Die Beheerraad se eerste amptelike beheerraadsvergadering vir die jaar is Maandagaand gehou om te verseker dat ons trotse skool 2022 soomloos aanpak en van krag-tot-krag sal gaan. Graag wil ek by voorbaat ons Voorsitter, Merwe Scholtz, en die ouerkomponent van die beheerraad naamlik Izelle Venter (onder-voorsitter), Esri Marais, Marié Cruywagen, Andries Viljoen en Marili Thomson (Tesourier) hartlik bedank vir hul waardevolle insette asook die kosbare tyd wat hulle spandeer om die funksionaliteit van ons spogskool te verseker.

Op Dinsdag, 8 Februarie 2022, het 50 van ons atlete by Hoërskool Kampsbaai aan die Interskole Atletiekbyeenkoms wat deur die Duitse skool gereël is, gaan deelneem. Ons atlete het baie goed gevaar met 37 atlete wat na die volgende rondte vorder. Sien die uitslae onder die Sport afdeling in die nuusbrief. Dit was so jammer dat weens omstandighede buite ons beheer julle as ouers/voogde nie die byeenkoms kon bywoon nie. Ek het wel waargeneem dat van ons ouers vinnig ‘n plan gemaak het om vanuit ‘n ‘strategiese’- en hoër hoogte die byeenkoms op ‘n afstand dop te hou. Baie dankie aan ons opvoeders wat as beamptes opgetree het asook Razelle en Shahneé wat die administrasie van die hele byeenkoms hanteer het.

Op Woensdag, 9 Februarie, het verskeie tenniswedstryde asook ‘n o/11-krieketwedstryd plaasgevind. Graag wil ek die ouers/voogde komplimenteer wat die wedstryde weer so getrou begin bywoon om ons Jannies te ondersteun. Soos Rudi Badenhorst vir my Woensdag tydens die o/11-krieketwedstryd teen Laerskool Kampsbaai gesê het: Wat ‘n voorreg om as ‘n ouer weer na ‘n lang tydperk langs die sportveld te kan wees.” Ons is so dankbaar dat ons Jannies weer aan sportwedstryde en byeenkomste kan deelneem waar hulle dikwels onwetend belangrike lewenslesse leer. Sport is nie net goeie oefening nie, maar dit lei ook tot gesonde emosionele welstand wat kinders in die algemeen gelukkiger maak. Wees verseker dat ons vanjaar uit ons pad sal gaan om vir ons Jannies die geleenthede te skep om hul sporttalente uit te leef. Die ‘oordoen’ van die tennisbane langs die swembad is amper voltooi en ons behoort binnekort daarvan gebruik te maak. Behoorlike dreinering is ook ingesit om te verseker dat vog nie weer onder die oppervlakte opbou nie.

‘n Pluimpie vir ons afrigters is dat ons vanjaar 6 spanne vir die tennisliga ingeskryf het. Ek rig ‘n vriendelike versoek dat julle as ouers/voogde ons met die vervoer van veral die tennisspanne na en van die verskillende plekke kan help. Tenniswedstryde geskied op Woensdae saam met o/11-krieketwedstryde wat ongelukkig so deur die onderskeie unies bepaal word. Verder vind tenniswedstryde tuis en sover as die noordelike voorstede plaas wat dit logisties moeilik maak om al die spelers betyds by die verskillende plekke te kry. Baie dankie by voorbaat vir hierdie hulp.

Dit is dan ook vir my aangenaam om te deel dat die getalle by die nasorg vanjaar weer mooi opgetel het. Baie dankie aan Madri en haar span wat uit hul pad gaan om die nasorg lekker vir ons nasorgleerders te maak. Ek weet hulle beplan heelwat meer interessante aktiwiteite om die nasorgleerders te vermaak.

Vandag geskied die senior swemgala en ek glo ons Jannies gaan dit baie geniet.

Graag sluit ek af met die volgende woorde rakende dankbaarheid:

Dit is nie geluk wat ons dankbaar maak nie, dit is dankbaarheid wat ons gelukkig maak. Die pad na vrede loop deur die land van dankbaarheid.”

Geniet die naweek!

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF