Week 3 van die akademiese jaar het op ‘n baie warm en bedompige Maandagoggend afgeskop met ‘n aangename verrassing vir ons leerders aangesien ons skool op 31 Januarie 101 jaar oud is. Ek het spesiaal met Martin Venter, Meesterkannonier van die Suid-Afrikaanse Kannonier Vereninging, gereël om met sy miniatuur-kanon x10 skote agter op die sportveldjie ten aanskoue van ons leerders en personeel te kom afvuur ter herdenking van ons 100ste bestaansjaar. Elke skoot het 10 jaar verteenwoordig. Hy het ook sy kennis rakende al die geskiedkundige kannonne in Suid-Afrika met ons gedeel en die leerders het dit baie interessant en leersaam gevind.

Feesvieringe is verder die aand voortgesit met heerlike samesyn van ouers/voogde en vriende van die skool tydens ons 100 + 1 Feesvieringe. Vanaf 18:30 kon ons ouers/voogde deur die skool se gange stap om die spog kunsuitstallings van die leerders se kunswerke wat die 100 jaar se geskiedenis en ryk tradisies van die skool uitbeeld, te besigtig. Smaaklike etes is ook die aand voorsien en groot opgewondenheid het onder ons ouers/voogde geheers om weer ‘n slag lekker saam te kon kuier. Baie dankie aan Marinda wat die afgelope 2 jaar agter die skerms die feesvieringe en ‘n spogstuk van ‘n feesboek beplan het. Graag wil ek die OOV, onder leiding van Ria Hertzog hartlik bedank vir die puik reëlings vir die spesiale geleentheid. Baie dankie ook aan Stephanie le Roux wat kom hand bysit het om te verseker dat alles klopdisselboom verloop tydens die spesiale okkasie.

Laat my dan ook toe om almal te bedank vir my mooi verjaarsdagwense, boodskappe en geskenke. Die personeel, prefekte en die leerders het my tot in die afgrond bederf. Ek is so bevoorreg, want elke Jannie het vir my ‘n spesiale verjaarsdagkaartjie gemaak met ‘n verjaarsdagwens – dit is so kosbaar! Ek sal die spesiale dag nooit vergeet nie. Vrydag, 28 Januarie, was nie net my verjaardag nie, maar het ook gepaard gegaan met die Jannies Jooldag. Die Jannies was omtrent in die 7de hemel met al die pret-aktiwiteite op die spyskaart en het seker gedink dit is deel van die skoolhoof se verjaardag.

Hierdie week het ons buitemuurse program ook afgeskop om ons leerders vir die somersportkodes voor te berei. Ongelukkig het die weer nie op Woensdag, 2 Februarie, so lekker saam gespeel nie en is van ons tenniswedstryde ongelukkig gekanselleer as gevolg van die ongure weer. Die koeler en nat weer na die naweek en Maandag se hittegolf het egter ‘n groot lafenis vir mens en dier gebring.

Op Dinsdag, 1 Februarie, het Benita Smit (Hoof van Grondslagfase) vir die Grondslagfase ‘n pragtige boodskap rakende die korrekte gebruik van woorde in jou daaglikse kommunikasie met mense aan die die Grondslagfase leerders (Gr. 1 – 3) gebring. Skynbaar praat vrouens sowat 18 000 woorde per dag en mans slegs sowat 6 000. Ek weet ek beweeg nou op ‘n gevaarlike terrein! Kinders gebruik tussen 3 000 en 7 000 woorde per dag en dit is waar sy ons leerders aanraai om eerder positiewe woorde te gebruik as afbrekende woorde. Moenie woorde onnodig op ‘n destruktiewe wyse mors nie, maar eerder as opbouend – dit bring baie meer vreugde. Kom ons dink voor ons praat, want soos hulle sê: dit is baie keer nodig om eerder jou mond toe te hou sodat jou brein kan asemskep. My ma het my geleer: “Jy kan dink wat jy wil, maar jy kan nie altyd sê wat jy wil nie.”

Ons is so dankbaar dat dit baie beter met Kolya gaan aangesien hy uit die hospitaal ontslaan is en nou by die huis aansterk. Ons glo en vertrou hy sal binnekort by ons kan aansluit. Sy klasmaats mis hom baie en hulle glo dat hy sommer vinnig op die been sal wees.
Graag sluit ek af met die volgende woorde: “Woorde kan seer maak, heelmaak, saakmaak ….. Dink mooi voor jy praat!

Geniet die naweek!
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF