Die leesmodel “Reading Rope”
Lees is een van die belangrikste vaardighede wat kinders in die laerskool aanleer. Dit is nie net een enkele vaardigheid nie. Dit bestaan uit ‘n kombinasie van verskillende prosesse wat saamwerk om begrip en leesvlotheid te ontwikkel.
Die leesmodel “Reading Rope” is deur Dr. Hollis Scarborough gedurende die 1990’s ontwikkel. “Scarborough’s Reading Rope” is een van die mees toeganklike benaderings wat die komplekse prosesse van lees verduidelik.
Die model gee ‘n duidelike raamwerk van die verskillende leeskomponente.
Scarborough’s se leesmodel stel ‘n visuele model voor wat verduidelik hoe verskillende leesvaardighede saamwerk om leesvlotheid en begrip te ontwikkel. Die model stel metafories ‘n tou met twee hoofkomponente voor. Elke hoofkomponent bestaan uit verskeie in een geweefde leesvaardighede. Soos die vaardighede ontwikkel en saam gebruik word, word die tou saam geweef en word die tou al sterker, wat beteken leerders se lees word al beter.
Die model bestaan uit ‘n boonste netwerk en ‘n onderste netwerk
Die boonste netwerk bestaan: Die onderste netwerk:
- Taal & begrip 2. Woordherkenning
– Agtergrondkennis – Fonologiese bewustheid
– Woordeskat – Dekodering
– Taalstrukture – Alfabetletters
– Verbale redenering – Klankbewustheid
– Geletterheidkennis – Sigwoorde
Onderste deel: Woordherkenning
Die onderste deel van die tou se vaardighede help met aanvangslees. Lesers leer lees deur klanke te herken en uit te spreek. Hulle kan woorde dekodeer en hulle kan woorde lees. Hulle leer om hoë frekwensie woorde te herken sonder om elke letter te klank wat leesspoed verbeter.
Wenke:
– Speel rymwoordspeletjies. Byvoorbeeld watter woorde rym met kat.
– Klapspeletjie. Klap jou hande vir elke klank in die woord. Bv. h-o-n-d
– Sê ‘n woord en laat dan ‘n klank uit. Die kind moet vir jou sê watter klank is uitgelaat. Bv. perd -erd of per- of p-rd
– Sigwoorde: Speel sigwoordebingo of lees die woorde teen spoed en probeer elke dag al vinniger lees.
– Gedeelde lees help lesers met selfvertroue. As ouer lees jy die sin. Dan jou kind en so lees julle saam-saam die bladsy.
Boonste deel: Taal en begrip
Die boonste deel van die tou bestaan uit agtergrondkennis. Agtergrondkennis is ‘n baie belangrike vaardigheid van lees, want dit help lesers om nuwe idees en ervarings te verstaan. Lesers benodig agtergrondkennis om die konteks van die leesstuk te verstaan. Woordeskat is volgende en woorde help lesers om die storie te verstaan. Woordeskat word gebou deur praat, luister, lees en ervarings. Volgende is taalstruktuur. Lesers moet verstaan hoe sinne gevorm word. Dit help lesers om betekenis van die sinne te verstaan. Verbale redenering is die vermoë om tussen die lyne te lees en om jou agtergrondkennis te gebruik om afleidings te kan maak. Deur geletterheidskennis kan die leser vasstel wat die hooftema of idee van die teks is. Lesers kan vinnig ‘n opsomming van die teks gee en kan dan sekere vrae daaroor beantwoord.
Hier is ‘n paar wenke hoe om hierdie deel te ontwikkel:
– Praat gereeld oor nuwe woorde en hul betekenisse.
– Lees boeke vir jou kind wat bietjie moeiliker is en verduidelik moeilike woorde.
– Skep in jou huis ‘n woordmuur. Sit kaartjies met die woorde teen die woordmuur op.
– Speel woord-van-die-dag speletjies. Kyk wie kom met die mees oorspronklike nuwe woord op en sit dit op die woordmuur. Speel verder die speletjie en kyk wie gebruik die woord die meeste in sinne.
– Voordat julle ‘n storie lees: Dink eers na oor wat julle van die tema weet. Lees die opskrif of titel van die boek en gesels eers daaroor. Gesels na die storie verder. Byvoorbeeld hoe het die teks by julle agtergrondkennis ingepas. Wat was nuut of anders wat julle na die teks se lees geleer het. Leer jou kind om kritiese vrae oor die teks te. Bespreek die vrae.
– Leer jou kind om die sleutelwoorde te soek in die teks.
– Leerders in die Intersenfase kan aangeleer word om ‘n kort opsomming van die teks te maak. Gesels met jou kind oor die doel van opsommings. Waarom is die vaardigheid baie belangrik?
Gevolgtrekking
Scarborough se leesmodel verduidelik dat leesontwikkeling ‘n proses is en nie net enkele vaardighede nie.
Lesers moet woorde akkuraat en vlot kan lees om die betekenis van die verskillende tekste te verstaan. So verbeter leesvlotheid en leesbegrip.
Hoe sterker die tou gevleg word, hoe beter sal ‘n leser met begrip kan lees.
Lees is soos ‘n tou. Elke vaardigheid help om jou kind se leesvaardighede sterker te maak. Bou dit stadig en maak dit interessant en lekker. So sal die tou al sterker kan word sodat jou kind die tou kan gebruik tydens hulle skoolreis.
Geskryf deur Marietjie de Kock (Zen Den)