Vir die laaste 2 maande is daar hard gewerk met graad 6 en 7-leerders ter voorbereiding vir die Melkbos-Wiskundekompetisie. Van oggendsessies tot ‘n Wiskundekamp het ons leerders met oorgawe die sessies bygewoon. In totaal was daar 62 leerders. Ongelukkig kon net 16 leerders aan die kompetisie deelneem, maar dit was ‘n uitstekende leerervaring vir al ons leerders.

Gister het die 16 leerders saam met mnr. Hanekom en juf. de Villiers die kompetisie bygewoon. Dit is ‘n verrykingskompetisie waar leerders verskeie afdelings in spanverband moet beantwoord. Werk wat eers in graad 8 en 9 behandel word, word in die kompetisie gevra.

Daar was 10 skole wat deelgeneem het: Gene Louw, Welgemoed, Van Riebeeckstrand, Table View, Elkanah House, Swellendam, Melkbos Privaat, Vredekloof en Jan van Riebeeck. Baie van die skole het meer as ‘n 1000 leerders. Elke skool kan 4 spanne inskryf en in totaal was daar 38 spanne wat op die dag deelgeneem het. Daar was groot opwinding onder die leerders, alhoewel die senuwees ook hoog geloop het. Ons 4 spanne was: 

  • Owen Wiese, Luja Marx, Cara Swanepoel en Katia van Wyk
  • Emke van Wyk, Kate Mouton, Liza Hertzog en Lea de Ridder
  • Lea Basson, Noah Blomerus, Albert Griesel en Markus de Ridder.
  • Adan Eksteen, Nicolaas Grutter, Sam Ward en Mïlla Joubert.
Daar is twee afdelings waar leerders pryse kan wen – die wenspan op die dag en die skool wat die beste presteer het. Hier kyk hulle na al die spanne se punte per skool om die wenner te bepaal.
 
Net voor die laaste rondte was die spanne uiters naby aan mekaar en dit kon enige kant toe gaan. Ons vier spanne het 1ste, 5de, 10de en 11de geeïndig. ‘n ongelooflike prestasie! Baie geluk aan Owen Wiese, Luja Marx, Cara Swanepoel en Katia van Wyk wat die kompetisie se beste spanafdeling gewen het. Daarna het hulle die beste skool aangekondig en ons het die afdeling ook gewen. Dit is ses in ‘n ry vir Laerskool Jan van Riebeeck waar ons beide afdelings van die kompetisie gewen het. ‘n Spesiale woord van dank aan mnr. Hanekom en juf. de Villiers wat die ekstra myl geloop het en ‘n spesiale dankie aan al die leerders wat die moeite ingesit het en elke sessie met oorgawe bygewoon het. Dit is weer bewys dat Wiskunde pret kan wees. Tot volgende jaar.