Op uitnodiging van HS JvR woon ‘n groepie van ons laerskool- en Huppelland-ouers die motiveringspraatjie wat deur Johan Smith op Woensdagaand, 4 Junie, aangebied is, te HS JvR by. Motiverend was Johan Smith se woorde inderdaad: motivering aan ouers om dissipline op ‘n positiewe manier met moed aan te pak. Ek som graag die inhoud van hierdie treffende aanbieding op, aangesien elke ouer hierdie inligting benodig.
Volwasse ouers moet soos helikopters hoog bo hul kind se kop vlieg – hoog genoeg sodat jy wyd kan kyk en die toekoms met durf saam met jou kind kan aanpak. Die doel van ouerskap is om ons kinders na volwassenheid te lei deur hulle te help om van rigting te verander indien hulle moontlik ‘n rigting wil inslaan wat nie ‘n suksesvolle eindresultaat inhou nie.
Met hierdie eindresultaat word daar geen druk op prestasie geplaas nie, maar eerder op uiteindelik gebalanseerde volwassenes met karakter te fokus. Karaktereienskappe waaroor ons eendag wil trots wees, is: integriteit, eerlikheid, empatie, verantwoordelikheid, respek, ens. Wanneer jou volwasse kinders hierdie eienskappe besit, weet jy dat jy as ouer geslaag het. Om in hierdie doel te slaag, beteken dat jy as ouer sterk in jouself moet staan en dat julle as ‘n ouerspan moet saamwerk om dieselfde doel te bereik.
Hierdie tydperk kom met beproewings en verloop nie altyd soos maanskyn en rose nie.
Deur positiewe dissipline toe te pas, voel ons kinders veilig en geborge. Hulle selfbeeld word positief beïnvloed deurdat hulle positiewe terugvoer op hul gedrag ontvang, bv. deur om vriendelik te groet, mense en diere met respek te behandel, mooi maniere te handhaaf, gesonde verhoudings te kweek, ens. Hulle sosiale lewe sal mooi ontwikkel en gesond wees indien daar goeie struktuur, roetine en grense van jongs af tuis toegepas word.
Johan, wat vier grade in Ekonomie verwerf het, erken heelhartig dat ouerskap foute insluit en dat dit menslik is om soms met dissipline te faal. Hy beklemtoon egter die belangrikheid dat ouers liefs nie hul jong kind se vriend moet probeer wees nie. Hy noem dat dit aaklig is om dissipline toe te pas, veral as jou kind ontevrede met jou is en jou as die slegste ouer ooit uitmaak. Dit was bevrydend om te hoor dat dit normaal is en dat dit die rol is wat elke ouer moet speel. Hy meld dat dit kinders se rol is om grense te toets, en ouers se rol is om grense daar te stel. Kinders word ongelukkig nie met grense gebore nie.
So, wat is dissipline? Dissipline gaan oor karakterontwikkeling en om jou kind se toekoms te bou. Met dissipline moet jy vorentoe in plaas van agtertoe kyk. Dissipline beteken dat daar gevolge vir jou dade is. Dissipline moet verkieslik so gou moontlik toegepas word sodat die gedrag onmiddellik aangespreek en verander kan word. Poog om nie jou kind te dreig met straf of dissipline nie. Dreig skep angs by kinders. Ons wil so graag ons kinders van “pyn en lyding” spaar, maar hierdie gevolge van hul aksies is deel van hul grootwordproses en help om karakter te bou. Ons rol as ouers is om hulle hierdeur te mentor en te lei deur gesonde, effektiewe en onmiddellike dissipline toe te pas.
Straf is deel van dissipline, maar moet omtrent net so 20% van dissipline inhou. Straf gebeur wanneer iets in die verlede gebeur het. Dissipline is teenwoordig – nou. Dissipline beteken nie ‘n konstante oorlog nie. Deur goeie struktuur en roetine vas te stel, bied ouers hul kinders die nodige ruimte om hulself te ontwikkel.
Indien dissipline nie toegepas word nie, berei jy jou kind voor vir ‘n wêreld wat nie bestaan nie. Die negatiewe gedrag sal voortgaan en kan selfs vererger, wat beteken dat jou kind sy/haar grootste vyand mag word. Kinders moet besef dat die lewe nie net oor hulle gaan nie, maar ook oor diegene rondom hulle.
Ons as ouers moet dikwels moeilike besluite neem ter wille van ons kinders se toekoms.
Johan verwys deurentyd na sprekers en outeurs. Hy skoei sy praatjie op navorsing. Hyself is ‘n motiveringspreker en outeur wat die nie-winsgewende organisasie VitaAmp se stigterslid is. Hier is ‘n paar bronne waarna hy verwys het:
-
Andy en Sandra Stanley (Parenting: Getting it Right)
-
Dr. Lisa Damour (Opvoedkundige sielkundige en outeur van onder andere:
Untangled: Guiding Teenage Girls Through the Seven Transitions into Adulthood, 2016
The Emotional Lives of Teenagers: Raising Connected, Capable, and Compassionate Adolescents, 2023) -
Dr. Henry Cloud (spreker en outeur)
-
John Rosmead (lewensafrigter, spreker en outeur)
Luister en kyk gerus na hierdie video op YouTube van John Rosmead – Vitamin N
Marinda Brink