Gedurende die volgende drie weke gaan ons die klem op leesontwikkeling plaas. Inligting rakende die verskillende leesmodelle sal bespreek word.

Hierdie week se leesmodel: Duke & Cartwright (2021) se “Active View of Reading

Lees is ‘n komplekse proses wat baie dele van die brein gebruik. Onlangs het ons in die media gehoor dat meer as 80% van die leerders in graad 4 nie met begrip kan lees nie.

Lees is nie ‘n natuurlike vaardigheid wat kinders aanleer soos byvoorbeeld praat of loop nie. Lees is ‘n komplekse kognitiewe proses wat die brein aanleer. Tydens lees word baie verskillende dele van die brein gebruik.

Die volgende vier hoofareas word tydens lees gebruik:

* Frontale lob: Die area van die brein help leerders om woorde vinnig te herken sonder om elke letter individueel te dekodeer.

* Pariëntale lob: Sensoriese bewustheid vind hier plaas. Leerders gebruik die deel van die brein vir fonologiese bewustheid. Om bewus te word van die klanke van letters en om visueel die letters te herken.

* Oksipitale lob: Die gedeelte word gebruik vir visuele herkenning van woorde; visuele geheue; leesspoed en visuele diskriminasie.

* Temporale lob: Die area van die brein help leerders om letters en klanke te verbind. ‘n Sleutelvaardigheid vir dekodering. Die deel help ook met die betekenis van woorde en sinne.

Volgens Duke & Cartwright (2021) se “Active View of Reading” is lees nie net die herkenning van woorde nie, maar ‘n aktiewe kognitiewe proses wat vereis dat kinders gebruik maak van verskillende vaardighede.

Die model beklemtoon drie belangrike komponente in, naamlik: woordherkenning; taalbegrip, probleemoplossingstrategieë en uitvoerende funksies. Volgens dié model moet kinders aktief betrokke by die leesstrategie wees.

Die vraag by ouers is natuurlik hoe kan ek na aanleiding van bogenoemde model my kind met lees help?

Hier volg ‘n paar idees:

Grondslagfase

* Maak gebruik van gedeelde lees (paired reading). As ouer lees jy ‘n sin en dan laat jy jou kind dieselfde sin lees. So kan jou kind die woorde sien en hoor. Dit help kinders met selfvertroue en om die woorde korrek uit te spreek.

* Speel speletjies met sigwoorde deur flitskaarte van die woorde te maak. Kinders moet die woorde op sig kan lees sonder om die woorde te klank.

* Laat jou kind na die prent van ‘n leesstuk kyk en gesels met jou kind oor die prent. Vra die volgende tipe vrae: Wat sien jy in die prent? Wat doen hulle? Wat dink jy sal gebeur as die hond kan vlieg? Hoe dink jy voel die vrou? Wat in die prent sal jy wil verander?

* Oogbewegings is baie belangrik. Maak jou kind bewus dat ons oë van links na regs beweeg. Daar is verskeie oogbewegings wat jy vir jou kind kan gee om sy/haar oë te oefen.

* Moenie jou kind die heeltyd reg help as hulle ‘n woord verkeerd lees nie. Dit kan hulle selfvertroue beïnvloed. Lees die sin oor en vra vir jou kind om na die woord te kyk wat hy/sy verkeerd gelees het. Vra vir jou kind watter klank in die woord ‘n mens kan uitvang.

Intersenfase

* Leerders kan uitvoerende funksies (executive functioning) toepas, voordat hulle begin lees.

* Bevorder leesgeheue.

* Leer ‘n goeie woordaanpakstrategie aan.

* Pas taalkennis toe.

* Laat jou kind verskillende tipe vrae oor die leesstuk opstel.

* Bevorder jou kind se kritiese denke deur die leesstuk oor te skryf en die karakters te verander na ruimtewesens of verskillende tipe diere.

* Gee vir die kinders ‘n prent en laat hulle, hulle eie leesstuk skryf. Lees die skryfstuk vir iemand voor.

* Verbeter leesspoed deur sigwoorde teen spoed te lees. Kyk hoeveel sigwoorde jou kind in een minuut kan lees.

Lees is soos ‘n towersleutel wat ‘n wêreld vol stories, kennis en avonture oopsluit. Elke woord wat jou kind lees, bou sy/haar brein, verbeelding, selfvertroue en kennis.

Marietjie de Kock (Zen Den)