Jou slapende tiener se slaappatrone lyk heelwat anders as toe jou kind 8 of 9 jaar oud was. Wat sal die rede hiervoor wees, en hoe verseker ek dat my tiener voldoende slaap kry?

Om 8 ure te slaap is nie normaal nie. Dis eerder die gemiddelde hoeveelheid ure wat mense moet slaap. Kinders tussen 6–12 jaar moet 9–12 ure slaap, en tieners (13–18 jaar) moet 8–10 ure slaap.

Dr. Allison Bentley van die Restonic Ezintsha Sleep Clinic beweer dat dit belangrik is om te bepaal wat jou kind se unieke slaappatroon is. Sommige mense kom goed met minder slaap oor die weg, terwyl ander weer soveel moontlik moet slaap. Slaapgewoontes kan geneties van aard wees; daarom is dit uiters belangrik om jou kind so goed moontlik te ken.

Dr. Bentley verduidelik hoe jou liggaam aanpas om te slaap: “Sodra die son ondergaan, tree melatonien in werking, wat help om jou rustig en slaperig te maak. Die liggaam se temperatuur daal, en dit help die liggaam om te slaap.”

In die era waarin ons leef, is skerms ‘n gegewe. Die probleem met tieners en skerms is die lig van die skerm en die afstand wat die skerm vanaf die tiener se gesig is wanneer hulle in die bed met die selfoon lê. Dit beteken dat daar helder lig in hul oë skyn, wat die natuurlike melatonienafskeiding onderdruk en slaap uitstel. Dan praat ons nie eers van die inhoud van dit wat op die selfoon ingeneem word nie. Volgens dr. Hanneke Heyns (pediater, Thriving Kids) voorkom die blou lig wat aankom op die selfoon as daar ‘n boodskap of kennisgewing inkom—al slaap die kind—dat die brein in diep slaap gaan en behoorlik rus kry. Dit word voorgestel dat die foon nie saam met die kind in die kamer bly nie.

Dr. Bentley noem dat dit belangrik is om die gevolge van te min slaap in ag te neem. Sy sê dat die gevolge van te min slaap is dat geheuefunksies en die stoor van belangrike inligting tydens leer aangetas word. Wat interessant is, is dat tieners natuurlik in naguile ontaard, aangesien hul natuurlike slaaptyd met omtrent twee ure per nag aanskuif. Dit beteken dat hulle nou baie maklik 23:00 of 24:00 eers gaan slaap. Ongelukkig is ons skoolstelsel nie hiervoor aangepas nie. Die skole begin almal voor 08:00, wat beteken dat baie tieners nie genoeg slaap gekry het nie. Hulle word wakker, maar is nog nie juis ‘wakker’ nie. Hulle is dan geïrriteerd en wil nie eet nie; daarom is ‘n vinnige, maklike ontbyt soos ‘n smoothie’ van pas. Die gevolge van te min slaap is moegheid en spanning tydens klastyd. Soms kan hierdie gevolg tot lae akademiese prestasie en selfs swak gedrag lei. Met tyd kan hierdie tiener selfs depressief raak. Hulle immuniteit is ook in gedrang, wat tieners meer geneig tot siektes maak. Dis gewoon vir tieners en studente om tydens eksamentyd baie min te slaap en deur die nag te studeer. Sodra hierdie tydperk verby is, is daar gewoonlik ‘n verkoue of virale infeksie wat wag.

Let asseblief op jou kind se slaaphigiëne – spesifiek hoekom jou kind nie goed slaap nie. Bv. snork jou kind? Kinders is nie veronderstel om te snork nie. ‘n Goeie mediese ondersoek sal hopelik die oorsaak hiervan bepaal. Ly jou kind dalk aan restless legs syndrome? Hierdie mediese toestand veroorsaak swak slaap. Wanneer jou tiener aan slaapapnee ly, maak dit hulle soms baie angstig om te gaan slaap, wat beteken dat slaaptyd verder uitgestel kan word. Medikasie mag ook slaap beïnvloed, wat ondersoek moet word. Die probleem met dit alles is dat ‘n wrede slaapsiklus ontstaan wat soms veroorsaak dat middagslapies nodig is, wat weer maak dat jou kind saans te laat aan die slaap raak.

Dr. Heyns stel voor dat ’n magnesiumaanvulling saans geneem word om natuurlike slaap te bevorder. Sy noem ook dat dit kardinaal is om ’n streng slaaproetine te vestig. Dit beteken dat jou kind saans min of meer dieselfde tyd gaan slaap en soggens dieselfde tyd wakker word.

Die punt is dat jy verlief moet neem indien jou slapende skoonheid tydens naweke laatoggend of selfs vroegmiddag eers te voorskyn kom. Hierdie tienerfase sal verbygaan, en dan sal jou kind se slaap weer anders lyk. Motiveer intussen genoeg slaap.


Bronne:

Dr. Allison Bentley, Restonic Ezintsha Sleep Clinic, Restonic Power of Sleep podcasts (Professional Minds-konferensie, Mei 2025)

Dr. Hanneke Heyns, Pediater, Thriving Kids, Junie 2025

Marinda Brink