Kategorie: Akademie
Al ons graad 6 en 7-leerders het aan die eerste rondte van die Horizon Wiskundekompetise deelgeneem. Dit is vir ons wonderlik om te sê dat 39 graad 7’s en 13 graad 6’e deur is na die volgende rondte. Die volgende rondte is op 13 Mei. Meer besonderhede rakende die tyd en plek sal volgende week aan die leerders voorsien word. Baie geluk aan ons graad 6 en 7-leerders wat so puik presteer het.
Ons is vreeslik opgewonde oor Boek Buddies wat ons die 11de Mei (volgende Donderdag) kom besoek. Boek Buddies kweek ’n liefde vir lees deur uittreksels uit die nuutste Afrikaanse kinderboeke op ’n interessante en interaktiewe manier op te voer. Op hierdie manier word leerders se belangstelling geprikkel en moedig ons hulle aan om self die boeke klaar te lees. Beide ’n junior- en seniorvertoning word aangebied, en die opvoerings sal Donderdag tydens skooltyd plaasvind. Boek Buddies vra R15 per leerder om die vertoning by te woon, en kan vanaf vandag op die Karri-toep betaal word. Leerders wat R15 betaal, is ook meer as welkom om Donderdag met funky socks skool toe te kom. Betalings sluit op Woensdag, 10 Mei. Ons hoop julle is saam met ons opgewonde, sien julle daar!
Kliek HIER of op die foto vir die PDF-weergawe van die eksamenrooster.
Met sterre in die oë en hoop in ons harte is ons besig om akademie by ons lieflike skool stadig maar seker te vernuwe om leerders stelselmatig vir die nuwe manier van onderrig voor te berei. Ons het verlede jaar besluit om die biblioteek- asook die kodering & robotika kurrikulum aan te pas en woema daarin te blaas. Dankie aan Marlize en Suné wat daagliks hul bes probeer om alle leerders (gr. R-7) tydens hierdie onderskeie vakke te onderrig. Ons sien werklik daarna uit om te sien hoe die vakke ‘lewe’ kry.
Media en Geletterdheidsentrum (vorige biblioteek) – Marlize ter Borg
Ons is ongelooflik opgewonde om die ‘nuwe’ media en geletterdheidsentrum se ontwikkeling en potensiaal dop te hou en sien uit na wat vir hierdie vakgebied voorlê. Wat voorheen as tradisionele biblioteek gedien het, is nou omskep in ‘n moderne ruimte waar leerders steeds hul liefde vir lees, taal en stories kan uitleef, maar ook rekenaar- en ander tegnologiese vaardighede kan aanleer. In samewerking met die Robotika en Koderingklas, hoop ons om kreatiwiteit, innoverende denke en ‘n liefde vir tegnologie by leerders te kweek. Hierdie klas verskil egter van dié van Robotika en Kodering, aangesien ons op meer algemene rekenaarvaardighede en programme soos Microsoft Word, Excel, Canva, ensomeer fokus. Verder raak ons ook aan onderwerpe soos digitale burgerskap en bypassende temas soos aanlyn veiligheid, kuberboelies en jou digitale voetspoor. Hierdie vaardighede kan natuurlik ook in ander vakke toegepas word, en kan op hierdie manier leerders se akademiese vordering in ander vakgebiede ondersteun. Ons doelwit is om leerders met die nodige vaardighede toe te rus sodat hulle die veranderende, tegnologiese wêreld met selfvertroue kan aandurf.
Kodering en Robotika – Suné Swanepoel
Nuuskierigheid, verwagtinge en groot opwinding is die gedrewe fokus wat na nuwe konsepte en verkennings van verskillende soort onderwerpe in ons Kodering en Robotikaklas lei.
Ons klaskamer is omskep in ‘n opvoedkundige ‘speelkamer’ en die leerders is aktief by die leerproses betrokke. Dis ‘n riem onder die hart om te sien as leerders besef dat hulle hul (werk) kodes kan verander om ‘n spesifieke uitkoms te bereik indien die aanvanklike uitkoms wat hulle bereik het, foutief was. Die hoofdoel is om ‘n veilige ruimte vir leerders te skep om selfversekerde, verantwoordelike, bekwame en kreatiewe gebruikers van inligting en kommunikasie deur middel van tegnologie te gebruik, te word. Blootstelling aan verskillende soort geleenthede waar hulle gemotiveer word om hul eie kreatiwiteit te gebruik sodat hul probleme kan op los, is waarna ons verder strewe. Daar is groot planne om hierdie vak te laat uitstyg.
Kyk gerus hierdie VIDEO om te sien wat die afgelope kwartaal in die Kodering en Robotikaklas plaasgevind het.
Aan die begin van hierdie week het die televisie-aanbieder en aktrise, Chrystal Donna Roberts, met die graad 4 tot 7-leerders kom gesels. Chrystal is veral bekend vir haar rolle in televisiereekse soos Fynskrif en Fraksie, asook die 2017 film, Krotoa. Ons was verskriklik opgewonde om haar by die skool te ontvang. Sy het onlangs haar debuut as skrywer gemaak met die jeugroman Speurder Sammi, en het meer oor hierdie verhaal en die skryfproses daaragter met ons gedeel. Dit was heerlik om te hoor hoe Chrystal haar liefde vir stories deel, asook die wete dat geen droom ooit te groot is om na te jaag nie. Die leerders was absoluut gaande oor Chrystal – sy is plat op die aarde, het ‘n warm, oop gemoed en is beslis iemand by wie die leerders kon aanklank vind. Ons sien uit om haar gou weer te nooi!
Beste Graad 5-Ouer
Kom woon asseblief die graad 5-inligtingsessie op 29 Maart om 18:00 in die skoolsaal by rakende die gebruik van die skootrekenaars wat alle gr. 5’s aan die begin van kwartaal 2 sal ontvang. Die volgende sal bespreek word:
- Leerders en ouers se verantwoordelikheid t.o.v. die skootrekenaars.
- Hoe dit in die klaskamer gebruik gaan word.
- Bespreking van ‘n dokument wat ouers moet onderteken en terugstuur skool toe.
Neem asseblief kennis dat daar volgende Donderdag en Vrydag (die 23 en 24ste Maart) weer ‘n boekverkope in die biblioteek sal plaasvind. Stuur asseblief ’n geldjie saam skool toe indien jou kind belangstel om ’n boek te koop. Verkope sal tydens skooltyd tot en met 15:30 plaasvind en beide leerders en ouers is welkom om ’n draai te kom maak. Ons is opgewonde om julle almal daar te sien!
Woon gerus Maandag, 13 Maart, om 18:00 ‘n inligtingsessie oor die gebruik van Skooler in die skoolsaal by. Die volgende word gedemonstreer:
- Hoe om Skooler te gebruik.
- Hoe om in Teams in te teken.
- Hoe om Teams te gebruik.
Indien jy belangstel om die inligtingsessie by te woon, maak asb. die boodskap in Skooler oop en vul asb. die aangehegte vorm in sodat ons ‘n aanduiding het hoeveel ouers dit moontlik gaan bywoon.
Ons deel graag ‘n kort gids vir ouers wat verduidelik hoe ons in die klas met Teams gaan werk, hoe kinders en ouers tuis by die skoolwerk kan uitkom, en wat Skooler se rol is.
INTERSENFASE:
1. TEAMS
-
- Elke vak het ‘n Team met ‘n Class Notebook wat beskikbaar is in die Team se menu.
- Die Class Notebook is leerders se aanlyn klaskamer en dit bestaan uit 3 afdelings:
- Collaboration Space: Hierdie spasie word in die klaskamer gebruik vir interaktiewe aktiwiteite waaraan die klas as ‘n groep deelneem, asook vir groepwerk.
- Content Library: Hierdie spasie word deur die onderwyser gebruik om die skoolwerk aan leerders beskibaar te stel. Die Content Library het verskeie sub-afdelings:
- Handboek
Aanvullende inligting oor ‘n tema word hier beskikbaar gestel. Leerders gebruik egter steeds ook die hardekopie handboeke in die klas. - Beplanning en Huiswerk
Die werk wat daagliks in die klas behandel word, word hier beskikbaar gestel. Dit sluit ook die huiswerk wat voltooi moet word, in.
*Om die proses te vereenvoudig word beplanning nie meer in Skooler se Planning-afdeling gepubliseer nie. - Afbakening FA (Formele Assessering)
Enige formele assessering waarvoor punte toegeken word, word hier gelys as ‘n bladsy met ‘n skakel na die Assignment soos via Skooler aan leerders en ouers versprei. - Verryking
Addisionele, verrykende werk wat leerders kan doen. Punte word nie hiervoor toegeken nie en dit vorm nie deel van die leerwerk vir formele assesserings nie.
- Handboek
- Leerders se persoonlike spasie:
- My Werk
Die onderwyser laai klaswerk wat leerders aanlyn moet voltooi in hierdie afdeling. Soos altyd, sal die onderwyser sê of werk wat nie in die klas voltooi is nie huiswerk is of nie. Leerders kan ook na die Beplanning en Huiswerk afdeling verwys om te sien of daar werk is wat hier voltooi moet word. - My Notas en Opsommings
Leerders se persoonlike spasie om aantekeninge te maak en enige ander inligting wat verband hou met die vak te skep of bêre. Onderwysers kan wel sien wat hier gestoor en geskep word.
- My Werk
2. KOMMUNIKASIE MET ONDERWYSERS:
- Leerders kan in die Team se General Channel onder Posts kommunikeer as hulle ‘n vraag aan die onderwyser wil rig wat op die hele klas/graad van toepassing is.
- Leerders kan in Chat in die Teams menu met onderwysers gesels indien hulle privaat met die onderwyser wil kommunikeer.
- Ouers kan op Skooler of per e-pos met onderwysers kommunikeer.
3. SKOOLER
Skooler is die kommunikasiekanaal tussen die skool en ouers. Die platform word in fases uitgerol en bied tans toegang tot:
- Algemene en persoonlike kommunikasie via die kontakgroepe in Messages.
- Formele Assesserings onder Assignments. Dit bevat al die inligting van ‘n leerder se taak/toets/mondeling. Die skakel na die Skooler Assignment sal in die Team se Class Notebook onder Afbakening FA (Formele Assesserings) lê.
- Alhoewel datums op die Skooler kalender gelaai word, is die Google Kalender steeds ons hoofkalender. Dit gaan in een van die volgende fases met Skooler geïntegreer word.
4. TEAMS TOEGANG VANAF DIE HUIS:
-
- Indien julle ‘n toestel by die huis deel, skep ‘n nuwe profiel op die internet soekenjin wat julle gebruik:
- Maak die soekenjin oop en kliek op die profiel sirkel regs-bo.
- In Edge, kliek Add Profile / In Google, kliek Add onder Other Profiles.
- Voer die leerder se skool e-posadres en die nuwe wagwoorde wat hulle reeds by die skool geskep het, in.
- Navigeer na Teams vir alle skoolwerk.
- Indien hulle hul wagwoorde vergeet het, kan hulle dit self herstel:
- Kies die wagwoord vergeet opsie.
- Tik die letters in wat gegee word. Let wel dat dit “case sensitive” is.
- Die leerder gaan gevra word om 3 sekuriteitsvrae in te vul wat hulle ook in die klas opgestel het.
- Indien hulle hul sekuriteitsvrae ook vergeet het, kan hulle na Suzaan Burger se kantoor gaan om dit te laat herstel, of ouers kan ‘n e-pos stuur aan suzaan@jvrprim.co.za.
- Terwyl ‘n leerder ingeteken is, kan hulle hul sekuriteitsvrae verander / opdateer:
- Kliek op die profielsirkel van enige program van Microsoft (bv. Teams).
- Kies Manage Account.
- Langsaan die leerder se naam, kies Manage.
- Kliek in die Security Info blokkie op Update Info.
- Kliek Delete op die Security Questions blokkie wat verskyn.
- Kies Add sign-in method.
- Kies die Security Questions opsie (op die manier kan hulle die wagwoord in die klas ook herstel, met ‘n selfoonnommer gaan hulle nie kan nie).
- Tik ‘n antwoord in vir die drie sekuriteitsvrae wat leerders sal onthou.
- Indien julle ‘n toestel by die huis deel, skep ‘n nuwe profiel op die internet soekenjin wat julle gebruik:
GRONDSLAGFASE:
Die Grondslagfase sal op die stadium nie skoolwerk op Teams laai nie. Leerders se huiswerk word in die huiswerkboek geskryf.
Skooler word gebruik vir:
- Algemene en persoonlike kommunikasie via die kontakgroepe in Messages.
- Formele assesserings onder Assignments (bv. ‘n mondeling).
- Alhoewel datums op die Skooler kalender gelaai word, is die Google Kalender steeds ons hoofkalender. Dit gaan in een van die volgende fases met Skooler geïntegreer word.
Ons vier volgende Donderdag, 2 Maart, Wêreld Boekedag by die skool en wil aanmoedig dat leerders soos hul gunsteling boekkarakter moet aantrek. Daar sal op die dag ‘n boekruil-tafel in die biblioteek wees en leerders wat graag wil, kan een van hul ou leesboeke van die huis af bring en vir iemand anders s’n ruil. Indien daar leerders is wat boeke vir die biblioteek of vir liefdadigheid wil skenk, is hulle ook meer as welkom om dit te bring. Ons sien vreeslik uit!
Opgewondenheid gons in die Kodering en Robotikaklas! Ons het gister ‘n pakkie vanuit Nederland ontvang wat aan Laerskool Jan van Riebeeck deur Plumpot Academy met JP Potgieter as kontakpersoon geborg is. Die pakkie bevat eerste-in-sy-soort elektronika wat spesiaal vir ons skool ontwerp is. Die ontwerp gaan leerders help om die toepassingsvaardighede beter te verstaan. Die skool se wapen is selfs op elke PCB (Printed circuit boards) aangebring!
Dit dra by tot ‘n positiewe ingesteldheid teenoor die leerarea. Kodering en Robotika het vyf verskillende fokusareas en een van hulle is robotika. Elektronika vorm deel van hierdie toepassingsvaardighede.
Elke graad het ‘n projek wat spesifiek op die KABV (kurrikulum) gebaseer is.
Ons is die eerste skool in Suid-Afrika wat hierdie spesifieke hulpbronne gaan gebruik. Ons sien uit na die verdere ontwikkeling van hierdie leerarea onder leiding van juf. Suné Swanepoel!
Ouers wat met Teams en Outlook werk en ‘n toestel met hul kind(ers) deel, moet eerder probeer om kinders aanlyn in te teken as om op die toeps te probeer om meer profiele by te voeg. Dit is nie maklik om tussen twee rekeninge op die toeps te beweeg nie. Maak jou soekenjin oop en soek Teams of Outlook om jou kind(ers) te laat inteken. Stuur ‘n e-pos aan Suzaan (suzaan@jvrprim.co.za) of Leon (leon@jvrprim.co.za) indien jy hiermee sukkel.
Leerders ontvang vandag ‘n Aanvaarbare Gebruikbeleid hardekopie dokument wat ouers asb. saam met hul kinders moet deurlees, bespreek en onderteken. Dit handel oor die aanvaarbare gebruik van tegnologie en die internet by die skool en dus is dit baie belangrik om die kort beleid met jou kind te bespreek. Indien jou kind sy/haar dokument verloor of julle dalk verkies om dit elektronies in te vul en te stuur, kliek HIER vir die dokument en stuur dit aan suzaan@jvrprim.co.za. Hardekopieë kan by registeronderwysers ingehandig word.
Volg gerus hierdie skakel na die Akademieblad op ons webtuiste vir die skryfbehoeftelyste van al die grade vir 2023. Indien die skakel nie dadelik op die skryfbehoeftelyste oopmaak nie, rol ‘n bietjie af op die skerm.
Canva is ‘n grafiese ontwerp-toepassing wat reeds deur van ons leerders in die intersenfase gebruik word vir die maak van take en plakkate. Canva het ‘n gratis weergawe, maar die grafika wat gebruik kan word, is beperk. Skole kan aansoek doen om die “Pro” weergawe gratis vir leerders en personeel te kry. Ons is in die proses om aansoek te doen vir Canva for Education (die “Pro” weergawe) vir ons leerders en onderwysers. Ons sal hopelik binnekort die lisensie hê. Een van die ooreenkomste in die kontrak is dat ons ouers se toestemming het dat leerders dit mag gebruik. Indien daar ouers is wat enige vrae het, stuur gerus ‘n e-pos aan suzaan@jvrprim.co.za. Indien jy nog nie van die toepassing gehoor het nie, gaan skep gerus vir jou ‘n gratis profiel om te sien hoe dit lyk.
Belangrike Datums
mei 2024
junie 2024
julie 2024
augustus 2024
september 2024
oktober 2024
november 2024
desember 2024