Kategorie: Akademie
Beste Leerders en Ouers,
Ons migrasie vanaf Google na die Microsoft platform is afgehandel. Leerders gaan steeds vir ‘n ruk kan inteken op Google, Google Classroom en hul Google Drive gebruik, maar hulle gaan nie meer in Gmail kan ingaan nie. Geen e-posse is verlore nie. Ons sal aan die begin van volgende jaar die leerders wys hoe om in te teken. Stuur gerus ‘n e-pos aan suzaan@jvrprim.co.za vir enige navrae.
Graad 7-ouers sal voor die skool sluit ‘n WhatsApp ontvang met stappe om die graad 7-leerders van 2022 se Google-omgewing inligting af te laai en te stoor. Graad 7’s van 2022 se e-posadresse sal wanneer die skool begin volgende jaar uitgevee word.
Kate Mouton (graad 7), Stella Bojé (graad 7) en Karu Rademeyer (graad 5) het in September vanjaar die Suid-Afrikaanse Spraak- en Dramakollege se nasionale Mondelinge Kommunikasie-eksamen afgelê en het hul uitslae ontvang.
Dié drie Jannies het reeds vanaf Januarie tydens ’n weeklikse les vir hierdie praktiese eksamen voorberei en dit saam met die junior dramagroep van die Hoërskool Jan van Riebeeck afgelê. Die vlak waarop hul ingeskyf is, Intermediêr 1, is dus reeds op die graad 8 & 9-hoërskoolleerders se vlak.
Die eksamen behels ’n program wat elke leerder aanbied en die volgende insluit: ’n voorbereide demonstrasie of praatjie oor ’n interessante onderwerp, die voorlees en bespreking van ’n boek, improvisasie-standpunt of groepverhaalkuns, vrae en besprekings oor die aanbieding en dan het die hele groep saam ’n 12 minute-program met ’n spesifieke tema aangebied.
Kate, Stella en Karu het al drie ’n allemintige 96% vir dié uitdagende eksamen behaal – ’n uitmuntende prestasie vir dié laerskoolleerders! Baie geluk!
Liewe Grondslagfase Ouer/Voog van 2023
Die einde van die jaar het aangebreek en dit is tyd om reg te maak vir 2023. Die skryfbehoeftes vir 2023 is op die Karri-toep gelaai en is tot 30 November 2022 beskikbaar. Indien jy hierdie geleentheid misloop, sal julle self verantwoordelik wees vir die aankoop van skryfbehoeftes. Elke graad se skryfbehoeftelys sal vroeg in Desember op die skool se webtuiste beskikbaar wees. Indien jy skryfbehoeftes bestel het, sal dit in die nuwe jaar in die leerder se klas op hul wag.
Baie dankie!
Baie dankie vir almal wat reeds die tegnologie vraelys voltooi het. Indien die vraelys nog nie namens julle gesin voltooi is nie, voltooi dit asseblief vandag, 28 Oktober, voor 20:00. SKAKEL NA VRAELYS
Ons sal binnekort ‘n skrywe uitstuur wat verduidelik hoe ons tegnologie gebruik om dit wat ons reeds in leer en onderrig doen, uit te brei en te verryk. Wees gerus dat ons tegnologie as hulpmiddel aanwend om ons tradisionele benadering tot onderrig aan te vul, nie om dit te vervang nie.
Soos in die Nuusbrief van 22 Julie gekommunikeer, is ons skool besig om van Google Worksuite af te migreer na die Microsoft Education platform. Om ons tegnologie strategie te help finaliseer, wil ons graag verstaan hoe ons Jannies bestaande tegnologie gebruik. Ons versoek dat een ouer per huisgesin asseblief ‘n tegnologie vraelys wat ons volgende week gaan uitstuur teen Vrydag, 28 Oktober, sal voltooi. Dit is ‘n kort vraelys en behoort binne 6 minute voltooi te kan word.
Ses van ons graad sesse het Dinsdag aan Hoërskool Jan van Riebeeck se heel eerste Einstein 6-kompetisie deelgeneem. Die groepie moes allerhande uitdagings aanpak wat wiskunde, teater, musiek, biologie en chemie ingesluit het. Hulle het omtrent pret gehad en is boonop as die wenskool gekroon. Dankie aan Stella Lamprecht, Gemma de Vries, Lida-Mari Bosman, Liza Hertzog, Jan-Willem Silvis en Katia van Wyk wat puik ambassadeurs vir ons skool was. Geluk ook aan Hoërskool Jan van Riebeeck met hierdie indrukwekkende inisiatief!
Vir die laaste 2 maande is daar hard gewerk met graad 6 en 7-leerders ter voorbereiding vir die Melkbos-Wiskundekompetisie. Van oggendsessies tot ‘n Wiskundekamp het ons leerders met oorgawe die sessies bygewoon. In totaal was daar 62 leerders. Ongelukkig kon net 16 leerders aan die kompetisie deelneem, maar dit was ‘n uitstekende leerervaring vir al ons leerders.
Daar was 10 skole wat deelgeneem het: Gene Louw, Welgemoed, Van Riebeeckstrand, Table View, Elkanah House, Swellendam, Melkbos Privaat, Vredekloof en Jan van Riebeeck. Baie van die skole het meer as ‘n 1000 leerders. Elke skool kan 4 spanne inskryf en in totaal was daar 38 spanne wat op die dag deelgeneem het. Daar was groot opwinding onder die leerders, alhoewel die senuwees ook hoog geloop het. Ons 4 spanne was:
- Owen Wiese, Luja Marx, Cara Swanepoel en Katia van Wyk
- Emke van Wyk, Kate Mouton, Liza Hertzog en Lea de Ridder
- Lea Basson, Noah Blomerus, Albert Griesel en Markus de Ridder.
- Adan Eksteen, Nicolaas Grutter, Sam Ward en Mïlla Joubert.
Een-en-twintig van ons talentvolle gr.4-7-skrywers het onlangs aan die WKOD se skryfkompetisie deelgeneem. Die leerders moes die boek aanlyn op die kindervriendelike “Book Creator”-toep skryf. Ons is weereens herinner hoe kreatief en innoverend ons kinders is!
Elf van die leerders kon Saterdag die prysuitdeling by Laerskool Turfhall bywoon en Laerskool Jan van Riebeeck het ‘n allemintige VEERTIEN pryse opgeraap! Baie geluk aan die volgende leerders:
Gr.4
AFRIKAANS
Goud: Susie Samuels
Brons: Sabine Barnard
Gr.5
AFRIKAANS
Goud: Jeanne Koen
Silwer: Karu Rademeyer
ENGELS HUISTAAL
Goud: Leah de Kock
Gr.6
AFRIKAANS
Goud: Karlien van der Walt
Silwer: Lida-Mari Bosman
Brons: Neil Heyns
ENGELS HUISTAAL
Silwer: Mieke Nel
Brons: Katia van Wyk
Gr.7
AFRIKAANS
Goud: Lara Warren
Silwer: Luja Marx
Brons: Cara Swanepoel
ENGELS HUISTAAL
Goud: Helene Greef
Katia van Wyk en Karlien van der Walt het Saterdagoggend aan ‘n Distrik Spelling BEE deelgeneem en hulle het uitstekend gevaar. Karlien het onder die eerste vyf leerders geëindig en Katia was derde. Hulle moes 1080 woorde, tesame met die definisies leer. Twaalf skole het deelgeneem. Welgedaan aan hierdie twee leerders!
Neem asseblief kennis van die boekverkope wat op 25 en 26 Augustus plaasvind. Dit is ‘n heerlike geleentheid vir leerders om hul boekversameling uit te brei en ons moedig almal aan om van die kans gebruik te maak. Leerders sal gedurende skooltyd kans kry om boeke te koop, so stuur asseblief ‘n geldjie saam indien jou kind sou belangstel. Ouers is ook welkom om na skool self boeke te koop. Ons hoop om julle almal daar te sien!
Netwerk24 in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad bied elke jaar ‘n wiskundekompetisie vir graad 6 en 7 aan. Die kompetisie word aanlyn geskryf en leerders kry 60 min om 20 vrae te voltooi. Daar is groot pryse op die spel. Die wenner ontvang R15000 en R15000 gaan aan die skool. Die top 20 leerders in die Wes-Kaap word uitgenooi om deel te neem aan die finale rondte. Baie geluk aan Luja Marx (graad 7) wat in die top 20 van die Wes-Kaap geeïndig het. Dit is ‘n uitstekende prestasie en ons hou vir haar duimvas vir die finale rondte.
Die volgende rondte vind op 29 September plaas.
Belangrike Datums
mei 2024
junie 2024
julie 2024
augustus 2024
september 2024
oktober 2024
november 2024
desember 2024