Dit is die einde van die jaar en dit is vakansie! Dit is daardie tyd van die jaar waar ‘n gesin kwaliteit tyd saam spandeer en ons as ouers wil hê die dae moet met die minimum struwelinge en konflik verloop. Maar ons weet dit is nie so maklik nie! Tog kan onderlinge konflik beperk word as elke lid van die gesin vooraf presies weet watter gedrag binne hulle gesin aanvaarbaar is en watter gedrag nié toegelaat word nie. En dit konsekwent toe te pas. Hier gaan GRENSE en KOMMUNIKASIE hand aan hand.
Ons as ouers trap dikwels in die strik deur onrealistiese verwagtinge by ons kinders te skep. Ons primêre taak is om ons kinders voor te berei om ‘n goed gebalanseerde individu te wees wat met respek teenoor ander optree. Dit is nié ‘n verhouding waar jou kind die gevoel kry jy is bloot daar om aan al sy/haar eise en behoeftes te voldoen nie. Dit is waarom duidelike grense binne ‘n gesin so krities is. En ons moet by onsself begin.
Om duidelike grense te stel, beteken nie dat jy jouself distansieer of isoleer nie. Jy skep net ‘n atmosfeer waar jy voel jou behoeftes en welstand word deur die ander gesinslede gerespekteer. En ook dat dit vir jou belangrik is om aan elke gesinslid sy/haar ‘n eie unieke “ruimte” te gee waar hy/sy tuis, geliefd en onmisbaar kan voel.
Duidelike grense bevorder jou kind se onafhanklikheid. Al ís julle ‘n hegte gesin wat graag tyd saam spandeer, bly julle uiteenlopende individue wie se behoeftes en persoonlikhede verskil. Indien ons leer om dit waarvan ons hou of nié van hou nie op ‘n kalm, ferm manier te kommunikeer, verminder dit onnodige misverstande en konflik.
Aan die vooraand van ‘n lang vakansie en waar ons moontlik meer tyd saam gaan spandeer, is dit ook ‘n geleentheid vir PRET en aktiwiteite wat julle as gesin saam kan geniet en wat later deel kan word van julle eie unieke en spesiale “geheuebank” van herinneringe. En wat is meer spesiaal as om hierdie vakansie ingestel te wees op mekaar se liefdestale? In sy boek “Five Love Languages” wys Gary Chapman(1992) vyf maniere uit hoe ‘n klein gebaar ‘n magtige instrument kan word om verhoudings binne ‘n gesin te koester. Wat is jóú liefdestaal? Ken jou kinders dit”? En weet jy wat is hulle s’n?
Is jou kind se primêre liefdestaal woorde (“words of affirmation”) en kan hy/sy nie genoeg kere die woorde “Ek is lief vir jou” hoor nie? Indien jou kind se liefdestaal dalk kwaliteit tyd saam is, fokus op aktiwiteite wat nét julle deel en wees net onvoorwaardelik dáár. Dalk is fisiese aanraking of dade die “taal” waarmee jy die verste gaan kom: deur te wýs jy gee om, ‘n verbygaande ‘n drukkie, ‘n lekker skuimbad te tap…Of is dit geskenke: ’n simboliese gebaar, iets konkreets, hoe klein ookal… Wees net ingestel op mekaar se behoeftes en maak dit ‘n onvergeetlike vakansie!
Marike Badenhorst
Opvoedkundige Sielkundige