Jannies Gesprekke

Slimfone – Wenke vir ouers

Ons was so bevoorreg om hierdie jaar weer na Carla de Beer (Social Saam met Carla) te kon luister. Sy het Maandagoggend om 07:30-08:30 in die skoolsaal met ‘n groepie belangstellende ouers gesels. Hierdie gesprek het oor sosiale media, maar meer spesifiek die invloed van en blootstelling aan Kunsmatige Intelligensie gehandel. Dis skrikwekkend hoe min ons, maar meer nog ons kinders van hierdie onderwerp weet en hoe maklik hulle inligting beskikbaar gestel word deur byvoorbeeld aanlyn speletjies met vreemdelinge te speel. 
 
Carla was so gaaf om wenke aan ouers saam te stel en ook ‘n voorbeeld van ‘n slimfoon-ooreenkoms wat ouers met hul kind kan aangaan, met ons te deel. Indien jy dalk na ‘n opname van haar wil luister, loer gerus na hierdie skakel. Ongelukkig fokus sy nie so baie op KI tydens hierdie opname nie. 
 

Jannie-gesprekke brei uit

Ons is so bevoorreg om ons kundigheid deurgaans te verbreed en wil dit graag met die res van ons skoolgemeenskap deel daarom dat Jannie-gesprekke nou uitbrei deur twee onderafdelings naamlik: Zen Den-gesels (die vorige Jannie-gesprekke) en dan die nuwe afdeling DInK-slim.

Zen Den-gesels

Ons het die afgelope kwartaal heelwat verskillende onderwerpe vanuit die Zen Den aangeraak en bespreek.  Sien asb in die akademie afdeling die studiekursusse wat volgende kwartaal sal plaasvind. Ons sal ook volgende kwartaal met die leesmodel-reeks voortgaan soos die afgelope twee weke bespreek. 

DInK-slim

Ons wil graag ons ouergemeenskap ondersteun om DInK-slim te wees – slim in besluite t.o.v. digitale tegnologie, persoonlike inligting en die kuberruim.

In ons gereelde DInK-slim rubriek poog ons om inligting en advies met ouers/voogde te deel, wat sal help om belangrike digitale bevoegdhede te ontwikkel en goeie besluite in die belang van ons kinders se veiligheid en gesonde ontwikkeling te kan neem. Sien die inleiding tot hierdie nuwe rubriek.

DInK-slim: Riglyne vir ‘n Digitale Wêreld

 

Digitale tegnologie, inligting en die kuberruim. Is jy Slim Jan of Bang Jan, of nog erger, Dooie Jan?

1. Konteks

In ‘n wêreld en samelewing wat toenemend tegnologie-geörienteerd raak, het bevoegdhede soos digitale geletterdheid, digitale vaardighede en digitale gereedheid belangrike vereistes vir die toekomsgereedheid van individue geword. By Laerskool Jan van Riebeeck volg ons ‘n 70:30 benadering tot leer en onderrig , met 70 persent fokus op tradisionele metodiek en 30 persent fokus op die gebruik van moderne tegnologie om leer en onderrig te ondersteun.

Tegnologie ontwikkel teen ‘n eksponensiële tempo en die stadige pas waarteen individue vir die digitale wêreld voorberei word, hou onbedoelde negatiewe gevolge vir individue en die samelewing as ‘n geheel in.

Een van die ernstigste kwessies wêreldwyd, is die hoë voorkoms van kuberrisiko’s onder kinders, byvoorbeeld kuberboeliegedrag, tegnologie verslawing, gevaarlike aanlyn kontakte, die verspreiding van digitale disinformasie, inbreuk op privaatheid, sekuriteitsbedreigings en nog vele ander.
‘n Gebrek aan digitale bevoegdhede onder volwassenes is ‘n verdere kwessie wat wêreldwyd tot kommer lei.

Om hierdie gebreke aan te spreek, is ‘n holistiese benadering tot die ontwikkeling van digitale bevoegdhede nodig. So ‘n benadering fokus nie net op tegniese vaardighede nie, maar ook op bevoegdhede soos digitale veiligheid, digitale regte en digitale emosionele intelligensie. Met ander woorde, hierdie bevoegdhede moet mense nie slegs bemagtig om ‘n rekenaar of slimfoon te gebruik nie, maar ook om die moderne sosiale – en ekonomiese uitdagings en vereistes van hierdie tegnologiese vooruitgang te hanteer.

2. DInK-slim

Onder die vaandel van Jannies Gesprekke, wil ons graag ons ouergemeenskap ondersteun om DInK-slim te wees – slim in besluite t.o.v. digitale tegnologie, persoonlike inligting en die kuberruim.

In ons gereelde DInK-slim rubriek poog ons om inligting en advies met ouers/voogde te deel, wat sal help om belangrike digitale bevoegdhede te ontwikkel en goeie besluite in die belang van ons kinders se veiligheid en gesonde ontwikkeling te kan neem.

3. Benadering

Toepaslike onderwerpe word vanaf kwartaal 2 op ‘n gereelde basis aan die hand van die volgende agt temas bespreek:

 

  1. Digitale identiteit: Bou van ‘n gesonde aanlyn- en vanlyn identiteit.
    Onderliggende beginsel: Respek vir jouself.

  2. Digitale gebruik: Gebruik van tegnologie in ’n gebalanseerde, gesonde en beskaafde manier.
    Onderliggende beginsel: Respek vir tyd en die omgewing.

  3. Digitale veiligheid: Verstaan, verminder en bestuur verskeie kuberrisiko’s met veilige, verantwoordelike en etiese gebruik van tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir lewe.

  4. Digitale sekuriteit: Opspoor, vermy, bestuur verskillende vlakke van kuberbedreigings om data, toestelle, netwerke en stelsels te beskerm.
    Onderliggende beginsel: Respek vir eiendom.

  5. Digitale emosionele intelligensie: Herken, navigeer en uitdrukking van emosies in jou digitale intra- en interpersoonlike interaksies.
    Onderliggende beginsel: Respek vir ander.

  6. Digitale kommunikasie: Kommunikasie en samewerking met ander deur middel van die gebruik van tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir reputasie en verhoudings.

  7. Digitale geletterdheid: Vind, lees, evalueer, sintetiseer, skep, aanpas en deel van inligting, media en tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir kennis.

  8. Digitale regte: Verstaan en handhawing van menseregte en wetlike regte tydens die gebruik van tegnologie.
    Onderliggende beginsel: Respek vir regte.

Kyk uit vir die volgende DInK-slim rubriek in die eerste nuusbrief na afloop van die vakansie, wanneer ons oor die onderwerp gesels: Hoe lyk my kind se digitale voetspoor en waarom maak dit saak?

Ons sien daarna uit om saam met ons ouergemeenskap ons digitale bevoegdhede te ontwikkel en uit te brei en ‘n DInK-slim gemeenskap te word!

Verwysings:

  • “IEEE Standard for Digital Intelligence (DQ)–Framework for Digital Literacy, Skills, and Readiness,” in IEEE Std 3527.1-2020 , vol., no., pp.1-47, 15 Jan. 2021, doi: 10.1109/IEEESTD.2021.9321783.
  • OECD Future of Education and Skills. 2024. Learning Compass 2030. Beskikbaar by https://www.oecd.org/en/about/projects/future-of-education-and-skills-2030.html
  • World Economic Forum. 2025. Future of Jobs Report 2025. Beskikbaar by https://www.weforum.org/publications/the-future-of-jobs-report-2025/

 

 

 

DInK-slim © 2025 deur Marié Cruywagen is gelisensieer onder CC BY-NC-SA 4.0 

 Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 4.0 International

 

Leesmodel 2: Die Leestou

Die leesmodel “Reading Rope”

Lees is een van die belangrikste vaardighede wat kinders in die laerskool aanleer. Dit is nie net een enkele vaardigheid nie. Dit bestaan uit ‘n kombinasie van verskillende prosesse wat saamwerk om begrip en leesvlotheid te ontwikkel.

Die leesmodel “Reading Rope” is deur Dr. Hollis Scarborough gedurende die 1990’s ontwikkel. “Scarborough’s Reading Rope” is een van die mees toeganklike benaderings wat die komplekse prosesse van lees verduidelik.

Die model gee ‘n duidelike raamwerk van die verskillende leeskomponente.

Scarborough’s se leesmodel stel ‘n visuele model voor wat verduidelik hoe verskillende leesvaardighede saamwerk om leesvlotheid en begrip te ontwikkel. Die model stel metafories ‘n tou met twee hoofkomponente voor. Elke hoofkomponent bestaan uit verskeie in een geweefde leesvaardighede. Soos die vaardighede ontwikkel en saam gebruik word, word die tou saam geweef en word die tou al sterker, wat beteken leerders se lees word al beter.

Die model bestaan uit ‘n boonste netwerk en ‘n onderste netwerk

Die boonste netwerk bestaan:                         Die onderste netwerk:

  1. Taal & begrip                                                2. Woordherkenning

–  Agtergrondkennis                                                      – Fonologiese bewustheid

– Woordeskat                                                               – Dekodering

– Taalstrukture                                                             – Alfabetletters

– Verbale redenering                                                    – Klankbewustheid

– Geletterheidkennis                                                     – Sigwoorde

Onderste deel: Woordherkenning

Die onderste deel van die tou se vaardighede help met aanvangslees. Lesers leer lees deur klanke te herken en uit te spreek. Hulle kan woorde dekodeer en hulle kan woorde lees. Hulle leer om hoë frekwensie woorde te herken sonder om elke letter te klank wat leesspoed verbeter.

Wenke:

– Speel rymwoordspeletjies. Byvoorbeeld watter woorde rym met kat.

Klapspeletjie. Klap jou hande vir elke klank in die woord. Bv. h-o-n-d

– Sê ‘n woord en laat dan ‘n klank uit. Die kind moet vir jou sê watter klank is uitgelaat. Bv. perd   -erd  of  per-  of p-rd

Sigwoorde: Speel sigwoordebingo of lees die woorde teen spoed en probeer elke dag al vinniger lees.

Gedeelde lees help lesers met selfvertroue. As ouer lees jy die sin. Dan jou kind en so lees julle saam-saam die bladsy.

 

Boonste deel: Taal en begrip

Die boonste deel van die tou bestaan uit agtergrondkennis. Agtergrondkennis is ‘n baie belangrike vaardigheid van lees, want dit help lesers om nuwe idees en ervarings te verstaan. Lesers benodig agtergrondkennis om die konteks van die leesstuk te verstaan. Woordeskat is volgende en woorde help lesers om die storie te verstaan. Woordeskat word gebou deur praat, luister, lees en ervarings. Volgende is taalstruktuur. Lesers moet verstaan hoe sinne gevorm word. Dit help lesers om betekenis van die sinne te verstaan. Verbale redenering is die vermoë om tussen die lyne te lees en om jou agtergrondkennis te gebruik om afleidings te kan maak. Deur geletterheidskennis kan die leser vasstel wat die hooftema of idee van die teks is. Lesers kan vinnig ‘n opsomming van die teks gee en kan dan sekere vrae daaroor beantwoord.

Hier is ‘n paar wenke hoe om hierdie deel te ontwikkel:

– Praat gereeld oor nuwe woorde en hul betekenisse.

– Lees boeke vir jou kind wat bietjie moeiliker is en verduidelik moeilike woorde.

– Skep in jou huis ‘n woordmuur. Sit kaartjies met die woorde teen die woordmuur op.

– Speel woord-van-die-dag speletjies. Kyk wie kom met die mees oorspronklike nuwe woord op en sit dit op die woordmuur. Speel verder die speletjie en kyk wie gebruik die woord die meeste in sinne.

– Voordat julle ‘n storie lees: Dink eers na oor wat julle van die tema weet. Lees die opskrif of titel van die boek en gesels eers daaroor. Gesels na die storie verder. Byvoorbeeld hoe het die teks by julle agtergrondkennis ingepas. Wat was nuut of anders wat julle na die teks se lees geleer het. Leer jou kind om kritiese vrae oor die teks te. Bespreek die vrae.

– Leer jou kind om die sleutelwoorde te soek in die teks.

– Leerders in die Intersenfase kan aangeleer word om ‘n kort opsomming van die teks te maak. Gesels met jou kind oor die doel van opsommings. Waarom is die vaardigheid baie belangrik?

Gevolgtrekking

Scarborough se leesmodel verduidelik dat leesontwikkeling ‘n proses is en nie net enkele vaardighede nie.

Lesers moet woorde akkuraat en vlot kan lees om die betekenis van die verskillende tekste te verstaan. So verbeter leesvlotheid en leesbegrip.

Hoe sterker die tou gevleg word, hoe beter sal ‘n leser met begrip kan lees.

Lees is soos ‘n tou. Elke vaardigheid help om jou kind se leesvaardighede sterker te maak. Bou dit stadig en maak dit interessant en lekker. So sal die tou al sterker kan word sodat jou kind die tou kan gebruik tydens hulle skoolreis.

Geskryf deur Marietjie de Kock (Zen Den)

Die brein en lees (model 1)

Gedurende die volgende drie weke gaan ons die klem op leesontwikkeling plaas. Inligting rakende die verskillende leesmodelle sal bespreek word.

Hierdie week se leesmodel: Duke & Cartwright (2021) se “Active View of Reading

Lees is ‘n komplekse proses wat baie dele van die brein gebruik. Onlangs het ons in die media gehoor dat meer as 80% van die leerders in graad 4 nie met begrip kan lees nie.

Lees is nie ‘n natuurlike vaardigheid wat kinders aanleer soos byvoorbeeld praat of loop nie. Lees is ‘n komplekse kognitiewe proses wat die brein aanleer. Tydens lees word baie verskillende dele van die brein gebruik.

Die volgende vier hoofareas word tydens lees gebruik:

* Frontale lob: Die area van die brein help leerders om woorde vinnig te herken sonder om elke letter individueel te dekodeer.

* Pariëntale lob: Sensoriese bewustheid vind hier plaas. Leerders gebruik die deel van die brein vir fonologiese bewustheid. Om bewus te word van die klanke van letters en om visueel die letters te herken.

* Oksipitale lob: Die gedeelte word gebruik vir visuele herkenning van woorde; visuele geheue; leesspoed en visuele diskriminasie.

* Temporale lob: Die area van die brein help leerders om letters en klanke te verbind. ‘n Sleutelvaardigheid vir dekodering. Die deel help ook met die betekenis van woorde en sinne.

Volgens Duke & Cartwright (2021) se “Active View of Reading” is lees nie net die herkenning van woorde nie, maar ‘n aktiewe kognitiewe proses wat vereis dat kinders gebruik maak van verskillende vaardighede.

Die model beklemtoon drie belangrike komponente in, naamlik: woordherkenning; taalbegrip, probleemoplossingstrategieë en uitvoerende funksies. Volgens dié model moet kinders aktief betrokke by die leesstrategie wees.

Die vraag by ouers is natuurlik hoe kan ek na aanleiding van bogenoemde model my kind met lees help?

Hier volg ‘n paar idees:

Grondslagfase

* Maak gebruik van gedeelde lees (paired reading). As ouer lees jy ‘n sin en dan laat jy jou kind dieselfde sin lees. So kan jou kind die woorde sien en hoor. Dit help kinders met selfvertroue en om die woorde korrek uit te spreek.

* Speel speletjies met sigwoorde deur flitskaarte van die woorde te maak. Kinders moet die woorde op sig kan lees sonder om die woorde te klank.

* Laat jou kind na die prent van ‘n leesstuk kyk en gesels met jou kind oor die prent. Vra die volgende tipe vrae: Wat sien jy in die prent? Wat doen hulle? Wat dink jy sal gebeur as die hond kan vlieg? Hoe dink jy voel die vrou? Wat in die prent sal jy wil verander?

* Oogbewegings is baie belangrik. Maak jou kind bewus dat ons oë van links na regs beweeg. Daar is verskeie oogbewegings wat jy vir jou kind kan gee om sy/haar oë te oefen.

* Moenie jou kind die heeltyd reg help as hulle ‘n woord verkeerd lees nie. Dit kan hulle selfvertroue beïnvloed. Lees die sin oor en vra vir jou kind om na die woord te kyk wat hy/sy verkeerd gelees het. Vra vir jou kind watter klank in die woord ‘n mens kan uitvang.

Intersenfase

* Leerders kan uitvoerende funksies (executive functioning) toepas, voordat hulle begin lees.

* Bevorder leesgeheue.

* Leer ‘n goeie woordaanpakstrategie aan.

* Pas taalkennis toe.

* Laat jou kind verskillende tipe vrae oor die leesstuk opstel.

* Bevorder jou kind se kritiese denke deur die leesstuk oor te skryf en die karakters te verander na ruimtewesens of verskillende tipe diere.

* Gee vir die kinders ‘n prent en laat hulle, hulle eie leesstuk skryf. Lees die skryfstuk vir iemand voor.

* Verbeter leesspoed deur sigwoorde teen spoed te lees. Kyk hoeveel sigwoorde jou kind in een minuut kan lees.

Lees is soos ‘n towersleutel wat ‘n wêreld vol stories, kennis en avonture oopsluit. Elke woord wat jou kind lees, bou sy/haar brein, verbeelding, selfvertroue en kennis.

Marietjie de Kock (Zen Den)

Die wonderwêreld van disleksie

Vir die brein om letters in die korrekte volgorde te sien, te prosesseer en dan te verseker dat dit geïnterpreteer word om ‘n woord korrek te lees, uit te spreek en te skryf, is vir sommige mense ‘n ontsettende uitdaging. Om ‘n kind(ers) met disleksie groot te maak in ‘n wêreld waar daar aangeneem word dat almal ewe goed kan lees, skryf en praat is ‘n moeilike berg om uit te klim. Hierdie diagnose kan jou alleen en moedeloos laat voel totdat jy besef dat daar vreeslik baie ouers is wat in dieselfde bootjie sit.

Die idee dat jou kind(ers) nie alleen hierdie reis hoef aan te pak nie, is ‘n gerusstellende gedagte. Kennis en kundigheid word daagliks oor disleksie ingewin en uitgebrei aangesien ons hier by LS JvR besef dat hier heelwat Jannies met disleksie gediagnoseer word.  Dis ‘n lewenslange reis wat by ons as skoolgemeenskap begin om ons kinders op te voed om met hulself en hul maats wat moontlik disleksie het, grasie en begrip te hê.

Hierdie diagnose (disleksie), net soos soveel ander, lyk by elke leerder anders. Dis dus baie moeilik om soms agter te kom dat jou kind moontlik simptome van disleksie het. Die brein is ongelooflik en vind maniere om hierdie simptome te omseil en weg te steek daarom blyk dit nie by almal so ooglopend te wees nie.  Indien ‘n onderwyser op ‘n dag ‘n assessering by ‘n opvoedkundige sielkundige mag aanbeveel, is dit om jou as ouer, maar meer belangrik die leerder te ondersteun en te lei. 

Ons probeer so goed moontlik ‘n leeromgewing vir die leerders skep waarbinne hulle ook kan veilig voel sodat leer kan plaasvind.  Alhoewel ons nie ‘n inklusiewe skool is nie, poog ons daagliks om sover moontlik alle leerders te akkommodeer. Hoe gelukkig is die Alpha-generasie (kinders gebore in 2010-2024) nie … hulle is die kinders oor wie ons huidiglik die meeste kennis beskik om leer met meer grasie toe te pas. Ja, ons onderwysers is nie opgelei in al die areas waarin ons as ouers so dikwels ‘n behoefte het nie, maar elkeen probeer op sy of haar manier om elke individu in die klas en op die sportveld so goed moontlik te ondersteun. Ons is uiters bevoorreg om vanaf 2010 ons skool se leersentrum te kon uitbrei met die nodige kundigheid tot waar ons vandag met ‘n spogsentrum leerders, onderwysers asook ouers kan lei en toerus so goed ons kan.

Die wêreld waarbinne leerders met disleksie leef, is dié van intelligensie, kreatiwiteit, ontdekking en soveel meer as net letters en woorde.  Gaan loer gerus na die Youtube video wat weer soos verlede week hierdie onderwerp op ‘n praktiese manier verduidelik.  Wys gerus vir jou kinders ook.

Kliek hier: SEE DYSLEXIA DIFFERENTLY

Saamgestel deur Marinda Brink

Die towerkrag van ‘n diverse brein

Ons is so bevoorreg om binne ‘n skoolgemeenskap te funksioneer wat diversiteit in ras, geslag, kultuur en taal omarm. Die diversiteit in leerders se breine en die manier waarop hulle in sekere situasies optree, is soms moeiliker om te verstaan as byvoorbeeld iemand met ‘n fisiese gestemdheid of uitdaging. Neurodiversiteit is ‘n term wat al hoe meer in ons skool gebruik word aangesien ons poog om ons leerders so goed moontlik volgens hul unieke behoeftes akkommodeer. 

Hierdie week het ons besluit om ‘n video te plaas wat op ‘n praktiese manier uitbeeld hoe leerders wat op die outistiese spektrum gediagnoseer is, funksioneer.  Kyk gerus hierna. Wys en bespreek gerus hierdie video met jou kind(ers) sodat hulle moontlik hul maats en/of hulself beter kan verstaan. Die opvoeding berus by ons om ons kind(ers) te lei hoe om teenoor ander op te tree wat van ons verskil.  

Kliek op die skakel om die video te kyk: Amazing things happen!

Wat sien ons kinders raak en wat gaan hulle daarmee doen?

 As ouers beïnvloed ons gedrag ongelukkig die dag-tot-dag keuses wat ons kinders maak. Dit is dikwels bepalend van die mens wat hy of sy gaan word.  Hierdie gemoduleerde en aangeleerde gedrag, goed of sleg, word soms van een geslag na ‘n ander oorgedra.  Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

HOE JY KONFLIK, WOEDE EN STRES HANTEER

Ons is uitstekende “skeidregters” en “afrigters” wanneer ons ons kinders leer hoe om woede en konflik te hanteer, Maar die beste leerskool bly egter jou eie optrede:  hoe jý  jóú emosies uitdruk. Die wyse waarop jy jou eie angs en spanning bestuur, gaan waarskynlik bepaal hoe jou kind dit eendag gaan hanteer. Dit geld ook vir konfliksituasies. Om deur jou eie optrede te demonstreer hoe om te verskil asook hoe om moontlike oplossings te vind, leer jy hom of haar die mag wat konstruktiewe kommunikasie in verhoudings kan hê. Wys hulle die belangrikheid van verskillende perspektiewe en opinies, maar ook watter grense jy stel as dit by verskille kom.

DIE MANIER HOE JY OOR JOUSELF EN ANDER PRAAT

Ons almal ken die gesegde: “As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, sê eerder niks.” Om jou kind te leer om versigtig te wees wat hulle sê en om nie woorde te gebruik wat kan seermaak nie, gaan hulle help om in die toekoms sterk verhoudings te bou.  Vermy dit om negatief oor onderwysers, afrigters of jou vriende te praat. Om daarop ingestel te wees om vir jou kind iemand se optrede in perspektief te stel, al is hy of sy verkeerd, leer jy jou kind om met empatie en ‘n “sagter” oog na ander te kyk.

Ons moet ook nie die impak van negatiewe selfspraak onderskat nie. Watter boodskap kry my kind as ek voortdurend my eie tekortkominge en foute in gesprekke uitwys? As jy nie in jouself en in jou eie vermoë glo nie, nie met positiwiteit geleenthede aangryp nie, hoe moedig ons ons kinders aan om hulle eie drome en doelwitte te bereik?

ONS EIE VERHOUDINGS EN VRIENDSKAPPE

Hoe ons ons eie verhoudings en vriendskappe in stand hou, gaan die hoek bepaal waaruit jou eie kind daarna gaan kyk. Ons kinders het net ons om by te leer. Om hulle aan te moedig om te luister, om eerlik in ‘n verhouding te wees en om empatie sover moontlik te demonstreer, leer jy hulle om met selfvertroue enige verhouding te hanteer.

WAT SIEN MY KIND IN MY OË?

Wanneer jou kind ‘n vertrek instap, wat is ons soms geneig om eerste te doen? Is hulle netjies? Is hulle hare gekam?  As hulle die kritiek in jou oë sien, voel hulle onmiddellik   hulle is nie goed genoeg nie. Ons as ouers word gebombaardeer met oueradvies wat dikwels teenstrydig is. Daar is egter een iets wat die toets van die tyd weerstaan het: jou kind gaan altyd na jou kyk en tekens soek dat jy hulle liefhet en onvoorwaardelik aanvaar.  En soos Toni Morrisson so treffend opgemerk het: “When your child enters the room, does your face light up?”

Marike Badenhorst                                                  
Opvoedkundige Sielkundige

Balans tussen ‘n kritiese denker en respek vir outoriteit

Ons het verlede week gepraat oor die frustrasie wat ons as ouers ervaar as elke opdrag of versoek in ‘n onaangename baklei-sessie ontaard. Om daardie rede is ons soms geneig om hierdie situasies te vermy  deur “gemak” bo “tydelike ongemak” te kies. Maar is dit die beste vir my kind?

 Kom ons begin by wat dissipline is. Dissipline is om te onderrig, te korrigeer, asook om jou kind met geduld in ‘n rigting te stuur om – sonder jou –  te doen dít wat goed en reg is. Ons motivering vir enige dissipline is om ons verantwoordelikheid as ouer of volwassene na te kom. Indien jy jou kind toelaat om te doen wát hulle wil wánneer hulle wil, gaan daar waarskynlik twee goed gebeur. Eerstens: hulle gaan verwag dat die lewe daar buite sonder enige struikelblokke gaan wees. Tweedens is dit amper ‘n gegewe dat hulle  diegene rondom hulle sonder respek en empatie gaan hanteer. Onthou: jou kind is nie gereed om besluite te neem op grond van wat vir hulle goed is nie, hulle neem besluite op grond van wat hulle wil hê.  Jou taak is dus as’t ware om jou kind soms van homself/ haarself red!

Kom ons neem skermtyd en die tyd wat jou kind voor die televisie spandeer as ‘n voorbeeld. Jy weet dit laat jou kind ontspan en hy/sy geniet dit.  Wanneer ons hulle skermtyd wil beperk, doen ons dit nie om hulle te ontneem van wat vir hulle lekker of ontspanne is nie. Indien dít ons rede is, gaan ons kinders nooit die geleentheid kry om te “oefen” om dít wat vir hom of haar lekker is met selfdissipline te bestuur nie. Ons moet ‘n balans vind. Ons beperk skermtyd om verskillende redes en elke gesin het daar hul eie unieke ritme en reëls. Wat ons egter weet, is indien ons níé skermtyd gaan beperk nie, dit ons kind op verskillende maniere negatief gaan benadeel. Dit is buiten dat ons sien hy/sy is besig om ‘n slegte gewoonte te ontwikkel. Konflik kan terselfdertyd as ‘n leerskool gebruik word. Ons gebruik daardie oomblikke van ongehoorsaamheid om ons kinders  te leer om korrek op te tree, in plaas daarvan om hulle net na hulle kamer toe te stuur. Die hoop is dat jou reaksie uiteindelik hulle disrespekvolle manier van terug praat sal omskep tot iets wat tot voordeel van almal is. Ek wil my kind leer om met respek te verskil, met respek te vra “hoekom”, maar ook om “goeie” outoriteit te respekteer.

Kom ons neem die volgende praktiese voorbeeld:

Jy vra jou kind om die televisie af te sit en te gaan slaap.

Jou kind antwoord in ‘n onaangename stemtoon: ”Wát? Hoekom? Daar is nog net 10 minute oor van die fliek! Daar is ook net reëls, reëls, reëls in hierdie huis!”

Ouer: “Ek wonder of jy dit op ‘n ander en gawer manier  kan sê, dán kan jy vra hoekom. Wil jy weer probeer?

Kind: “Okay, Ma, is dit okay as ek die fliek klaar kyk, want daar is net ‘n kort stukkie oor…”(Dit is ‘n geldige rede en miskien sou jy dit oorweeg het as hy/sy nie die vorige aand ook laat gaan slaap het nie).

Ouer: “Ek is jammer dat jy dit nie kan klaar kyk nie, maar jy het gisteraand ook baie laat gaan slaap en hoe meer rus jy vannag kry, hoe beter… Dit is môre skool.”

Baie ouers sou dalk nie kans sien vir  hierdie “omslagtige” aanslag nie en net toegee. Maar wat leer ek vir my kind? Dat hy/sy die reëls in die huis maak? Jy is in hulle lewe geplaas om hulle te leer van reg en verkeerd.  Om hulle te beskerm. Dus, dalk kan ons hierdie strategie probeer. Hier is ‘n paar praktiese voorbeelde wat jy kan gebruik om hierdie konfliksituasies anders te hanteer:

“Ek gee nie om dat jy vra “hoekom” nie, maar ek hou nie van die maníér waarop jy dit vra nie.  Probeer weer, maar sê dit nou op ‘n manier soos ons gewoonlik  met mekaar in ons huis praat.”

“Ek is heeltemal bereid om jou kant te hoor. Kan jy dit op ‘n ander manier sê?”

“Ek is nie jou vyand nie en ek sal graag wil hoor wat jy wil sê.  Hoekom wag ons nie ‘n rukkie nie en dan praat ons hieroor as jy beter voel?”

“Hierdie is ongelukkig ononderhandelbaar. Kom ons bespreek die hoekom as ons al twee rustiger is.”

“Ek hoor jou. Kom ons praat later hieroor wanneer ons al twee kalm is en saam ‘n oplossing  hiervoor kan kry.”

Of die uiklophou: “Oortuig my met goeie redes hoekom jy dit nie hoef te doen nie?”

Kom ons probeer. En onthou: “Only dead fish swim with the stream” – Malcolm Muggeridge

Marike Badenhorst | Opvoedkundige Sielkundige                                                     

My kind luister nie: Marike Badenhorst

MY KIND LUISTER NIE… IS DAAR HOOP?

 Die grootste frustrasie wat ons as ouers het, is wanneer ons kinders nie luister as ons hulle vra om iets te doen nie. Hoekom moet dit, wat vir ons voel ‘n baie logiese volgende stap is wat volgende moet gebeur, elke keer in ‘n debat ontaard? Hoekom doen hulle nie dadelik of onmiddellik wat ons wil hê hulle moet doen nie? Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie.

Kinders praat terug omdat hulle nog nie die vaardigheid aangeleer het om hul opinie te “filter” nie. Dit sluit in wát om te sê  en hóé om dit te sê. Het jy al ooit jou kind die volgende hoor sê: “Mamma jy is reg soos altyd. Ek is baie moeg. Ek weet dit is nou tyd om te gaan slaap…” Onrealistiese verwagting? Hoekom? Doodeenvoudig omdat hulle op hulle ouderdom glad nie bewus is van wat hulle NODIG het nie. Hulle reageer op WAT HULLE WIL HÊ.  Ongelukkig laat ‘n kind wat voortdurend terug praat en nie doen wat jy vra nie, jou ongeloofwaardig voel asook dat hulle nie jou rol as ouer respekteer nie.

DIE HARDE WERKLIKHEID…

Hoekom laat dit ons so totaal magteloos voel? Doodeenvoudig omdat ons as volwassenes weet dat dít wat ons vra, regtig in die kind se belang is. Dus: wat gebeur die oomblik wanneer hulle terug praat of doodeenvoudig weier om die opdrag uit te voer? Dit herinner ons dat ons nie régtig ten volle in beheer is soos ons wil wees of wat ons dink ons veronderstel is om te wees nie. 

Die realiteit wat ons bang maak, is dat ons weet hulle gaan uiteindelik hul eie keuses  moet maak.  En dít is die rasionaal agter ons gevoel van frustrasie en angs wanneer enige versoek wat ons rig, in ‘n debat ontaard: die moontlikheid dat hulle verkeerde keuses weg van ons gaan maak. En wat dan??  Is jou verwysingsraamwerk dat jou sukses as ouer gelyk is aan dat hulle moet doen wat jy vra sonder om terug te praat of voel jy dit is ‘n teken dat jy as ouer misluk as dit níé gebeur nie?  Ontspan. Dit gebeur in elke huis. Die goeie nuus is dat as jy anders hierna kyk en jou strategie verander, dit ‘n geleentheid kan word waar jy jou kind toerus met ‘n belangrike lewensvaardigheid.

WAT IS ONS EINDDOEL?

As ouers vergeet ons soms dat ons kinders individue is, ‘n persoon in eie reg. En al is ons in die posisie om die reëls te maak totdat hulle die huis verlaat, beteken dit nie dat hulle nie hul opinie mag gee en van jou mag verskil nie.

Soms gebruik ‘n ouer sy/haar outoriteit om die kind se stem “stil” te maak. Dit kan gevaarlik wees, want jy mag ‘n kind grootmaak wat nie vir hom-/haarself kan dink nie.  Dus, wil ons régtig hê ons kind moet in die toekoms die hardste, mees outoritêre stem daar buite volg, of wil ons hulle leer om op te staan vir wat hulle dink reg is?

Hoe leer ons dan ons kinders dat dit goed en reg  is om vir hulself te dink en om vrae te hê wanneer hulle nie ‘n reël verstaan nie, maar om dit op ‘n respekvolle manier te doen?  Ons wil tog hê dat hulle in die toekoms moet opstaan vir wat hulle dink is reg sonder om blindelings die massas te volg. Maar terselfdertyd wil ons hê hulle moet outoriteit respekteer.

Kan jou kind luister en reageer soos ‘n volwassene? Natuurlik nie. En hoekom nie? Hulle is steeds besig om te leer. Ouerskap is ongelukkig gelyk aan “teaching”. Dit is jóú werk om vir jou kind te wys hoe hy of sy moet luister en hoe om te verskil. Maar ons vergeet soms dat ons kinders tyd nodig het om te verstaan presies wat hier aan die gang is. So, as jy in die proses is om hulle te leer om te luister of van jou te verskil, onthou om aan hulle dieselfde geduld en grasie te gee as wat jy sou wou hê wanneer jý iets aanleer.   

Die wêreld van vandag het vrye en kreatiewe denkers nodig. Iemand wat oor goed kan redeneer en kan opstaan teen outoriteit indien hulle voel dit is verkeerd. Dít is hoe ons kinders gaan uitstaan bo die res.

Ons kyk volgende week na maniere hoe om ‘n respekvolle omgewing te skep waarin ons ons kinders kan leer hulle mág verskil en anders dink, maar dat die geheim is hóé om dit te doen.

Marike Badenhorst
Opvoedkundige sielkundige

Nuwe leesprogram: Lees 101

Verlede week het ons ouers/voogde aangemoedig om na die opnames van ons skool se opvoedkundige sielkundige, Marike Badenhorst, op RSG te luister.

Hierdie week wil ons ‘n splinternuwe leesprogram (Lees101) wat op Netwerk24 beskikbaar is, bekendstel.  Hierdie program fokus daarop om ouers/voogde advies te gee oor lees en waarom lees belangrik is. Dit bestaan uit 12 episodes. Ons skool is so bevoorreg om hierdie bemarkingsblootstelling te ontvang aangesien die geletterdheidsentrum (biblioteek) en Zen Den as aanbiedingsruimte gebruik is.  Ongelukkig sal slegs lede wat ingeteken is, toegang tot hierdie platform ontvang.

KLIEK HIER om na die skakel te gaan.

Marike Badenhorst: Groeipyne potgooi

Ons is so bevoorreg om te kan spog dat ons skool se opvoedkundige sielkundige, Marike Badenhorst, hierdie vakansie op RSG met Anthea Frederiks op die program Groeipyne gesels het. Hierdie twee opnames volg so mooi op die Jannie Gesprekke soos sy dit tydens kwartaal 4 in ons nuusbrief gepubliseer het. 

Marike deel graag praktiese advies en wenke met ouers.  Luister gerus na die potgooi-uitsendings:

1) 26 Desember:  Bou só gesonde gesinsverhoudings – RSGplus

2) 2 Januarie 2025: Groeipyne 2 Januarie 2025 – Groeipyne – Omny.fm

 

Ons gesin (deel 2)

Dit is die einde van die jaar en dit is vakansie! Dit is daardie tyd van die jaar  waar ‘n gesin kwaliteit tyd saam spandeer en ons as ouers wil hê die dae moet met die minimum struwelinge en konflik verloop. Maar ons weet dit is nie so maklik nie! Tog kan onderlinge konflik beperk word as elke lid van die gesin vooraf presies weet watter gedrag binne hulle gesin aanvaarbaar is en watter gedrag  nié toegelaat word nie.  En dit konsekwent toe te pas. Hier gaan GRENSE en KOMMUNIKASIE hand aan hand. 

Ons as ouers trap dikwels in die strik deur onrealistiese verwagtinge by ons kinders te skep. Ons primêre taak is om ons kinders voor te berei om ‘n goed gebalanseerde individu te wees wat met respek teenoor ander optree. Dit is nié ‘n verhouding waar jou kind die gevoel kry jy is bloot daar om aan al sy/haar eise en behoeftes te voldoen nie.  Dit is waarom duidelike grense binne ‘n gesin so krities is.  En ons moet by onsself begin.

Om duidelike grense te stel, beteken nie dat jy jouself distansieer of isoleer nie.  Jy skep net ‘n atmosfeer waar jy voel jou behoeftes en welstand word deur die ander gesinslede gerespekteer. En ook dat dit vir jou belangrik is om aan elke gesinslid  sy/haar ‘n eie unieke “ruimte” te gee waar hy/sy tuis, geliefd en onmisbaar kan voel.

Duidelike grense  bevorder jou kind se  onafhanklikheid. Al ís julle ‘n hegte gesin wat graag tyd saam spandeer, bly julle uiteenlopende individue wie se behoeftes en persoonlikhede verskil. Indien ons  leer om dit waarvan ons hou of nié van hou nie op ‘n kalm, ferm manier te kommunikeer, verminder dit onnodige misverstande en konflik.

Aan die vooraand van  ‘n lang vakansie en waar ons moontlik meer tyd saam gaan spandeer, is dit ook ‘n geleentheid vir PRET en aktiwiteite wat julle as gesin saam kan geniet en wat later deel kan word van julle eie unieke en spesiale “geheuebank” van herinneringe.  En wat is meer spesiaal as om hierdie vakansie ingestel te wees op mekaar se liefdestale? In sy boek  “Five Love Languages” wys Gary Chapman(1992) vyf  maniere uit hoe ‘n  klein gebaar ‘n magtige instrument kan word  om verhoudings binne ‘n gesin te koester.  Wat is jóú liefdestaal? Ken jou kinders dit”? En weet jy wat is hulle s’n?

Is jou kind se primêre liefdestaal woorde (“words of affirmation”) en kan hy/sy  nie genoeg kere die woorde “Ek is lief vir jou” hoor nie? Indien jou kind se liefdestaal dalk kwaliteit tyd saam is, fokus op aktiwiteite wat nét julle deel en wees net onvoorwaardelik dáár. Dalk is fisiese aanraking of dade die “taal” waarmee jy die verste gaan kom: deur te wýs  jy gee  om, ‘n  verbygaande ‘n drukkie, ‘n lekker skuimbad te tap…Of is dit geskenke: ’n simboliese gebaar, iets konkreets, hoe klein ookal… Wees net ingestel op mekaar se behoeftes en maak dit ‘n onvergeetlike vakansie!

Marike Badenhorst        
Opvoedkundige Sielkundige

Ons Gesin

Elke gesin is uniek. Tog is daar vier “pilare” wat ‘n gemene deler is en wat ouers in gedagte kan hou om ‘n gemaklike, gebalanseerde en gelukkige gesin te skep. Hierdie week fokus ons op empatie.

1.EMPATIE

Hoe leer ek my kind om empatie te hê binne ‘n “als-gaan-oor-myself-wêreld”? Ons digitaal-gedrewe generasie kinders leer ongelukkig nie emosies aan deur ‘n “emoji” te kies nie! Ons taak as ouer is veel groter as dit. So getrou soos ‘n ouer vir sy/haar kind kleure of syfers van vroegs af al aanleer, so natuurlik moet dit vir jou kind word om sy/haar eie warboel van emosies te erken en ‘n naam daarvoor te gee. Jou kind kan nie ‘n ander gesinslid se emosies raaksien en leer om in ‘n boetie of sussie se “skoene” te klim voor hy/sy nie sy/haar EIE emosies ken en leer om dit te hanteer nie.

1. Gebruik emosionele taal as jy met jou kind praat: Indien jou kind met iets besig is wat vir hom/haar belangrik is wat jy moet onderbreek, kan jy sê: “Ek kan sien jy is gefrustreerd en kwaad om nóú alles weg te pak, maar as ons nie almal klaarmaak nie, gaan ons laat wees vir ete by Ouma.” Jy gee nie toe nie, jy wys net jy verstaan hoe jou kind voel. ‘n Kind se brein moet ook letterlik “ingeoefen” word om emosies op ander kinders se gesigte te kan herken: ”Sien jy daardie dogtertjie, lyk sy nie ook vir jou hartseer nie?” of “ Hoe dink jy het Mia gevoel toe jy haar speelgoed gevat het sonder om te vra?”

2. Stel self ‘n voorbeeld: As jy jou kind wil leer om ingestel op ander se emosies te wees, moet jý daarop ingestel wees om emosionele “taal” en ek-boodskappe deel van jou kommunikasie met jou kind te maak, soos: “Vandag voel ek regtig moedeloos en asof niks reg loop nie.” Of: “Dit maak my hartseer as jy aan my slaan…” En belangrik, erken jou eie foute en leer om vir jou kind jammer te sê. Indien jy ongeduldig of onredelik teenoor ‘n ander persoon was, wees bereid om dit te erken en verskoning vir jou kind te vra. Dit is al hoe hy/sy gaan leer om dit self te kan doen.

3. Gee erkenning aan jou kind se optrede van omgee: Ouers is geneig om soms net hul kinders te prys as hulle goed presteer. Jy kan hul empatie koester en laat groei deur te wys dit maak vir jou saak dat hulle sensitief is vir ander se emosies en bereid is om ‘n verskil te maak. Stop ‘n oomblik as jy sien jou kind gee om vir ‘n ander en maak ‘n opmerking soos: “Sjoe, dit was so gaaf van jou om te stop en daardie seuntjie te help. Het jy gesien hoe gelukkig dit hom gemaak het?”

4. Stel hulle bloot: Jóú optrede teenoor mense van verskillende etnisiteite, gelowe of fisieke voorkoms, gaan bepaal hoe aanpasbaar en gemaklik jou kind verskille rondom hom/haar omarm en daarop reageer.

5. Vestig jou gesin se waardes: Gebruik “ons-stellings” om die waardes van jou gesin te beskryf, soos: “Ons sê ons is jammer as ons mekaar se gevoelens seergemaak het” … “In ons gesin vergewe ons mekaar as ons baklei het en gaan aan.” Indien jou kind iets vir sy/haar broer of suster toesnou, sê op ‘n rustige manier: “Wat is ‘n gawer manier om dit te sê?” Jy doen dit nie om hulle te verkleineer nie, maar jy gee aan hulle die geleentheid om vir dié rondom hom /haar te wys hulle weet van beter!

Volgende week kyk ons na die kritiese rol wat kommunikasie binne ‘n gesin speel.

Marike Badenhorst
Opvoedkundige Sielkundige

Om jou “moeilike” kind te dissiplineer? Is dit moontlik?

Ongeag hoe “maklik” en aangenaam jou kind voor ander mense optree of ál die sosiale reëls nakom, sien jy as ouer dikwels ‘n totaal ander kind by die huis. Gelukkig, met meer kennis asook ‘n bietjie kreatiwiteit is daar maniere om op ‘n vreedsame manier ‘n moelike kind te dissiplineer en ook te leer om konfliksituasies te hanteer. As ouers kan ons nie verwag dat ons kinders te alle tye hulle uitsonderlik goed moet gedra nie. Kinders is besig om hul plek in die wêreld te vind en te leer om ‘n magdom nuwe emosies te hanteer. Daar is gewoonlik ’n paar redes vir hierdie gedrag:

‘n Soeke na onafhanklikheid:  onafhanklikheid is een van die vroegste sosiale vaardighede wat ‘n kind móét leer. Dit is dikwels die rede vir moeilik hanteerbare gedrag. Wat hulle eintlik vir ons probeer sê is: “Ek wil dit ‘n slag op mý manier doen!”

‘n Poging tot kontrole en om in beheer te voel: selfs as ‘n volwassene voel ons frustreerd wanneer ons nie beheer het oor ‘n sekere situasie nie. Dikwels,wat vir ons na swak gedrag lyk, is dalk net ons kind se manier om vir ons te probeer sê: ”Los alles en luister net na my…ek wil gehoor word!”

‘n Soeke na aandag:  kinders tree gewoonlik buite die grense op as ‘n manier om die aandag op hulle te vestig. Onthou, kinders ervaar emosies net so intens soos ons, hulle het dikwels net nog nie die taal om dit te verwoord nie. Dit kan uitspeel in ‘n gebrek aan kontrole en frustrasie.

Ander redes:  dit is normaal vir die maklikste kind om jou teen te gaan. Kyk na ander redes wat dit dalk mag veroorsaak: Het iets dalk by die skool gebeur? Was daar ‘n argument met ‘n maat? Hou ook altyd in gedagte: jou kind mag dalk net doodeenvoudig ‘n “af” dag hê. As volwassenes beleef ons ook dae waar alles skeefloop en ons vir niks kans sien nie. Ons kinders ook.                                                                                

                                                   Hoe leer ek dan my kind konflik hanteer?

Opponerende gedrag in kinders is normaal en ons moet dit verwag. Dit is doodeenvoudig deel van die lewe om nie saam te stem oor alles nie. Dit is wat ons uniek maak.  Selfs ‘n baie jong kind moet leer om konflik te hanteer: van hulle eerste baklei oor speelgoed tot koppe stamp op die speelgrond. Ongelukkig is daar net een plek waar kinders kan leer om konfliksituasies konstruktief te hanteer: in die huis en by hulle ouers.  Hoe jý konflik hanteer, gaan bepaal hoe jou kind konflik gaan hanteer. Al probeer jy oor-en-oor jou kind leer wat die regte manier is om op te tree, gaan jou kind dit nooit leer as jý ongelukkig ‘n swak voorbeeld stel nie. Met dit in gedagte, is daar vyf goed wat ons vir ons kinders kan leer:

  1. Ons mag verskil: Leer jou kind dat, om nie altyd saam te stem oor alles nie, heeltemal normaal is. Dit beteken nie dat ‘n mens nie nog steeds vriende kan wees nie.
  2. Leer jou kind om te luister: In enige konfliksituasie het die ander persoon ook die reg om sy/ haar standpunt te stel. Wees respekvol en moenie jou maat onderbreek totdat hy/sy nie klaar gesê het hoe hy/sy voel nie.
  3. Verskille is ‘n goeie ding: ‘n Mens kan nie áltyd iemand se opinie verander nie en daar is niks daarmee verkeerd nie. Dit is normaal en goed dat mense verskil en verskillend voel. Gebruik hierdie voorbeeld om dit vir jou kind te verduidelik: as ons almal van dieselfde soort roomys gehou het,  hoe kleurloos en vervelig sou die lewe nie gewees het nie?  
  4. Daar is ‘n tyd om te verskil en ‘n tyd om jou opinie vir jouself te hou.
  5. Jy hoef nie altyd die laaste woord te hê of die argument te “wen” nie. Indien dit lyk of jy en ‘n maatjie nie die verskil met respek vir mekaar kan oplos nie, stap weg. Jy gaan niks verloor as jy toelaat dat die ander persoon die laaste sê het nie. Inteendeel.

Indien jou kind van jongs af reeds bogenoemde beginsels tydens verskille kan toepas, leer jy hom/haar om as ‘n volwassene konstruktiewe debatte te hê, maar belangriker, om selfs die mense naaste aan jou met respek te hanteer wanneer julle verskil.

Marike Badenhorst                                                           Opvoedkundige Sielkundige

Hoe leer ek my kind om verantwoordelikheid vir foute te aanvaar?

Dis so moeilik vir ons as ouers om ons leerders die geleentheid te bied om self foute te maak en dan verantwoordelik vir hierdie foute te aanvaar.  Hoe moet ons dit hanteer?
Lees gerus hier oor die advies wat Marike Badenhorst vanuit die Zen Den aan ons bied.

Hoe leer ek my kind om verantwoordelikheid vir hulle foute te aanvaar?

Ongeag ‘n ouer se poging om die waarde van eerlikheid by jou kind te vestig, lyk dit soms of hy/sy enige iets doen om nié verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie. Hoekom nie? Hier volg moontlike redes waaraan ons as volwassenes nie altyd dink nie:

  • Vrees vir kritiek (disapproval): Jou kind mag bang wees om jou/die onderwyser/vriende teleur te stel. Deur nié verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie, hoop hulle om die negatiewe gevolge te ontduik wat mag volg.
  • Hoe wil ek hê moet ander my sien? Kinders, net soos volwassenes, wil gesien word as goed, bekwaam en eerlik. Daarom “beskerm” hulle hierdie beeld deur die blaam op iemand te verskuif of te ontken hulle is skuldig. Hulle glo hulle gaan dan nie gekonfronteer word of iemand nie teleurstel nie.
  • Om die gevolge te vermy: Deur die blaam op ander te plaas, hoop die kind hy/sy gaan die gevolge vryspring wat hy/sy weet gaan volg en waarvoor hy/sy ie kans sien nie.
  • Gebrek aan emosionele regulering: Soms is die emosies wat mag volg – skaamte, skuldgevoelens/ verleentheid – vir die kind nét te veel om te hanteer. Om die blaam te verskuif, gebruik hulle hierdie verdedigingsmeganisme om nié hierdie uitdagende emosies in die oë te kyk nie.

So, wat kan ons as ouers doen sodat ons kinders gemakliker kan sê: “Ek is jammer?”

  • “Normaliseer” foute: Vir jou kind om eerlik met jou te wees en te aanvaar hulle het ‘n fout gemaak, moet hulle glo om foute te maak, is aanvaarbaar. Gesels met jou kind en wees eerlik oor die foute wat jý gereeld maak en hoe jý daarop reageer.
  • “Stop. Begin weer”: Wanneer jou kind reageer met verskonings, ontkennings en argumente, probeer dalk hierdie eenvoudige tegniek: “Stop. Kom ons begin van vooraf.” Help hulle om te besef dat al wat hulle hoef te doen, is om verskoning te vra, dit agter hulle te sit en aan te gaan. Dit sal die gewoonte kweek om te aanvaar iets kán skeefloop, maar jy het altyd weer ‘n kans om dit nie weer te doen nie.
  • Soek saam met hulle na beter opsies: ‘n Kind wat kan aanvaar hy/sy mag foute maak het gewoonlik ouers wat openlik hieroor kan praat en saam met hulle kinders kyk na ander maniere om die probleem op te los. Probeer: “Ek verstaan hoekom jy dit gedoen het, maar wat dink jy kan jy volgende keer anders doen?”
  • “Back off a little”: Soms is dit net nodig om terug te staan sodat jou kind uit sy/haar foute leer. Dit is dikwels die enigste manier hoe jou kind kan leer om ander opsies te oorweeg.

Marike Badenhorst            
Opvoedkundige Sielkundige