Om met tieners te werk, is ’n spesiale fokus en ingesteldheid nodig.
Puberteit begin nie eers op 13 nie, maar lank reeds voor dit. Dis ’n lang, uitgerekte fase wat met groot sorg aangepak moet word. Die volgende paar weke val die fokus op ons tieners. Trek gerus die bril nader as dit moet!
Inleiding tot puberteit:
Om puberteit te betree, is ’n vreeslike uitdagende en uitgerekte tydperk wat op elke kind wag. Hierdie fase word gekenmerk deur fisiese en biologiese, hormonale, emosionele en kognitiewe groei en ontwikkeling. Dis gedurende hierdie tydperk waar die soeke na identiteit ’n hoogtepunt bereik. Puberteit word beskou as ’n ontdekkingsfase wat met verwarring, uitdagings en druk gepaardgaan.
Fisiologiese ontwikkeling:
Puberteit kan vanaf 8–13 jaar by meisies en 9–14 jaar by seuns begin. Volgens navorsing het die beginfase van puberteit oor die afgelope jare vervroeg, terwyl die beëindiging steeds dieselfde ouderdom is. Voedselinname, omgewingsfaktore en stres kan redes hiervoor wees. Gemiddelde beginouderdom van meisies in die VSA is 7,6 jaar, terwyl ons in SA op ’n gemiddelde ouderdom van 12,5 jaar met puberteit begin. Deur ’n X-straal van die kind se linkerhand te neem, kan bepaal word watter groeifase nog voorlê en wanneer puberteit verwag kan word. Voordat puberteit bereik word, is daar ’n fase waartydens die kind se liggaam reeds begin aanpas om hierdie nuwe fase tegemoet te gaan. Dit word die pre-adolessente fase genoem.
Tieners en voeding:
Puberteit neem geweldig baie energieverbruik in beslag. Twintig persent van energie-inset gaan direk na die brein, wat ’n reuse-aanduider van voedsame eetgewoontes is. Tydens hierdie fase word baie energie verbruik om te groei. Tieners is permanent honger aangesien daar nou ’n verhoogde metaboliese toename en baie hormonale veranderinge plaasvind. Dis ook asof hulle nooit regtig versadig voel nie. Dis ’n goeie idee om te sorg dat jou tiener gereelde en gebalanseerde maaltye geniet wat nie uit te veel verfynde koolhidrate bestaan nie. Dit meng met insulien- en bloedsuikervlakke in. Die doel is om nooit jou tiener op ‘empty’ te laat funksioneer nie. Die gemoed en wisselvalligheid in optrede/gedrag mag oorsake van ’n ongebalanseerde dieet inhou. Dis interessant dat kinders se smaakknoppies verander soos hulle ouer word, wat mag beteken dat jou kind ewe skielik sekere kos nie meer wil eet nie.
Koolhidrate moet liefs nie uit ’n tiener se dieet gesny word nie, aangesien hulle heelwat van hierdie voedingstowwe binne koolhidrate benodig om daaglikse take en liggaamsfunksies te verrig. Ontbyt is kardinaal om die metabolisme soggens wakker te maak, al is daar heelwat moderne maaltydplanne wat anders sê. Genoegsame koolhidrate moet soggens ingeneem word, terwyl meer proteïene saans tydens aandete ingeneem moet word om die breinfunksies snags te vernuwe.
Belangrike voedingstowwe om in maaltye in te sluit tydens die groeifase, is kalsium, foliensuur, vitamien B (vit. B6 spesifiek), yster, sink, magnesium, proteïene, koolhidrate en vette. Hierdie voedingstowwe is onder andere vir konsentrasie, spierbou, weefselgesondheid, hormonale ontwikkeling, immuniteit en emosionele regulasie verantwoordelik. Wees versigtig vir proteïenaanvullings, aangesien dit stres op die niere mag plaas. Maak eerder van ’n gebalanseerde aanvulling gebruik of maak ’n gesonde ‘smoothie’ om soggens te geniet terwyl jou kind nog wakker raak en nog nie dadelik wil eet nie. Die belangrikheid van water moet ook nie onderskat word nie.
Bron: Spreker tydens Professional Minds Konferensie gehou op Sondag, 25 Mei, te Westin Hotel, Kaapstad: Kath McGraw, pediatriese dieetkundige en ontwikkelaar van Nutripaeds (Mindful Meals, 2025 deur Kath McGraw en dr. Jenny Rose)
Marinda Brink