Respek is een van ons kernwaardes by Laerskool Jan van Riebeeck. Ons fokus op positiewe versterking en poog om die leerders te lei om daagliks hierdie waarde tydens alle skoolaktiwiteite (klas, speelgrond, kampe, uitstappies, wedstryde) uit te leef. Oor die algemeen leef ons Jannies hierdie waarde daagliks uit, maar daar is tog enkele leerders wat moet besef dat hul aksies spesifieke gevolge het.

Ons was ongelukkig genoodsaak om ‘n dissiplinêre proses op te stel in die geval waar ‘n leerder herhaaldelik oortree en nie gehoor gee aan vermaning nie. In so ‘n geval sal die registeronderwyser in die vervolg ‘n vorm oopmaak vir die spesifieke leerder sodat die oortredings deeglik aangeteken kan word. Indien die leerder se gedrag nie verander nie, sal die ouer/voog ‘n e-pos eers van die registeronderwyser en op ‘n latere stadium, indien nodig, van ‘n dissiplinekomiteelid ontvang. In hierdie e-pos sal die ouer/voog ingelig word van ‘n oortreding(s) en hul ondersteuning en hulp sal ook versoek word. Op hierdie stadium sal mnr. Beets die vorm onderteken en hy of die komiteelid ‘n gesprek met die leerder voer. Die leerder sal as straf ‘n tweede pouse (sal wel tyd kry vir eet en badkamer toe gaan) verbeur of ontneem word van ‘n skoolaktiwiteit bv. ‘n uitstappie of sportwedstryd. In uitsonderlike gevalle sal ‘n vergadering met die ouer(s)/voog(de), registeronderwyser, mnr. Beets en ‘n dissiplinekomiteelid belê word.

Tipiese oortredings wat op hierdie vorm aangebring sal word is: herhaaldelike versteuring van klasse, huiswerk wat herhaaldelik nie gedoen word nie, vloektaal, vandalisering van skooleiendom, bakleiery, onwelvoeglike gebruik van sosiale media, swak sportmanskap, oneerlikheid (tydens toetse/steel/jok), nalatigheid met skootrekenaars en ernstige disrespek teenoor ‘n personeellid of ‘n mede-leerder.