Watter ouer smag nie na verantwoordelike, onafhanklike kinders nie?
Tog is ons voortdurend in die versoeking om alles vir ons kinders te doen. Navorsing bewys egter oor en oor dat ‘n kind wat van jongs af binne ‘n gesin sekere verpligtinge het, meer selfvertroue en waagmoed ontwikkel. Wanneer dit reg bestuur word, word hegter gesinsbande gekweek. Volgens die Amerikaanse Psigiatriese Akademie vir Kinders en Adolessente kan ‘n kind so jonk as 3 jaar al met basiese take in die huis help. Hulle wys die volgende voordele uit:
- Dit kweek onafhanklikheid;
- dit ontwikkel die vaardigheid om te organiseer en te beplan;
- dit leer hulle om hul tyd beter te bestuur;
- hulle is geneig om meer verantwoordelikhede binne die gesin op te neem;
- dit bied ‘n geleentheid om ‘n gevoel van sukses te ervaar;
- hulle leer van jongs af dat werk en plesier gebalanseer kan word;
- dit help met impulsbeheer en om frustrasie te hanteer.
Waar moet ek begin?
‘n Plan en strategie is nodig om huistake binne ‘n gesin vas te lê. Hier is algemene foute wat ouers geneig is om te maak en wat eerder vermy moet word:
-
Ouers is geneig om te laat te begin.
Om by ‘n ouer kind ‘n gewoonte te kweek, is baie moeiliker as om by ‘n jong kind te begin. Jonger kinders is geneig om nuuskieriger, gemoedeliker en gewilliger te wees om te help. Met die nodige kreatiwiteit van die ouers se kant kan take selfs pret wees. -
Ons wil hê dit moet perfek gedoen word.
Om die taak wat jou kind gedoen het oor te neem of oor te doen (bed ooropmaak, swak gevoude klere oorvou), laat hom/haar voel dat dit wat hulle gedoen het en hoe hulle dit gedoen het, nie goed genoeg was nie. Dit kan hulle ontmoedig om in die toekoms weer te probeer. Fokus op die vordering, nie perfeksie nie – anders gaan jy nie ‘n gewoonte kweek nie. -
Om nie duidelik en spesifiek te wees met ‘n opdrag nie.
Stel redelike en duidelike riglyne oor wat jou kind presies moet doen. Dit is onbillik om bloot te sê dat jou kind sy/haar kamer moet regpak. Waar en hoe moet hulle begin? Dus: gee duidelike, spesifieke instruksies soos: “Sit jou speelgoed in die blou houer teen die muur,” of “Dek asseblief die tafel met vier borde, vier messe en vier vurke.” -
Om nie konsekwent te wees nie.
Om gedurig reëls te verander, skep verwarring. -
Om ‘n taak as straf te gebruik.
Dit skep ‘n negatiewe gesindheid en gegriefdheid by die kind wat jy moeilik in die toekoms sal kan verander. Verder kortwiek dit die motivering om verantwoordelikheid by jou kind te kweek. -
Om ‘n swak rolmodel te wees.
Ouers wat voortdurend negatief is en self kla oor daaglikse roetine-take, kan beswaarlik verwag dat hul kinders dit met selfdissipline en entoesiasme sal doen. Kinders is baie meer geneig om hul eie klere op te tel en hul kamers netjies te hou as hulle sien jy doen dit sonder om te kla.
“If you want children to keep their feet on the ground, put some responsibility on their shoulders.” – Abigail van Buren
Marike Badenhorst