MY KIND LUISTER NIE… IS DAAR HOOP?

 Die grootste frustrasie wat ons as ouers het, is wanneer ons kinders nie luister as ons hulle vra om iets te doen nie. Hoekom moet dit, wat vir ons voel ‘n baie logiese volgende stap is wat volgende moet gebeur, elke keer in ‘n debat ontaard? Hoekom doen hulle nie dadelik of onmiddellik wat ons wil hê hulle moet doen nie? Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie.

Kinders praat terug omdat hulle nog nie die vaardigheid aangeleer het om hul opinie te “filter” nie. Dit sluit in wát om te sê  en hóé om dit te sê. Het jy al ooit jou kind die volgende hoor sê: “Mamma jy is reg soos altyd. Ek is baie moeg. Ek weet dit is nou tyd om te gaan slaap…” Onrealistiese verwagting? Hoekom? Doodeenvoudig omdat hulle op hulle ouderdom glad nie bewus is van wat hulle NODIG het nie. Hulle reageer op WAT HULLE WIL HÊ.  Ongelukkig laat ‘n kind wat voortdurend terug praat en nie doen wat jy vra nie, jou ongeloofwaardig voel asook dat hulle nie jou rol as ouer respekteer nie.

DIE HARDE WERKLIKHEID…

Hoekom laat dit ons so totaal magteloos voel? Doodeenvoudig omdat ons as volwassenes weet dat dít wat ons vra, regtig in die kind se belang is. Dus: wat gebeur die oomblik wanneer hulle terug praat of doodeenvoudig weier om die opdrag uit te voer? Dit herinner ons dat ons nie régtig ten volle in beheer is soos ons wil wees of wat ons dink ons veronderstel is om te wees nie. 

Die realiteit wat ons bang maak, is dat ons weet hulle gaan uiteindelik hul eie keuses  moet maak.  En dít is die rasionaal agter ons gevoel van frustrasie en angs wanneer enige versoek wat ons rig, in ‘n debat ontaard: die moontlikheid dat hulle verkeerde keuses weg van ons gaan maak. En wat dan??  Is jou verwysingsraamwerk dat jou sukses as ouer gelyk is aan dat hulle moet doen wat jy vra sonder om terug te praat of voel jy dit is ‘n teken dat jy as ouer misluk as dit níé gebeur nie?  Ontspan. Dit gebeur in elke huis. Die goeie nuus is dat as jy anders hierna kyk en jou strategie verander, dit ‘n geleentheid kan word waar jy jou kind toerus met ‘n belangrike lewensvaardigheid.

WAT IS ONS EINDDOEL?

As ouers vergeet ons soms dat ons kinders individue is, ‘n persoon in eie reg. En al is ons in die posisie om die reëls te maak totdat hulle die huis verlaat, beteken dit nie dat hulle nie hul opinie mag gee en van jou mag verskil nie.

Soms gebruik ‘n ouer sy/haar outoriteit om die kind se stem “stil” te maak. Dit kan gevaarlik wees, want jy mag ‘n kind grootmaak wat nie vir hom-/haarself kan dink nie.  Dus, wil ons régtig hê ons kind moet in die toekoms die hardste, mees outoritêre stem daar buite volg, of wil ons hulle leer om op te staan vir wat hulle dink reg is?

Hoe leer ons dan ons kinders dat dit goed en reg  is om vir hulself te dink en om vrae te hê wanneer hulle nie ‘n reël verstaan nie, maar om dit op ‘n respekvolle manier te doen?  Ons wil tog hê dat hulle in die toekoms moet opstaan vir wat hulle dink is reg sonder om blindelings die massas te volg. Maar terselfdertyd wil ons hê hulle moet outoriteit respekteer.

Kan jou kind luister en reageer soos ‘n volwassene? Natuurlik nie. En hoekom nie? Hulle is steeds besig om te leer. Ouerskap is ongelukkig gelyk aan “teaching”. Dit is jóú werk om vir jou kind te wys hoe hy of sy moet luister en hoe om te verskil. Maar ons vergeet soms dat ons kinders tyd nodig het om te verstaan presies wat hier aan die gang is. So, as jy in die proses is om hulle te leer om te luister of van jou te verskil, onthou om aan hulle dieselfde geduld en grasie te gee as wat jy sou wou hê wanneer jý iets aanleer.   

Die wêreld van vandag het vrye en kreatiewe denkers nodig. Iemand wat oor goed kan redeneer en kan opstaan teen outoriteit indien hulle voel dit is verkeerd. Dít is hoe ons kinders gaan uitstaan bo die res.

Ons kyk volgende week na maniere hoe om ‘n respekvolle omgewing te skep waarin ons ons kinders kan leer hulle mág verskil en anders dink, maar dat die geheim is hóé om dit te doen.

Marike Badenhorst
Opvoedkundige sielkundige