Kan julle glo, vandag is dit reeds die 2de week nadat die skool sy deure vir die akademiese jaar geopen het. Tyd vlieg ongelooflik vinnig verby. Roetine word weer stadig maar seker deel van ons leerders se daaglikse lewe en dit is verblydend om die stralende gesiggies te sien wat soggens by die skool opdaag.

Vandag is ‘n baie spesiale dag, want vandag is dit Jannies Jooldag om die 100 + 1 bestaansjaar van ons trotse skool te vier. Die pandemie het ons feesvieringe in 2021 totaal bederf, maar vandag beplan ons om die spreekwoordelike rooi tapyt uit te rol wat verskeie pret aktiwiteite insluit om ons Jannies te bederf. Aktiwiteite sluit in waterglyplank, “putt-putt”, hindernisbaan en sportkaskenades vir die gronslagfase leerders terwyl die Graad 4 tot 7-leerders met swemkaskenades, balspeletjies, sportkaskenades, toutrek en “minute to win it” vermaak gaan word. Ek glo die Jannies gaan hul gate uit geniet en hou gerus die JvR-Kiek dop vir foto’s. 100 + 1 Feesvieringe vir ouers/voogde geskied dan op Maandag, 31 Januarie, vanaf 18:00 by die skool met ‘n spog kunsuitstalling van die leerders se kunswerke wat die 100 jaar se geskiedenis en ryk tradisies van die skool uitbeeld. Moet asseblief nie die spoggeleentheid misloop nie.

Volgende week skop ons met die buitemuurse program af. Ek doen ‘n beroep op al ons leerders om aan al die sport- en kultuuraktiwiteite deel te neem. Ons weet almal dat buitemuurse aktiwiteite fiksheid, konsentrasie, deursettingsvermoë, dissipline, spierontwikkeling en samehorigheid ontwikkel.

Baie dankie aan ons ouers wat so getrou die afgelope week die ouerinligtingsaande bygewoon het. Graag daag ek julle uit om aktief betrokke by jou kind se skoolwerk te wees. Betrokke ouers verbeter hul kind se skoolprestasies en die kinders voel akademies meer bekwaam. Belê in jou kind se toekoms deur tyd te maak met jou kind rakende sy/haar skoolwerk. As skoolhoof verstaan ek die waarde wat betrokke ouers se waarde is. Onthou dat my deur altyd oopstaan.

Vandag is dan ook my 2de verjaardag by die skool wat dié dag nog meer spesiaal maak. Ek is egter bekommerd dat die leerders dink die spesiale Jooldag is deel van my verjaardag, want dan skep dit ‘n verwagting dat die pret aktiwteite elke jaar op my verjaardag gaan geskied.

Op Dinsdag, 25 Januarie, het ons weer met normale saalbyeenkomste begin wat voorheen met die pandemie nie moontlik was nie. Dit was dan my voorreg om die Intersenfase leerders (Gr. 4 – 7) en personeel toe te spreek. My boodskap het oor dankbaarheid gehandel. Volgens die HAT is dankbaarheid die gevoel van waardering wat ‘n mens tevredenheid gee. Ek versoek ons hele skoolgemeenskap om te probeer om met meer dankbaarheid te leef, veral met die lesse wat die pandemie wat ons die afgelope tyd geleer het. Ek glo verder dat dankbare mense gelukkige mense is en gelukkige mense is diensbaar tot die mensdom. Kom ons maak ‘n gewoonte om mense te bedank, want om dankie te sê is ‘n erkenning aan die mensdom.

Ons is so dankbaar dat dit baie beter met Kolya gaan aangesien hy nie meer in die Hoë Sorgeenheid van die hospitaal is nie. Ons bid vir sy spoedige en volkome herstel.

Graag sluit ek af met die bekende aanhaling van Mary Davis:
“The more grateful I am, the more beauty I see.”

Geniet die naweek!
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF