Kategorie: Algemeen

/ Algemeen, Nuus

Dit was ‘n besonderse mooi gebaar en ons wil graag vir Ashlyn-Beth uitsonder. Sy het die inisiatief geneem om ‘n besem te leen om die vierkant na Markdag voor die vakansie skoon te vee. Sy het dit met die vriendelikste glimlag en mooiste gesindheid gedoen. Dankie Ashlyn-Beth, jy inspireer ons Jannies en maak ons trots!

/ Algemeen

Alle bekers wat tydens 2020 se prysuitdeling ontvang is, moet so gou as moontlik (reeds gegraveer) teruggebring word. Die bekers kan by juf. Annami Gerber (biblioteek) ingehandig word.

/ Algemeen, Nuus

Om aan die WKOD en nasionale regulasies te voldoen, moet Laerskool Jan van Riebeeck ons ouers / voogde 30 dae kennis gee van die jaarlikse skoolgeld- en begrotingsvergadering. Neem asseblief kennis dat dit op Maandag, 8 November 2021, om 18:00 in die skoolsaal sal plaasvind. Volg die SKAKEL vir meer inligting.

/ Algemeen, Nuus

Oktober, die mooiste, mooiste maand… Só besig C. Louis Leipoldt dit in sy bekende gedig.

“Viooltjies in die voorhuis – Viooltjies blou en rooi! Viooltjies orals op die veld, en orals ai, so mooi!”

Die bogenoemde gedig bevestig net weer die prag en praal in ons Afrikaanse literatuur. Watter ander taal kan homself so mooi uitdruk: Daar word oor koeitjies en kalfies gepraat terwyl ons heerlik boeretroos op ‘n koue oggend geniet of die laventelhaan val homself disnis! Ons is trots Afrikaans en min tale is so kleurryk en flambojant soos Afrikaans!

Met die aanbreek van Oktober kom ons aan die einde van kwartaal 3. Dit was ‘n besige kwartaal met verskeie uitdagings, maar ons Jannies, ouers/voogde en personeel het in alle opsigte met vlieënde vaandels geslaag. Die kwartaal se akademie word tradisioneel gekenmerk deur verskeie take en opdragte wat vir punte voltooi moes word. Baie dankie vir al ons ouers/voogde se waardevolle insette in die verband. Ons kon darem ook ‘n bietjie wintersport beoefen en ons Jannies het die spandeelname, wat vir so lank taboe was, terdeë geniet. Baie dankie aan al ons opvoeders en afrigters vir hul leeue aandeel om wedstryde en toernooie vir ons Jannies moontlik en genotvol te maak.

Die laaste week by die skool was vol opwinding met musiekkonsert, kultuurkaskenades, Woord-Makietie en die personeel wat netbalwedstryde teen die o/13-dogterspanne gespeel het. Ek was deel van die onderwyserspan wat teen die o/13A-netbalspan op Woensdag gespeel het. Alhoewel ons gewen het, is ek seker dat ons met hordes voetfoute weggekom het. Hierdie jaarlikse hoogtepunt het in die vierkant afgespeel met al die Jannies wat rondom die baan en vanuit die skoolgebou beide spanne luidkeels aanmoedig. Opvallend is die besondere gees wat tydens die wedstryde geheers het. Die kameradie onder die Jannies en personeel is ‘n riem onder die hart. Die ongelooflike verhouding tussen personeel en leerders is een van die kosbare elemente wat JvR uniek maak. Ek is so trots om deel van ‘n skool te wees wat sy leuse en waardes uitleef.


Graag wil ek die musiekdepartement hartlik bedank vir die suksesvolle aanbieding van die kultuurkaskenades asook die musiekkonsert. Baie dankie Helecia, Ben en Estelle vir julle passie en toegewydheid asook dat julle deurgaans ‘n baie hoë standaard handhaaf wat ons van baie ander skole onderskei.

Op Woensdag, 29 September, het ek ook die voorreg gehad om die Hoofseun en Hoofdogter van 2021 bekend te maak. Die verkiesing van ons hoofleiers het op 27 tot 28 September plaasgevind. Dit is dan vir my aangenaam om met julle te deel dat Héloïse Strauss as die hoofdogter en Danny Newton as die hoofseun aangewys is. Baie dankie aan hul onderskeie ouers wat die spesiale geleentheid kon bywoon om hul balkies aan te steek. Dit was spesiaal. Baie geluk aan ons hoofleiers. Ons beste wense vergesel hulle twee vir die groot taak wat voorlê.

Ons skoolpersoneel is ook die week getrakteer deur die OOV om onder andere Onderwysersdag (5 Oktober) te vier. Graag wil ek Ria Hertzog en haar span bedank vir die groot bederf. Die opvoeders was heerlik bederf met ‘n wynproe-aanbieding by Ria se huis wat deur een van ons ouers, René Groenewald, aangebied is. Die algemene werkers is ook bederf met ‘n besoek aan die Twee Oseane Akwarium. Baie dankie Ria en die OOV vir die heerlike bederf.

Die afgelope week het Khanyiso wat ‘n koffiestalletjie by Huppelland bedryf ook sy dienste by die laerskool beskikbaar gestel. Graag versoek ons dat julle hom sal ondersteun sodat hy op ‘n permanente basis vroegoggend vir ons kwaliteit boeretroos kan voorsien om die dag op die regte noot te begin. Verder deel ek ook die goeie nuus dat ons beplan om die Oktober-vakansie die grondslagfase se seunsbadkamer ook soos die res van die leerders se badkamers op te gradeer.


Ek sal my plig versuim indien ek nie die personeel hartlik bedank vir hul harde werk, passie, toegewydheid en lojaliteit om te verseker dat ons Jannies skoolgaan geniet. Dit is vir my uiters belangrik dat ons leerders skool toe wil kom, want dit is lekker, leersaam en inspirerend. Hou vol met die puik werk en omgee. Dit is kosbaar en gaan nie ongesiens verby nie! Baie dankie ook aan ons Beheerraad vir hulle tyd, betrokkenheid en waardevolle insette om te verseker dat die skool van krag-tot-krag gaan.

Ek wens vir julle ‘n wonderlike Oktober-vakansie toe. Veilig reis vir die wat weggaan, lekker rus en wees veilig. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling wat verwys na die mooiste maand van Oktober:

“A beautiful day
begins
with a
beautiful mindset”

/ Algemeen, Nuus

Leerders wat belangstel om Vrydag, 1 Oktober, ‘n tafel te bestuur of beman, kan vanaf Maandag R15 op die Karri-toepassing betaal.

Produkte moet van so ‘n aard wees dat leerders dit self skool toe kan dra, aangesien ouers nie op die perseel toegelaat word nie. Leerders is verantwoordelik vir hul eie kleingeld en geen lewende hawe mag verkoop word nie.

Die markie sal vanaf 09:00 tot 09:45 bedryf word.

/ Algemeen, Nuus

Die skoolbestuur wil graag weer ons ouergemeenskap se mening oor allerlei sake inwin. Dus wil ek julle vriendelike versoek om aan ons meningspeiling deel te neem. Dit is maklik en gou om in te vul. Die sperdatum is 22 Oktober 2021 en jy is welkom om anoniem te bly.

Dankie!
Naas Beets

/ Algemeen, Nuus

Ons sluit week 8 van kwartaal 3 af met die begin van ‘n heerlike langnaweek as ‘n welkome meevallertjie. Die beste deel van die langnaweek is natuurlik dat Vrydag, 24 September, Erfenisdag is, ook bekend as Nasionale Braaidag. Ons vier jaarliks Erfenisdag waar Suid-Afrikaners as ‘n reënboognasie aangemoedig word om hul eie kultuur te gedenk. Erfenisdag gaan nie net oor eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar eerder ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen. Dit sluit elemente van nasionale eenheid, nasiebou en belangrik, versoening in. Die doel is juis om ons jeug aan te moedig om ons gedeelde erfenis in ere te hou. Sedert 2008 word Nasionale Erfenisdag deur Jan Braai onder die vaandel van Braai vir Erfenis as nie-winsgewende inisiatief bemark. Ek glo dat meeste van julle ook op die spesiale dag ‘n groot vuur gaan aansteek en ‘n lekker stukkie vleis (skaapkotelette, beeshaas, sosaties, hoender, vis, braaiwors, ens.) oor die oop kole braai.

Verlede Vrydag het die Gr.5-leerders vir Geskiedenis ‘n opwindende Egiptedag gehou. Hulle het geklee soos ware farao’s, mummies, Cleopatras, soldate, goeweneurs, slawe of adelikes skool toe gekom. Baie dankie aan juf. Mardry vir die wonderlike inisiatief asook die toekenning van pryse aan die leerders wat die beste geklee was. Ons leerders geniet die deel van die kurrikulum terdeë en kan nie uitgepraat raak oor die teorieë rakende die bou van die piramides en sfinkse nie. Die proses van mummifikasie, die geheimsinnige hiërogliewe asook die legendariese Toetankamen en Koningin Nefertiti fassineer ons leerders geweldig en dit is lekker om te sien hoe hulle entoesiasties oor antieke Egipte praat.

Ons skool se waarde vir die maand is selfbeheersing. Ek glo selfbeheersing is om vir jouself duidelike grense te stel en daarby te hou. Hierdie is beslis ‘n uitdagende waarde om uit te leef veral tydens die ongekende tyd van die pandemie. Die drakoniese reëls tydens die grendelperiodes het ons baie ingeperk en die moderne Suid-Afrikaner het maar ‘n broertjie dood aan voorskriftelikheid. Dus om jouself vandag tydens die pandemie te beheer, is geen geringe taak nie. Aristoteles het gesê: “Die mens wat sy eie drange kan afdwing, is moediger as die wat baie vyande oorwin het.” Wat kan ons doen as volwassenes om ons kinders te help as dit by selfbeheersing kom? Ek dink om die voorbeeld te stel, is uiters belangrik. Sien ons kinders dat ons, ons humeur in ‘n verkeersknoop totaal en al verloor of in die winkel as iemand by ‘n ry indruk? Die beste raad om ons kinders te help om selfbeheersing aan te kweek, is om dit self te toe te pas. Dit is ook belangrik dat ons, ons kinders leer dat hul dade gevolge het. Prys jou kind wanneer hy/sy selfbeheersing toegepas het. Gebruik rolspel indien nodig om potensiële situaties na te boots en help hulle om daarop ‘korrek’ en geduldig te reageer. Sterkte, ons kan almal hierby leer!

Die skoolbestuur wil graag weer ons ouergemeenskap se mening oor allerlei sake inwin. Dus wil ek julle vriendelike versoek om aan ons meningspeiling deel te neem. Dit is maklik en gou om in te vul. Die sperdatum is 11 Oktober 2021 en jy is welkom om anoniem te bly.

Ek wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe, lekker braai, wees veilig en graag sluit ek af met die volgende aanhaling deur Ralph W. Emerson:

“What you do
speaks so loudly
that I cannot hear what you say”

/ Algemeen, Nuus

Die uitkomtye vir volgende week is as volg:

Maandag
Normale tye geld.

Dinsdag
12:45 (Gr.1-3)
13:00 (Gr.4-7)
Bus vertrek 13:05

Woensdag
12:45 (Gr.1-3)
13:00 (Gr.4-7)
Bus vertrek 13:05

Donderdag
12:45 (Gr.1-3)
13:00 (Gr.4-7)
Bus vertrek 13:05

Vrydag
10:30 (Gr.1-3)
10:45 (Gr.4-7)
Bus vertrek 10:50

/ Algemeen, Nuus

Weens die feit dat die land op ‘n grendelvlak 2 is, het ons besluit dat ons graag ‘n proeflopie wil loods. Daar sal tydens die week van 27 September tot 1 Oktober ‘n opelug koffiekroeg-fasiliteit by die klerebank beskikbaar wees. Ouers mag uit hul motors klim, maar moet maskers dra en kan ongelukkig nie in die skoolgebou kom nie.

Die koffiekroeg is soortgelyk aan die koffiekroeg by Huppelland en dit sal vanaf 07:00 – 09:00 oop wees. Daar sal stoele en tafels buite wees om jou koffie te geniet met die ikoniese Tafelberg in die agtergrond. Ouers kan ook ‘n wegneem-koffie bestel. Kaartfasiliteite en Snapscan sal beskikbaar wees. Die skoolhoof sal moeite doen om bietjie tyd saam met ouers daar te spandeer. Baie dankie vir julle ondersteuning en ons glo dat julle daarvan gebruik sal maak.

/ Algemeen, Nuus

Let asb. daarop dat die skool volgende week Donderdag, 23 September, vroeër sal sluit. Gr.1 – 3 verdaag om 12:45 en Gr.4 – 7 om 13:00. Die bus sal om 13:05 vertrek en die Nasorg sal oop wees.

/ Algemeen, Nuus

Dit is veronderstel om heerlike en sonnige lenteweer te wees, maar in die Moederstad het ons gou geleer dat Lentedag mag dalk volgens die kalender vir die res van die land op 1 September haar verskyning maak, maar meer hier onder die ikoniese Tafelberg met haar magiese uitsig is dit vir ons stadbewoners gewoonlik eers vanaf 1 November beskore. Moet dus nog nie die snoesige winterklere wegpak nie en maak seker jou kaggelhoutvoorrraad is voldoende vir nog ‘n maand of wat.

Vanaf Donderdag, 9 September, tot Saterdag, 11 September, het ons Jannies te heerlik aan ons wintersportafsluiting deelgeneem. Die stralende gesiggies was beslis ‘n klinkslae bewys dat die wintersportafsluiting ‘n reuse sukses was en dat hulle dit terdeë geniet het om saam met hul maats aan spansportaktiwiteite deel te neem. Ek het die voorreg gehad om ook op Saterdag die Gr.1’s se heel eerste netbalwedstryd by te woon. Al was dit net ‘n interne wedstryd, het die Gr.1’s gespeel asof hul lewens daarvan afhang. Dit was so spesiaal en hul ouers het vanaf ‘n afstand die dogters luidkeëls ondersteun. Ek was ook bevoorreg om Saterdagoggend ons o/13A-netbalspan onder leiding van juf. Ischké by die jaarlikse Wes-Kaap Topskole Toernooi te Laerskool Bastion in Brackenfell te ondersteun. Hulle het teen baie sterk kompetisie te staan gekom en 2 uit 3 wedstryde gewen. Ek is so trots op die span wat met waardigheid uit die stryd getree het en as ware ambassadeurs vir ons trotse skool opgetree het.

Die program vir die wintersportafsluiting was ook so opgestel dat ons Jannies aan beide die wintersport en die Eisteddfod kon deelneem. Verskeie van ons Jannies het aan die spraakkuns op 10 en 11 September deelgeneem. Ons is so trots op die merkwaardige uitslae! Baie dankie juf. Jana en onderskeie klasonderwysers vir jul leeue-aandeel tot ons Jannies se suksesvolle optredes.

Terwyl ons op Saterdag, 11 September, heerlik aan sport en Eistedfodd deelgneem het, was dit ook die twintigste herdenking van die 9/11-tereuraanvalle. Ek kan amper nie glo dit was 20 jaar gelede nie. Meeste van ons het heeltemal van die skokkende gebeurtenis vergeet, maar hoe kan ‘n mens ooit die traumatiese dag met die terreuraanvalle op die bekende World Trade Center Twin Towers en die Pentagon vergeet. My eerste reaksie was soos menigte wêreldwyd, geskok en in ongeloof van wie so braaf kon wees om die magtige VSA aan te val. Dit was die eerste aanval op die Amerikaanse souwereine gebied sedert Pearl Harbour deur die Japanese in 1941. Ons meegevoel gaan uit aan die duisende onskuldige mense wat die dag tragies gesterf het en ek glo die nadraai van die 9/11-tereuraanvalle word vandag nog gevoel.

Die feesboek is in wording en ek kan nie meer wag om die meesterstuk te lees nie. Die afgelope week is daar indrukwekkende feesfoto’s deur Anel Duncun en Keith Quixley geneem wat die feesboek gaan verfraai. Baie dankie aan juf. Marinda wat die spesiale feesboek beplan en met entoesiasme bestuur. Hou die spasie dop, hier is iets spesiaals op pad wat die geskiedenis en tradisies van ‘n 100 jaar in ‘n pragstuk gaan ontluik.

Groot was die opwinding met die jaarlikse kunsuitstalling by Huppelland vanaf 14 – 16 September 2021. Die tema vanjaar was KUNSTENAARS en dit het die geleentheid geskep vir ons dierbare Huppellanders om kreatief te wees, hulself uit te leef en vryheid aan hul skeppingsvermoë te gee. Die kinderkunswerke was professioneel uitgestal in ons klubhuis en die spesifieke kunstenaars wat gekies is, was so gepas by die ouderdomsgroep. Die Gr.0- leerders het Marc Chaggal gekies. Hy skilder in helder kleure en skilder veral huise, mense en diere. Die Gr.00-leerders het Paul du Toit gekies. Hy het gespesialiseer in skilderkuns, papier en gemengde media, maar veral beeldhouwerk. Die Gr.R’e het Martina Shapiro gekies. Sy gebruik ook graag helder kleure en abstrakte vorms om emosies en passie uit te leef. Baie dankie aan al die Huppelland-personeel vir hul besonderse geduld en moeite om die sukses daarvan te verseker. Die kwaliteit van die kunswerke is verstommend! Jul harde werk, toegewydheid en omgee gaan nie ongesiens verby nie.

Graag wil ek afsluit en tydens ongekende tye darem vir ‘n slag ook goeie nuus rakende ons personeel met julle deel. Baie geluk aan mnr. Leon en juf. Razelle wat binnekort ‘n nuwe lid tot die gesin ryker gaan word. Ons glo dat dit ‘n gesonde en spesiale swangerskap sal wees.

Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe, wees veilig en graag sluit ek met die volgende aanhaling deur die legendariese Winston Churchill af:

“Success is not final
failure is not fatal,
it is courage to continue
that counts”

/ Algemeen, Nuus

Op kort kennisgewing het ons besluit om ‘n foto vir ons Feesboek te neem met leerders, ouers en onderwysers wat tans by LS JvR en Huppelland betrokke is wie se kinders, ouers en/of grootouers ‘n familieverbintenis met hierdie mooi skool het – iets wat ons voorwaar op ‘n foto moet vasvang. Ons moet darem die mooi van generasies by LS JvR op hierdie manier vier! Ons neem die foto op Donderdagoggend, 23 September 2021, om 07:30 agter op die skool se veld. Versprei gerus die woord!

Belangrike Datums

augustus 2026

02aug(aug 2)16:0004(aug 4)17:00EXCO-Strat

03aug00:0023:59EXCO-Strat

03aug(aug 3)00:0008(aug 8)23:59Hs JvR JanArte Kunstefees

03aug18:0018:00Hs JvR - Tafelbergkoorfees

04aug00:0023:59Rugby: o.9 & o.13 Bishops (WEG)

04aug00:0023:59EXCO-Strat

04aug18:0018:00Reddam Sings - Junior Koor (Constantia)