’Somewhere over the Rainbow’ verdiskonteer ‘n puik produksie en elke item is aand-vir-aand luidkeels deur die gehoor toegejuig. Die liedjies wat vir elke graad en klas gekies is, is mooi afgewissel van moderne musiek tot musiek wat die oumas en oupas mee kon assosieër. Dus is daar vir oud en jonk voorsiening gemaak om die konsert terdeë te geniet. Die uitstekende beligting en klank, die asemrowende kostuums en professionele grimering het elke aand perfek afgerond. Ons streef in alles wat ons by die skool doen na uitnemendheid en dit is presies wat ook tydens die konsert gebeur het. Baie dankie aan al ons mammas se hulp met die grimering en maak van die ongelooflike kostuums. Die detail daarvan was verstommend.
- Op Saterdag, 14 September, het 19 van ons leerders aan die jaarlikse WOW-spelkompetisie se provinsiale rondte te Wellington deelgeneem en soos oudergewoonte stof in die ander skole se oë geskop. Baie geluk aan die volgende drie leerders wat vir die Nasionale Kompetisie op 28 September te Stellenbosch gekwalifiseer het:
- Graad 4: Maia du Toit
- Graad 6: Katryn Silvis en Amelie van der Walt
Baie dankie juf. Ilse-Marie vir al jou hulp in die verband.
- Op kulturele gebied oefen biede die senior- en junior koor die afgelope kwartaal baie hard onderskeidelik onder die bekwame leiding van Leon Starker en mnr. Ben om slaggereed vir verskeie optredes gedurende volgende kwartaal te wees. Ons senior koor het veral die afgelope kwartaal baie hard aan stemtegnieke gewerk om helder koorklank voort te bring asook om stembou, gehoorontwikkeling, musiekwaardering en koordissipline aan te spreek. Ons sien baie uit na beide kore se optredes in kwartaal 4.
- Vandag ontvang elke leerder ook hul skoolrapport om erkenning aan hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal te gee. Dit was ‘n groot voorreg om elke rapport te kon teken met ‘n baie kort persoonlike boodskappie vir elke leerder. Graag wil ek vir al ons leerders en opvoeders spesiaal gelukwens en hartlik bedank vir die kollektiewe poging tot die suksesvolle akademiese-, kulturele- en sportprestasies tydens kwartaal 3. Vandag is die Top 10 Gr. 7-akademiese presteerders vir kwartaal 3 in die saal aangewys. Baie geluk aan die volgende leerders (alfabetiese orde) wat elkeen ‘n spesiale sertifikaat ontvang vir hul harde werk en toewyding:
Daniella Boshoff
Izzy du Plessis
Hila Hertzog
Anna Louw
Isabella Marais
Michaan Naylor
Jessica Schincariol
Emma Snijders
Ané Swanepoel
Stella Zulch
Bogenoemde is maar enkele hoogtepunte van ‘n baie suksesvolle kwartaal. Ek glo dat die hele skoolgemeenskap uitsien na die welverdiende vakansie, al is dit baie kort gaan dit help om die spreekwoordelike batterye te herlaai voor ons die pylvak van die laaste kwartaal aandurf.
Op Sondag, 15 September om 14:00 het Cape Ballet Centre ‘n ongelooflike produksie, naamlik “Cirque Du Ballet’’ in die Baxter aangebied. Heelwat van ons skooldogters het aan die wêreldklas produksie deelgeneem. Ek was so bevoorreg om dit te kon bywoon met kaartjies wat die dogters spesiaal vir my en my vrou uit hul eie sakke gekoop het – dit was baie kosbaar! Opvallend was ook die ondersteuning van ons skoolgemeenskap tydens die vertoning met verskeie van ons mammas en dogters wat dit bygewoon het om die Jannie-deelnemers te ondersteun. Weereens ‘n bewys van die spesiale etos, ondersteuning, aanmoediging en omgee binne ons skoolgemeenskap.
Laat my asseblief toe om ons toegewyde personeel hartlik te bedank vir hul harde werk en toegewydheid, maar veral vir hul omgee-harte om seker te maak ons Jannies kry geleenthede om hul volle potensiaal te bereik. Graag wil ek my Bestuurspan (EXCO) hartlik bedank vir hul harde werk en toegewydheid die afgelope kwartaal om die skool operasioneel uiters effektief te help bestuur. Hartlike dank aan ons dinamiese Beheerraad vir hul kosbare tyd en puik insette om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag sal gaan. Laat my ook toe ons voorsitter van ons Beheerraad, Merwe Scholtz, hartlik geluk te wens met sy verjaardag van 19 September. Mag dit ‘n geseënde lewensjaar wees vol voorspoed en sukses. Baie dankie vir wat jy alles as Voorsitter van die Beheerraad vir ons skool doen en beteken!
Graag sluit ek af met ‘n uiters dankbare hart teenoor ons ouers/voogde wat ons weereens die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Ek waardeer jul betrokkenheid en omgee by die skool, maar veral in jul kinders se lewens. Betrokke ouers/voogde verseker suksesvolle skole wat altyd van krag-tot-krag sal gaan. Mag ons die spesiale etos en kultuur om net jouself te wees by ons trotse skool nog tot in lengte van dae koester. Dus sluit ek met die volgende bekende aanhaling van G.K. Chesterton af en mag ons altyd ons spreekwoordelike dankbaarheidsbrille dra.
Ek wens vir julle ‘n wonderlike vakansie toe. Veilig reis! Ek sien uit om julle almal op Dinsdag, 01 Oktober, weer terug by die skool te verwelkom. Dra asseblief my groetwense aan jul kinders oor.
‘’When it comes to life
the critical thing is
whether you take things for granted
or take them with gratitude.’’
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF