Kategorie: Algemeen

/ Algemeen, Nuus

Die afgelope week was daar twee openbare vakansiedae. Vorige jare het dit altyd met ‘n lekker langnaweek gepaard gegaan, maar ongelukkig mis ons vanjaar op die meevallertjie uit. Ek dink dit is ook belangrik dat ons nie sommer net die betekenis van die twee openbare vakansiedae miskyk nie. Daar word elke jaar op die 27 ste April Vryheidsdag in Suid-Afrika gevier. Vryheidsdag is ‘n belangrike dag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis daarom is dit belangrik om ons kinders daaroor te leer asook om die waarde daarvan te verduidelik. Vryheidsdag is juis ingestel om die eerste postapartheid verkiesings te vier. Dit is daarom ‘n viering van vryheid vir alle Suid-Afrikaners. Laat ons nooit vergeet dat die eerste nasionale verkiesing op 27 April 1994 in Suid-Afrika plaasgevind het waar elke persoon bo die ouderdom van 18 kon stem, maak nie saak watter ras hulle was nie.

Verder is daar op Woensdag, 01 Mei, ook Werkersdag in Suid-Afrika gevier om die werkers van ons land te huldig vir die harde werk wat hulle verrig asook die soeke na regverdige indiensneming, die vestiging van menseregte en werkerregte in die werkplek. Werkersdag het sy oorsprong in die internasionale stryd van werkers en hul vakbonde vir solidariteit tussen werkers asook die regverdige behandeling van werkers. Hiermee wil ons, ons personeel en almal in ons skoolgemeenskap salueer wat hard werk om nie net ‘n verskil in ons gemeenskap te maak nie, maar ook ‘n groot bydrae tot die onderwys asook die Suid-Afrikaanse ekonomie bewerkstellig sodat daar meer werksgeleenthede vir werklose mense geskep kan word. Dit is so hartseer om die stryd te sien wat haweloses daagliks in ons Moederstad moet voer net om te oorleef. Kaapstad en die res van Suid-Afrika word tans gekonfronteer met ‘n reuse uitdaging van haweloosheid. Die getal hawelose mense in die stad word daagliks meer-en-meer en moet tussen motors by verkeersligte loop en bedel net om ‘n geldjie te kry om hul hongerpyne te stil. Ons hoop en vertrou dat die plaaslike-, provinsiale- en nasionale regering die behoeftiges in ons land se nood spoedig sal aanspreek voordat die probleem tot ‘n punt van onomkeerbaarheid bring. Weereens kan ons so dankbaar wees om net ‘n dak oor die kop te hê en kos op die tafel vir ons geliefdes te plaas.

Die bouprojek op die skool se tweede vloer regoorkant die gr. 6 en 4-klasse om ons eie volwaardige leerontwikkelingsentrum te skep, het volgens plan afgeskop. Heelwat van die binnemure van die sportkantoor, Marinda en Suzaan se ‘ou’ kantore en die afrolkamer is deurgebreek. Die van julle wat die afgelope week netbalwedstryde op die hoofnetbalbaan in die vierkant gekyk het, sou beslis die deurbreek na buite bokant my kantoor waargeneem het. Die kontrakteurs werk middae vanaf 15:00 – 23:00 en dus word die funksionaliteit van die skool glad nie deur die bouwerk geaffekteer nie. Die kontrakteurs werk baie netjies en daar is ‘n uitstekende veiligheidsplan in plek om die veiligheid van ons leerders, ouers, voogde en personeel te verseker. Ons kan nie meer wag dat daar genoegsame spasie gaan wees om leerders met spesifieke uitdagings (akademiese, emosionele en sosiale) beter te ondersteun en te bemagtig nie. Die opwindende projek behels ook onder andere die sentralisering van ondersteuningsdienste in een gang met meer moderne en goed toegeruste lokale waar ons al die terapeute, opvoedkundige sielkundige en leerontwikkelingspersoneel kan akkommodeer.

Dan wil ek graag vir die sportkantoor in die bresse tree wanneer dit kom by die reël van wedstryde vir ons wintersporte. Mnre. Leon en Rashard gaan werklik uit hul pad om vir al die wintersportspanne wedstryde te reël, maar ons is totaal afhanklik van die opposisie om ons van spanne te voorsien. Skole onttrek dikwels hul spanne op dieselfde dag van die wedstryde en dit maak dit so moeilik om te bestuur. Hou ook verder ingedagte dat wanneer dit by die kies van juniorspanne kom, word die A-span op meriete gekies, terwyl die B- en C-spanne roteer om almal ‘n speelkans te gee. Ons probeer regtig ons bes om vir almal genoeg speelkans te gee.

Graag sluit ek weer af met ‘n opvolg dankbaarheidsjoernaal, hierdie keer in Engels, en ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met jul geliefdes toe:

“Gratitude is when memory is stored in the heart
and not in the mind”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

/ Algemeen, Nuus
Fotobestellings: Klas- en individuele foto's 2024

Ons foto’s wat in kwartaal 1 geneem is, is gereed om bestel te word.

  • Webtuiste: Lunchbox Photography
  • Wagwoord: JVR2020
  • Lees asb. die instruksies om te bestel op die foto hier onder ingesluit.
  • Bestellings wat voor 24 Mei 2024 op die webtuiste geplaas en betaal word, kry gratis aflewering by die skool.

/ Algemeen, Nuus
  • 10 Mei 2024 tydens eerste pouse.
  • Items vanaf R15 tot R50 te koop.
  • Ten bate van die graad 7-fonds 2024.

/ Algemeen, Nuus

Woensdag, 1 Mei, is Werkersdag en sal daar nie skool wees nie.

/ Algemeen, Nuus

Alhoewel dit amper ‘n week later is, bly Kaperjolle steeds op almal se lippe. Hierdie jaarlikse en gewilde pretdag het op Saterdag, 20 April, plaasgevind en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se kalender. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk. Die leerders het hulle gate uit geniet en ‘n hoogtepunt was om die ‘skrikwekkende’ spookhuis te besoek. Leerders het in lang rye gestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ‘n kans is dat ‘n sogenaamde spook aan jou been kan vat. Die spookhuis se gewildheid sal nooit oor die jare taan nie en sal vir geslagte nog kinders fasineer. Die spookhuis is vanjaar kreatief deur die leerderraad in die senior seuns se badkamers aangebied.

Verskeie van ons ouers het tydens kaperjolle aan die straatkoskompetisie deelgeneem. Hulle stalletjies was fraai versier. Ek was nie ‘n beoordeelaar nie, maar is in die afgrond bederf met smullekker happies van verskeie straatkosdisse. Die verskeidenheid disse was hemels en die kompetise was baie sterk. Baie geluk aan Marta se span wat met die louere weggestap het.

Die opkoms van ouers en kinders was verstommend en spreek weer boekdele van die karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Die weer het vanjaar perfek saamgespeel, met kostalletjies sonder einde, “live” musiek in die agtergrond, ‘n groot markiestent met gemaklike sitplek om heerlike kos en wyn te geniet. Hierdie kombinasie saam met omgee-mense maak die perfekte resep vir ‘n onvergeetlike ervaring. Ek is uiters trots en dankbaar dat ons ouers/voogde die skool in alle opsigte ondersteun en saam trots op ons puik skool is. Dit dra onder andere kollektief by dat ons skool net van krag-tot-krag gaan. Graag wil ek ons OOV-Voorsitter, Coreen Scholtz, en haar span asook al die ouers, voogde en personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die Kaperjolle te verseker, hartlik bedank.

Op Donderdag, 18 April, het ons jaarlikse Kleiduifskietkompetisie by die Gun Valley Skietbaan te Agter-Paarl plaasgevind. Die weergode het vanjaar besluit om nie soos in die verlede gure weer te stuur nie. Baie dankie aan Safari Outdoor wat jaarliks as die hoofborg optree. ‘n Hartlike dank aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat die gewilde dag vir die 4de agtereenvolgende jaar gereël het. Die geesdrif en samesyn onder ons ouers het soos ‘n paal bo water uitgestaan.

Op Maandagoggend, 22 April, het leerders, ouers/voogde en personeel ingespring om 1 400 toebroodjies vanaf 06:30 – 07:45 in die saal voor te berei wat ons aan minderbevoorregte skole dieselfde dag te Kunstekaap uitgedeel het. Weereens nog ‘n trotse oomblik om te sien hoe veral leerders bereid is om te help en hulle werklik omgee vir mense in nood. Die skole aan wie ons die toebroodjies oorhandig het, bestuur voedingskemas by hul onderskeie skole en is onder geweldige finansiële druk om hul leerders daagliks van kos te voorsien. Uit die aard van die saak het hulle ons bydrae opreg waardeer en kon ons dankbare glimlagte op verskeie van hul leerders se gesigte plaas. Dit laat my opnuut besef hoe bevoorreg ons as skoolgemeenskap is, want heel moontlik hoef ons nie te stres waar ons volgende maaltyd vandaan sal kom nie. Mag die gawe van dankbaarheid deel van ons lewe word as ‘n mens net weer besef wat God vir ons skoolgemeenskap uit genade doen.

Baie dankie aan ons vyf ouers (Merwe Scholtz, Hugo van den Heever, Susan van der Walt, Marié Cruywagen en Stephen Hitchcock) wat op ons nuwe Beheerraad dien vir hul teenwoordigheid tydens Dinsdag, 23 April, se saalbyeenkoms. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz, wat aan die leerders konteks gegee het rakende die rol van die beheerraad by die skool en hoe daar kollektief saam met die skoolhoof asook EXCO hard gewerk word om die skool na nog hoër hoogtes te neem tot voordeel van ons leerders.

Wêreldboekedag is ook ‘n hoogtepunt vir leerders en opvoeders en die week is dit behoorlik op Dinsdag en Woensdag by die skool gevier. Dit gee vir die leerders die geleentheid om soos hul gunsteling boekkarakter aan te trek. Ons leerders het die geleentheid behoorlik aangegryp en daar is ‘n skouspel van boekkarakters opgelewer om sodoende hul liefde vir boeke en hul gunsteling boekkarakters uit te leef. Leerders het van vroeg af vir my in my kantoor hul spoggerige kostuums kom wys. Baie dankie aan al ons ouers/voogde wat gehelp het met die maak van die pragtige kostuums sodat die boekkarakters letterlik lewendig kon word.

Laat my toe om die volgende leerders sterkte toe te wens vir die finale WP-Netbalproewe wat môre plaasvind:

  • Cato Terblance (o.11)
  • Anouk van der Linde (o.11)
  • Stella Pansegrouw (o.12)
  • Chanelle van Wyk (o.12)

Geniet die netbalproewe en wat ookal die uitslag mag wees, ons bly nog steeds baie trots op julle!

Ons skool is werklik geseënd in baie opsigte en dit gaan werklik baie goed met ons skool en Huppelland, daarom sluit ek af met die onderstaande dankbaarheidsjoernaal en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“As jy geluk wil vind,
vind eers Dankbaarheid.
Dankbaarheid is die tonikum
teen ontnugtering en bitterheid’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

/ Algemeen, Nuus

The World Needs a Father Evening
Met Cassie Carstens

Die rol van Pa-wees is nie ‘n maklike een nie, maar uiters belangrik vir ons kinders. Min van ons maak tyd om onsself te verbeter om ‘n beter pa te wees. Kom volgende Donderdag, ons gesels oor die doel van Pa-wees en wat ons kinders werklik nodig het.

/ Algemeen, Nuus

Die wintersportwedstryde is in volle swang en sommer binne die eerste 2 weke van die nuwe kwartaal is skoolaktiwiteite behoorlik aan die gang. Opvallend hoe die wintersportgeleenthede deur ouers/voogde asook oumas en oupas ondersteun word, amper asof dit die skoolgemeenskap nader aan mekaar bring en veral op ‘n Saterdag ervaar ‘n mens die positiewe sportgees en kameraderie onder ouers en voogde. Verlede Vrydagmiddag het ons o.13A hokkiespanne (seuns en dogters) aan ‘n hokkietoernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deelgeneem. Ons spanne het hulle baie goed van hulle taak gekwyt en graag maak ek melding van die dogters wat 2 van die 3 westryde gewen het en hul laaste wedstryde teen Laerskool Van Riebeeckstrand gelykop gespeel het. Ons seunspan het ook net 0 – 1 teen Laerskool van Riebeeckstrand verloor. Laerskool Van Riebeeckstrand is ‘n heelwat groter skool as ons en weereens kon ons kompeterend wees alhoewel ons ‘diepte’ met die aantal spelers beperk is. Op Saterdag, 13 April, het ons netbalspanne aan 33 wedstryde te Laerskole Sunningdale, Tableview en Kampsbaai deelgeneem. Ons wen 20 van die 33 wedstryde, speel 5 gelykop en verloor slegs 8 van die netbalwedstryde – ek dink dit is merkwaardig en wil graag al die netbalafrigters en -spelers hartlik gelukwens met die prestasie.


Ons o.7 – o.13 Rugbyspanne het ook op Saterdag, 13 April, weg teen Laerskool Sunningdale gespeel. Baie geluk aan ons o.13A-rugbyspan wat hul titaniese stryd 24 – 19 gewen het. Ons opposisie het verseker groter seuns gehad met meerderheid gr. 7-leerders terwyl ons span hoofsaaklik uit gr. 6-seuns bestaan. Welgedaan aan ons afrigters, mnre. Erick en André, asook die seuns wat ‘n klipharde wedstryd vir mekaar en die skool gespeel het.

Dit is dan vir my ook aangenaam om nie net oor sport verslag te lewer nie, maar veral dat daar ‘n opwindende tyd vir die skool se Senior Koor voorlê. Dit is vir ons ‘n groot voorreg om die toonaangewende koordirigent, Leon Starker, as deel van ons koorspan te verwelkom. Die toevoeging van sy gespesialiseerde kennis en vaardighede, maak dit moontlik om in samewerking met mnr. Ben en juf. Rolene te streef na nuwe hoogtes. Net soos ons ons sportspyskaart uitgebrei en ‘n nuwe sportkultuur gevestig het, beplan ons ook om ‘n uitnemende koor- en musiekkultuur by Laerskool Jan van Riebeeck te vestig. Leon se fokus en bydrae sal wees om aandag aan die uitbou van spesifieke vaardighede te skenk, wat insluit stemontwikkeling en bladlees. Dus vir ons koorvisie om te realiseer, is dit belangrik om meer oefentyd aan die koor toe te staan en daarom verander ons Senior Koor se oefentye vanaf 16 April soos volg:

Dinsdag: 12:40 – 14:10
Donderdag: 07:45 – 08:15

Ons het hierdie tye spesifiek gekies, en die skool se rooster so aangepas dat dit nie met enige akademie, sport, kultuur of buitemuurse aktiwiteite bots nie. Ons verwag daarom van ons Senior Koorlede om volkome toegewyd te wees en die kooroefeninge getrou by te woon. Ons kan slegs as ‘n gemotiveerde en gedissiplineerde span die doelwit van sukses bereik. Alhoewel harde werk by tye van die koorlede verwag gaan word, weet ons dat ons besig is om te skaaf aan ‘n produk waarop ons as Jannies trots kan wees! Baie dankie dat julle ons ondersteun in die verband en ons sien uit na ‘n blink toekoms vir ons kore, wat skitter met nuwe geleenthede vir optredes, deelname aan Eisteddfods en kompetisies, en moontlike koortoere.

Vanaf 10 – 11 April het ons die jaarlikse interne redenaarskompetisie gehou. Ons gr. 1 – 7-deelnemers het hulle puik van hul taak gekwyt. Ek bly verstom oor ons leerders se selfvertroue, woordeskat en kommunikasievaardighede. Om van so ‘n jong ouderdom te skaaf aan ‘n vaardigheid waar jy die gehoor moet dwing om na jou te luister en van jou standpunt te oortuig, is nie vir almal beskore nie, maar tog slaag ons leerders dit met vlieënde vaandels. Ek glo vas dat redenaars leerders aanspoor om hul breinkrag tot die maksimum te gebruik, veral as hulle skielik ‘n gedeelte van hul toespraak vergeet het, dan moet hulle vinnig op hul voete kan dink en improviseer. Baie dankie en geluk aan juf. Andri wat die redenaars met soveel passie bestuur en ons leerders bemagtig om bekwame sprekers te word.

Môre vind die gewilde Kaperjolle vanaf 12:00 plaas en ‘n mens kon reeds die afgelope week al die opwinding aanvoel. Die leerders kan nie meer wag om aan al die speletjies en vermaak deel te neem nie. Baie dankie aan die OOV-voorsitter, Coreen Scholtz, haar OOV-span asook al die ouers/voogde wat ingespring het om te verseker dat dit weer ‘n reuse sukses sal wees. Kom geniet die kosbare samesyn, straatdiskompetisie en kosstalletjies wat smaaklike disse te kope bied. Die weer gaan ook môre beter as laasjaar saamspeel en ek sien baie uit om julle almal môre by die pretdag vir oud en jonk te ontvang!

Ons skool is so geseënd in baie opsigte as ons na al die suksesse en vooruitgang die afgelope tyd kyk. Laat ons altyd nederig bly. Ek sluit af met die volgende stelling oor nederigheid deur Gordon. B Hinckley en wens ek vir julle ‘n wonderlike Kaperjolle en naweek toe:

“Being humble means recognizing
that we are not on earth
to see how important we can become,
but rather to see how much DIFFERENCE
we can make in the lives of others’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

/ Algemeen, Nuus, Projekte

Ons skool is spesiaal uitgenooi om die Junior Suidoosterfees (22 – 24 April) by die Kunstekaap (Operahuis) by te woon.

Om die enigste Afrikaanse laerskool in die stadskom te wees, is voorwaar ‘n voorreg, maar terselfdetyd ‘n reuse verantwoordelikheid. Ons streef daarna om ons leerders te bemoedig om Afrikaans te bly praat en lees.

Ons is hierdie kwartaal deel van die ATKV se storieleesfeesprojek waartydens elke graad uitgesoekte Afrikaanse leesboeke gekry het om deur te lees. Leerders moet teen middel Julie die boeke klaar gelees het om tydens klastyd te stem vir die boeke waarvan hulle die meeste hou.

Ons is dan ook deur die Suidoosterfees genooi om Maandag, 22 April, – Woensdag, 24 April, die onderskeie Junior programme by te woon om Afrikaans lewendig te hou. Daar is daagliks 1400 leerders wat die onderskeie programme bywoon. Jou kind het ‘n toestemmingsbrief ontvang wat jy moes onderteken om toestemming te gee dat jou kind die program mag bywoon en ook om van die skool se busvervoer gebruik te maak.

Maandag, 22 April – Gr. 1-3
Dinsdag, 23 April – Gr. 4-5
Woendag, 24 April – Gr. 6-7 

Volg die skakel vir die program.

Ons wil graag as ‘n skool vir gr. 4, 5 en 7 hierdie kwartaal die geleentheid gee om self broodjies te kom smeer wat ons Maandagoggend aan leerders sal uitdeel wat die Suidoosterfees se program gaan bywoon. Hierdie broodjies word spesifiek vir skole gegee wat voedingskemas het en nie Maandag by hul skool sal wees om hul pousekos te ontvang nie. Personeel sal ook help met die voorbereiding van hierdie ete. ‘n Groot dankie aan die Welwillendheidskomitee wat aan die stuur is van hierdie projek. Wonderlik om ‘n honger magie vol te maak vanuit warm, vol harte!

/ Algemeen, Klerebank, Nuus

Baie dankie aan almal wat gereeld sakke vir Jan Kas skenk, dit werk baie goed! Indien julle ekstra Woolworthssakke by die huis het en bereid is om dit te skenk, hou asb. aan om dit na Jan Kas of Megan en Sue-Ann se kantoor te stuur. Ons het altyd nog nodig. Baie dankie!

/ Algemeen, Nuus

Die Kaap van Storms het beslis die naweek van 6 tot 7 April sy naam behoorlik gestand gedoen met sterk winde en stormweer wat genadeloos oor ‘n wye gebied verwoesting gesaai het. Dakplate van skole, huise en besighede is afgewaai, verskeie bome is ontwortel, glasvensters is deur die sterk winde uitgewaai, elektriese kabels is deur die sterk winde uitgeruk wat tot brande gelei het terwyl paaie en brûe weggespoel is. Dit het veroorsaak dat verskeie skole in die Wynland, Helderberg en Overberg vanaf 08 – 09 April gesluit was. Genade was groot vir Laerskool Jan van Riebeeck aangesien ons geboue en dakke geen skade opgedoen het nie. Slegs enkele bome by Huppelland se parkeerarea is omgewaai en moes ons baie takke en blare by beide die laerskool en Huppelland verwyder. Ons gebede gaan uit aan die gemeenskappe wat as gevolg van die stormweer baie skade opgedoen het.

Op Saterdag, 06 April, het ons aan die jaarlikse o.10-netbaltoernooi te Laerskool Durbanville deelgeneem wat puik georganiseer is. Ons o.10A-span het baie goed gevaar. Hulle wen hul eerste wedstryd 10 – 1 teen LS Bellville-Noord, verloor ongelukkig 5 – 8 teen LS Welgemoed, maar wen die 3de wedstryd 15 – 0 teen LS Totius. Ons opposisie vir die 4de wedstryd het ongelukkig nie opgedaag nie. Baie dankie en geluk aan juff. Anika en Marlize asook ons o.10A-netbaldogters wat die dag as ware ambassadeurs opgetree het. Julle maak ons baie trots! Baie dankie ook aan die ouers asook oumas en oupas wat die dag kom ondersteun het.

Dan ‘n groot dankie aan al ons ouers/voogde wat gedurende 8 – 9 April die ouerafsparke by hul kind/ers se onderskeie onderwysers bygewoon het. Ons waardeer julle tyd en belangstelling in jul kind/ers se akademiese vordering. Ons skool poog altyd om saam met julle as ouers/voogde as ‘n span te werk en in die proses te verseker dat elke Jannie sy/haar potensiaal kan bereik. Hierdie kollektiewe ondersteuning aan ons leerders is deel van die spreekwoordelike wenformule, naamlik ouers/voogde + opvoeders = suksesvolle leerders! Leerders wie se ouers/voogde aktief in hul kind/ers se lewens betrokke is, is gelukkige kinders wat floreer tydens hul skoolloopbaan. Moet nooit jou teenwoordigheid as ‘n ouer/s by skoolfunksies, langs die sportveld of tydens kultuuroptredes onderskat nie. Navorsing toon dat ouerbetrokkenheid hul kind/ers se skoolbywoning, skoolprestasies, sosiale vaardighede en algemene gedrag verbeter. Ek is dus julle baie dankbaar en dit is ‘n riem onder die hart om julle so gereeld by die skool of langs die sportveld te sien.

Tydens Dinsdag, 09 April, se saalbyeenkoms is ons deur ‘n spesiale gas al die pad van Indië, naamlik mnr. Kumar besoek. Hy is ‘n kunsonderwyser by ‘n laerskool in New Delhi met meer as 3 000 leerders. Hulle akkommodeer tussen 90 –100 leerders per klas en dit plaas dinge weer in perspektief en is ons dus baie dankbaar vir die kleiner klasse by ons skool. Hy het ‘n demonstrasie oor Indiese papierkuns gelewer en ons leerders het aan sy lippe gehang. Hy gebruik gekleurde ‘tissue’ papier, rol dit op, gebruik dan ‘n doodgewone skêr en met ‘n eenvoudige knip hier en ‘n knip daar gebruik hy die papier as ‘n medium om verskeie 2D en 3D-voorwerpe te maak. Ons leerders was vas oortuig dit is towerkuns, maar dit was bloot ‘n demonstrasie van ‘n unieke vaardigheid waaroor hy beskik. Hy besoek ook ander openbare skole in die Wes-Kaap.

Baie geluk aan ons netbalspanne wat 10 van die 18 wedstryde op Woensdag, 10 April, tuis teen Curro Durbanville gewen het. Ons eerste netbalspan (o.13A) het kwartaal 2 met ‘n puik 14 -17 oorwinning in hulle nuwe wedstryddrag afgeskop. Dit was die derde ligawedstryd vir die jaar en ‘n titaniese stryd. Ons beste wense vergesel die wintersportspanne vir al die wedstryde wat die kwartaal voorlé.

Graag sluit ek af met die volgende stelling oor ouerbetrokkenheid deur Jane D. Hull en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“At the end of the day,
the most overwhelming
key to a child’s success
is the positive involvement of parents.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

/ Algemeen, Nuus

Ons wil al ons ouers/voogde motiveer om hierdie besondere werkswinkel wat op Donderdagaand, 25 April, om 18:00 – 20:00 in die skoolsaal plaasvind, by te woon. Lynette Beer en Antoinette Steyn is ‘n gedugte span wat baie ervare in hul onderskeie velde is.  Hierdie werkswinkel bied dan ook aan ons as ouers/voogde geleentheid om te reflekteer op ons ouerskapstyl en maniere te vind om ons kind(ers) beter te verstaan.

Die kaartjies is @ R55 slegs op Karri beskikbaar.  Indien jy dalk vriende van buite ons skoolgemeenskap wil nooi (wat ons aanbeveel!) vir lekker saam lag en luister, want met hierdie sprekers kan mens ‘n entoesiastiese aanbieding te wagte wees, kan jy vir Marinda Brink (marinda@jvrprim.co.za) kontak om ‘n spesiale betaling te organiseer indien jy dit nie op jou Karri-profiel kan betaal nie.

Sien uit om jou daar te sien!

Marinda Brink

/ Algemeen, Nuus

Hiermee ‘n hartlike welkom terug by die skool. Ek glo dat almal die welverdiende ruskansie ten volle geniet het en ‘n geseënde tyd saam met familie en vriende, veral oor die Paasnaweek, spandeer het. Ek is so dankbaar dat almal veilig terug is na die vakansie, veral weens die paaie wat die tyd van die jaar buitengewoon besig is en dikwels tragies, as gevolg van motorongelukke, kosbare lewens eis.

Die skool het skaars begin en sommer op dag een van die nuwe kwartaal skop ons af met die wintersport buitemuurse program op ‘n warm Woensdagmiddag om vroegtydig voor te berei vir ‘n besige sportkwartaal wat voorlê. Verder was dit ook my voorreg om die kwartaal met ‘n saalbyeenkoms te kon begin. My saalboodskap het gehandel oor eerlikheid – een van ons kernwaardes – en waarom dit belangrik is om altyd die waarheid te vertel. Laat jul kind/ers julle gerus die legendariese verhaal van Casius Insectus, ‘n lewenheersbesie (ladybird), wat ek met hulle gedeel het, vertel. Min leerders het egter die Afrikaanse woord vir die pragtige besie geken. Baie geluk aan Marcus Sieberhagen (gr. 1) wat vir my tydens die saalbyeenkoms die korrekte Afrikaanse woord vir ‘n “ladybird” kon noem. Ek glo daar is baie volwassenes wat soos ek aanvanklik nie geweet het dat ‘n “ladybird” in Afrikaans ‘n lewenheersbesie is nie. Die lewensles uit die stories handel oor eerlikheid en betroubaarheid. Kinders hou van stories en my ervaring is dat kinders lewenslesse makliker deur middel van storievertelling leer. Ek glo dat stories ‘n mens se brein stimuleer, nie net om die woorde en die storie te hoor nie, maar dit ook te beleef. Storievertelling word wêreldwyd aangewend om individue op ‘n informele wyse te onderrig. Maak gerus van storieverteling gebruik om jou kind/ers belangrike lewenslesse te leer en in dieselfde proses hul mondelinge en geskrewe geletterdheid te verbeter. Spesifieke storievertellings kan kinders help om hul leefwêreld en omgewing beter te verstaan. Kinders kan aanklank vind by sekere gebeure in ‘n storie en veral hoe karakters wat probleme ondervind het, dit oorkom het. Gebruik gerus vir ouma en oupa om hiermee te help. Hulle ken baie stories propvol waardevolle lewenslesse.

Dis heerlik om te noem dat mnr. André Lourens nou voltyds Engels Eerste Addisionele Taal en Tegnologie onderrig en ook as een van ons gr. 7-registeronderwysers optree. Ons verwelkom op hierdie noot ook amptelik ons nuwe LO-onderwyser, mnr. Keenan Faro, wat vanaf 08 April 2024 by ons gaan aansluit. Ons wens vir hom alle voorspoed en sukses toe en mag hy baie vervulling by ons skool ervaar.

En dan is dit spesiaal om vir juf. Nicola (gr. 1) terug te verwelkom na haar kraamverlof. Ons is bly om te verneem dat dit baie goed met baba Alex en haar man, Jean, gaan.

Volgende week (week 2) is ‘n besondere besige week wat onder andere die volgende insluit:

  • Maandag, 08 April: Ouerafsprake
  • Dinsdag, 09 April: Ouerafsprake
  • Woensdag, 10 April: Interne Redenaars EN o.7 – o.13 Netbalwestryde tuis teen Curro Durbanville.
  • Donderdag, 11 April: Interne Redenaars
  • Vrydag, 12 April: o.13 Hokkiewedstryde (seuns & dogters) te Laerskool Van Riebeeckstrand EN Landloopwedloop te Zwaanswyk Akademie
  • Saterdag, 13 April: Netbaltoernooie (o.7 – o.13) te LS Tableview, Sunningdale en Kampsbaai EN o.7 – o.13 Rugby te LS Sunningdale.

Verder is ek baie opgewonde om die volgende rakende die bouprojekte by die skool met julle te deel:

  • Die opgradering van die ou biblioteek na ‘n nuwerwetse mediasentrum loop klopdisselboom. Daar word 24/7 alreeds vanaf 15 Maart aan die projek gewerk en ons glo dat dit teen einde van volgende week afgehandel sal wees. Die nuwe, moderne fasiliteit sal enige persoon inspireer tot kreatiwiteit asook om die moderne spasie daagliks te gebruik om te lees en te ontspan. Ons kan nie meer wag om die nuwe mediasentrum amptelik te open nie.
  • Kontrakteurs is ook laasweek aangewys om die leerontwikkelingsentrum asook die bou van die balletsaal by Huppelland te begin. Die amptelike bouplanne van die balletsaal is uiteindelik deur Stad Kaapstad goedgekeur en ons kan nie wag om die spreekwoordelike grond te breek nie. Hou gerus die spasie dop vir meer inligting. Groot dankie aan Stephen Hitchcock (ouer by Huppelland asook ‘n BR-Lid) vir sy leeue-aandeel in beide die twee projekte (balletsaal en leerontwikkelingsentrum).

Graag sluit ek af met die volgende stelling oor waardes deur Roy Disney en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek en ‘n voorspoedige kwartaal 2 toe:

“It is not hard to make decisions
when you know what your values are.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

Belangrike Datums

augustus 2026

02aug(aug 2)16:0004(aug 4)17:00EXCO-Strat

03aug00:0023:59EXCO-Strat

03aug(aug 3)00:0008(aug 8)23:59Hs JvR JanArte Kunstefees

03aug18:0018:00Hs JvR - Tafelbergkoorfees

04aug00:0023:59Rugby: o.9 & o.13 Bishops (WEG)

04aug00:0023:59EXCO-Strat

04aug18:0018:00Reddam Sings - Junior Koor (Constantia)