Op watter ouderdom kan my kind ‘n slimfoon kry? Wat is die effek van slimfoongebruik op kinders en wat is die voor- en nadele daarvan om ‘n foon op ‘n jong ouderdom te hê?
H
oe leer ek my kind om ‘n foon op ‘n gesonde en veilige manier te gebruik?

Konteks

In die digitale era is tegnologie met ons en ons kinders se alledaagse lewe verweef. Een van die debatte wat tans wêreldwyd heers, is op watter ouderdom kinders gereed is om ‘n slimfoon te kry of te gebruik. Bill Gates en James Steyer van Common Sense Media het hul eie kinders byvoorbeeld eers op 14-jarige ouderdom toegelaat om ‘n slimfoon te hê, terwyl Steve Jobs nie toegelaat het dat sy eie jong kinders ‘n iPad by die huis gebruik nie.

Met sosiale media, kommunikasie behoeftes, skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite, kan dit moeilik wees om te besluit wanneer jou kind ‘n slimfoon kan begin gebruik. ‘n Slimfoon bied verskeie voordele, maar daar is ook risiko’s aan verbonde, veral vir jonger kinders.

In hierdie DInK-slim uitgawe verken ons die voor- en nadele daarvan om kinders met slimfone toe te rus en bied ons nuttige wenke sodat ouers ingeligte besluite oor hierdie belangrike en aktuele onderwerp kan neem.

DInK-slim Meningspeiling

Impak van Slimfoongebruik op Verskillende Ouderdomsgroepe

Om te kan besluit wanneer jou kind oud genoeg is om ‘n selfoon te gebruik, is dit belangrik dat ouers verstaan wat die impak daarvan op hul ontwikkeling is.

Jonger as 2 Jaar
Vroeë ontwikkeling is baie afhanklik van persoonlike interaksie en sensoriese ontdekkings. Die aanbeveling is om op hierdie jong ouderdom blootstelling aan enige digitale skerms te vermy, behalwe dalk om video gesprekke met geliefdes te fasiliteer.

Ouderdom 4 tot 6
Op hierdie ouderdom is persoonlike interaksie baie belangrik vir die ontwikkeling van sosiale vaardighede en kognitiewe ontwikkeling. Slimfoongebruik word nie aanbeveel nie en blootstelling aan digitale media moet beperk word tot interaktiewe inhoud van hoë kwaliteit, wat leer opvoedkundig van aard is.

Ouderdom 7 tot 11
‘n Selfoon kan nuttig wees om in kontak te bly, maar fone behoort toegang tot beperkte funksies te hê en geen internet toegang nie. Toesighouding is nodig om blootstelling aan onvanpaste materiaal en sosiale media risiko’s te voorkom. Ouers moet ook seker maak selfoongebruik ondermyn nie fisiese aktiwiteit nie en meng nie met sosiale interaksies of jou kind se slaap in nie.

Ouderdom 12 tot 13
Kinders het beter probleemoplossingvaardighede en vaardighede vir kritiese denke begin ontwikkel. In plaas van streng beperkings, beveel sielkundiges aan dat ouers die nodige leiding aan tieners verskaf vir ‘n bewustelike ingesteldheid t.o.v. selfoongebruik en om seker te maak dit ondersteun leer, sosiale konneksies en geestelike welstand. Bepaal die volwassenheid en verantwoordelikheidsin van jou kind voordat jy vir hom of haar ‘n slimfoon gee.

Ouderdom 14 tot 18
Kinders in hierdie ouderdomsgroep is meer gereed om ‘n slimfoon te gebruik. Dit is belangrik dat ouers wel besef dat die prefrontrale korteks van die brein, wat verantwoordelik is vir besluitneming, impulsbeheer, beplanning, organisering- en redenasievermoë, is eers in die mid-20’s ten volle ontwikkel. Ouers het dus steeds die verantwoordelikheid om aktiewe leiding oor verantwoordelike gebruik en gesonde slimfoongewoontes te verskaf. Ongekontroleerde internettoegang kan nadelige gevolge vir tieners inhou. Dit is ook belangrik dat ouers seker maak daar is vasgestelde tye wat geen skermtyd toegelaat word nie, byvoorbeeld aan tafel en voor slaaptyd, om te verseker jou tiener kry genoeg slaap.

Hoe bepaal ek my kind se gereedheid om ‘n slimfoon te gebruik?

Om jou kind se gereedheid vir ‘n slimfoon te beoordeel, kan jy die volgende oorweeg en toepas:

Evalueer kinders se gereedheid ten opsigte van hul:

  • Volwassenheid
    • Kan jou kind moeilike situasies hanteer sonder om impulsief te reageer?
    • Demonstreer hulle emosionele stabiliteit en ‘n vermoë om verantwoordelike keuses te maak?
  • Sin vir verantwoordelikheid
    • Behandel hulle ander se eiendom en hul eie besittings met sorg?
    • Volg hulle huishoudelike reëls en kom hulle hul skoolverantwoordelikhede konsekwent na?
  • Verstaan van grense
    • Begryp jou kind die belangrikheid van tydgrense, soos beperkte skermtyd?
    • Verstaan hulle die belangrikheid daarvan om nie persoonlike inligting te deel nie en kan hulle aanlyn- en privaatheidsgrense respekteer?

Gesprekvoering om jou kind se bewustheid te bepaal:

  • Vra waarom hulle voel hulle is gereed om ‘n slimfoon te gebruik.
    • Stel vrae oor hoe hulle dink ‘n slimfoon hul lewe sal bevoordeel.
  • Vra waarvoor hulle dit wil gebruik.
    • Laat jou kind verduidelik waarvoor hulle ‘n slimfoon sal gebruik. Is dit om te kommunikeer, speletjies te speel, te leer, of om sosiale media te gebruik? Hierdie insig kan help om toepaslike grense en reëls vooraf op te stel.
  • Gesels met jou kind oor potensiële risiko’s soos aanlyn privaatheidsrisiko’s, kuberboeliegedrag, skermverslawing. Bespreek die volgende met jou kind:
    • Aanlyn privaatheidrisiko’s: Die belangrikheid van sterk wagwoorde en om nie persoonlike inligting te deel nie.
    • Kuberboeliegedrag: Hoe om dit te identifiseer en wat hulle moet doen indien dit gebeur.
    • Skermverslawing: Die waarde van balans tussen aanlyn aktiwiteite en ander gesonde gewoontes.

Is ek as ouer gereed vir die verantwoordelikheid dat my kind ‘n slimfoon gebruik?

Om te beoordeel of jy as ouer daarvoor gereed is dat jou kind ‘n slimfoon gebruik, vra jouself die volgende vrae:

  • Is ek gereed om self ‘n voorbeeld van verantwoordelike slimfoongebruik te stel?
  • Hoe gaan ek my kind se slimfoongebruik monitor?
  • Weet ek hoe om toepassings se privaatheidverstellings na te gaan en op te stel?
  • Is ek ingelig oor privaatheid- en veiligheidsrisiko’s wat met slimfoongebruik gepaard gaan?
  • Is ek op hoogte van tegnologie tendense en goeie praktyke?
  • Is ek ingelig oor die digitale wêreld waar binne my kind interaksies gaan hê?

Hoe kan ek privaatheid en veiligheidrisiko’s help bestuur?

Help jou kind om veilige aanlyn ervarings te hê:

  • Monitor jou kind se selfoon- en toepassingsgebruik en kom ooreen dat jy toegang tot die toestel het.
  • Bepaal watter toepassings jou kind kan gebruik.
  • Verstaan watter persoonlike inligting en gebruiksdata deur toepassings versamel word en waarvoor dit gebruik word.
  • Gaan gereeld toepassings se toestemmingverstellings (app permissions) na.
  • Respekteer die minimum ouderdomsvereistes van toepassings, insluitend sosiale media. In Suid-Afrika is die ouderdomsvereiste van die meeste sosiale media platforms 13 jaar. (Facebook, Instagram, Snapchat, TikTok, Discord, YouTube, WhatsApp, X). Die ontwikkelingsvlak van jonger kinders beteken dat hulle nog nie toegerus is om sosiale media op ‘n verantwoordelike manier te gebruik nie.
  • Indien jou kind wel sosiale media gebruik, maak seker dat hulle profiel privaat is en nie oop is vir die publiek nie.
  • Stel ouerbeheer (parental control) op om skermtyd te bestuur, inhoud te filter en ligging op te spoor. Gebruik ingeboude beheer soos Microsoft Family Safety, Google Family Link of Apple Screen Time. Derde party toepassings soos Qustudio, Mobicip, Bark, Boomerang of Family Time kan ook hiervoor gebruik word. Die meeste internet sekuriteitsagteware, soos Bitdefender Total Security, Norton 360 Deluxe, McAfee Total Protection en Kaspersky Safe Kids bied ook ouerbeheer funksionaliteit.
  • Kweek bewustheid by jou kind oor hul digitale voetspoor.
    ( Hoe lyk my kind se digitale voetspoor en waarom maak dit saak? | Laerskool Jan van Riebeeck).
  • Skep geleentheid vir oop gesprekke met jou kind oor digitale veiligheid, sodat jou kind die vrymoedigheid het om met jou te gesels as iets hulle aanlyn hinder of ontstel.

Hoe kan ouers verantwoordelike slimfoongedrag oordra?

  • Volg self ‘n gebalanseerde benadering en skep geleentheid vir persoonlike interaksie met jou kind.
  • Bepaal foonvrye tyd vir die gesin, bv. etenstyd, gesinstyd, slaaptyd.
  • Skep foonvrye areas in die huis.
  • Bewustelike bestuur van jou eie slimfoongebruik stel ‘n voorbeeld van selfregulering

Nadele van te vroeë blootstelling aan slimfone

  • Kan breinontwikkeling beïnvloed.
  • Belemmer ontwikkeling van sosiale vaardighede.
  • Blootstelling aan onvanpaste / skadelike inhoud.
  • Kan lei tot tegnologie verslawing.

Redes waarom kinders moontlik toegang tot ‘n foon nodig het

  • Ouers kan hul kinders se bewegings monitor – weet waar hulle is.
  • Kinders bly op hoogte met gebruik van tegnologie.
  • Help met skep van herinneringe met foto’s en video’s.
  • Opvoedkundig en vir akademiese werk.
  • Verantwoordelike kommunikasie met vriende

Maniere om kinders te begelei in gesonde slimfoongebruik

  • Skep ‘n gesinskontrak wat reëls vir slimfoongebruik, asook gevolge vir verbreking van reëls spesifiseer. Spesifiek die Waar, Wanneer en Hoe lank.
  • Ouers behoort ‘n voorbeeld van gesonde en verantwoordelike gebruik te stel deur oor eie selfoongebruik te dink en self die gesinsreëls na te kom.
  • Begin deur jou kind eers ‘n foon sonder Internettoegang te gee en later, wanneer hulle ouer is en ‘n groter verantwoordeliksin ontwikkel het, kan ‘n slimfoon oorweeg word.
  • Leer jou kind foonetiket, bv. wanneer is dit van pas om ‘n foon te gebruik en wanneer behoort dit weggesit te word. Moedig respekvolle kommunikasie aan.
  • Stel ouerbeheer (parental controls) op slimfoon op. Skakel toeps wat onnodige liggingsdienste (location services) gebruik, af.
  • Leer kinders om nie persoonlike inligting aanlyn te deel nie en ook nie sosiale media versoeke van vreemdelinge (mense wat hulle nie in persoon ken nie) te aanvaar nie.
  • Waarsku kinders teen die skep of aanstuur van vernederende of onwelvoeglike foto’s video’s, e-posse of teksboodskappe.
  • Bestuur die hoeveelheid tyd wat jou kind aanlyn spandeer.
  • Gebruik ‘n gewone wekker. Geen selfoon in die kamer in die aand nie.
  • Slimfone word op ‘n sentrale plek in die huis herlaai sodat dit nie in die kind se kamer gedoen hoef te word nie.
  • Geen selfoon in die kamer wanneer studeer word nie, veral wanneer die foon nog ‘n nuutjie of nuwe ervaring vir jou kind is.

Alternatiewe tot slimfone vir kinders

  • Eenvoudige selfone wat oproepe kan maak of teksboodskappe stuur. Fokus slegs op noodsaaklike kommunikasie. Minimaliseer afleiding deur sosiale media of speletjies.
  • Tablette met beperkte toegang. Stel ouerbeheer op om toegang tot spesifieke toepassings of webtuistes te beperk. Laat kinders toe om opvoedkundige toeps te gebruik, sonder blootstelling aan ongereguleerde inhoud.
  • Slimhorlosies. Kindervriendelike slimhorlosies kan oproepe hanteer en bied GPS-opsporing.
  • Tweerigtingradio’s. Vir jonger kinders bied tweerigtingradio’s ‘n prettige manier om te kommunikeer sonder die kompleksiteit van ‘n slimfoon. Dit moedig ook buite speeltyd en spanwerk met ander kinders aan.
  • Digitale kameras. ‘n Digitale kamera is ‘n uitstekende manier om kinders se kreatiwiteit aan te wakker, sonder die inmenging van ‘n slimfoon. Digitale kameras bied ook aan kinders ‘n manier om hul omgewing waar te neem en interaksie met die omgewing te hê.
  • Rekenaar of skootrekenaar met toesighouding. Toegang tot ‘n gesinsrekenaar kan aan kinders die geleentheid bied om opvoedkundige inhoud te verken en met maats en familie in kontak te bly via digitale kommunikasiekanale wat met die nodige toesighouding bestuur word.

 

Is die tyd reg dat my kind ‘n slimfoon kry?

Soos ons gesien het, is daar nie ‘n definitiewe antwoord op hierdie vraag nie. Dit is elke ouer se verantwoordelikheid om te besluit wanneer hul kind gereed is om ‘n slimfoon op ‘n verantwoordelike wyse te kan gebruik. Kenners meen verkieslik nie voor die ouderdom van 14 jaar nie.

Wat ook al die ouderdom, dit is belangrik dat ouers dit vir die regte redes doen en nie omdat hulle dink dit gaan hul kind meer tegnologies vaardig maak, of omdat al die maats ‘n foon het nie. Neem ‘n ingeligte besluit, bepaal die reëls, pas die reëls toe en stel ‘n goeie voorbeeld vir jou kind.


DInK-slim Meningspeiling

Hulpbronne:

  • American Academy of Pediatrics. 2016. Screen Time Guidelines. https://www.aap.org/en/patient-care/media-and-children/center-of-excellence-on-social-media-and-youth-mental-health/qa-portal/qa-portal-library/qa-portal-library-questions/screen-time-guidelines/
  • CBS News. 2018. Jerry Burbick: The effects of Cellphones on Children. https://www.youtube.com/watch?v=LKd7MYAmjXU
  • Handspring Health. 2025. Should Kids Have Phones? Pros, Cons, and Recommendations. https://www.handspringhealth.com/post/should-kids-have-phones
  • Parents. 2023. How to Tell If Your Kid Is Ready for a Smartphone. https://www.parents.com/kids/safety/internet/the-great-phone-debate/
  • Simon Sinek. 2023. How Cell Phones Impact our Relationships. https://youtu.be/0tVw2xArV0k
  • Simply Outline. 2024. Guiding Kids’ Smartphone Usage: A Parent’s Guide. https://www.youtube.com/watch?v=3DdWtBrvP4c
  • World Health Organization. 2019. To grow up healthy, children need to sit less and play more. https://www.who.int/news/item/24-04-2019-to-grow-up-healthy-children-need-to-sit-less-and-play-more