Met sterre in die oë en hoop in ons harte is ons besig om akademie by ons lieflike skool stadig maar seker te vernuwe om leerders stelselmatig vir die nuwe manier van onderrig voor te berei. Ons het verlede jaar besluit om die biblioteek- asook die kodering & robotika kurrikulum aan te pas en woema daarin te blaas. Dankie aan Marlize en Suné wat daagliks hul bes probeer om alle leerders (gr. R-7) tydens hierdie onderskeie vakke te onderrig. Ons sien werklik daarna uit om te sien hoe die vakke ‘lewe’ kry.

Media en Geletterdheidsentrum (vorige biblioteek) – Marlize ter Borg

Ons is ongelooflik opgewonde om die ‘nuwe’ media en geletterdheidsentrum se ontwikkeling en potensiaal dop te hou en sien uit na wat vir hierdie vakgebied voorlê. Wat voorheen as tradisionele biblioteek gedien het, is nou omskep in ‘n moderne ruimte waar leerders steeds hul liefde vir lees, taal en stories kan uitleef, maar ook rekenaar- en ander tegnologiese vaardighede kan aanleer. In samewerking met die Robotika en Koderingklas, hoop ons om kreatiwiteit, innoverende denke en ‘n liefde vir tegnologie by leerders te kweek. Hierdie klas verskil egter van dié van Robotika en Kodering, aangesien ons op meer algemene rekenaarvaardighede en programme soos Microsoft Word, Excel, Canva, ensomeer fokus. Verder raak ons ook aan onderwerpe soos digitale burgerskap en bypassende temas soos aanlyn veiligheid, kuberboelies en jou digitale voetspoor. Hierdie vaardighede kan natuurlik ook in ander vakke toegepas word, en kan op hierdie manier leerders se akademiese vordering in ander vakgebiede ondersteun. Ons doelwit is om leerders met die nodige vaardighede toe te rus sodat hulle die veranderende, tegnologiese wêreld met selfvertroue kan aandurf.

Kodering en Robotika – Suné Swanepoel

Nuuskierigheid, verwagtinge en groot opwinding is die gedrewe fokus wat na nuwe konsepte en verkennings van verskillende soort onderwerpe in ons Kodering en Robotikaklas lei.

Ons klaskamer is omskep in ‘n opvoedkundige ‘speelkamer’ en die leerders is aktief by die leerproses betrokke. Dis ‘n riem onder die hart om te sien as leerders besef dat hulle hul (werk) kodes kan verander om ‘n spesifieke uitkoms te bereik indien die aanvanklike uitkoms wat hulle bereik het, foutief was. Die hoofdoel is om ‘n veilige ruimte vir leerders te skep om selfversekerde, verantwoordelike, bekwame en kreatiewe gebruikers van inligting en kommunikasie deur middel van tegnologie te gebruik, te word. Blootstelling aan verskillende soort geleenthede waar hulle gemotiveer word om hul eie kreatiwiteit te gebruik sodat hul probleme kan op los, is waarna ons verder strewe. Daar is groot planne om hierdie vak te laat uitstyg.

Kyk gerus hierdie VIDEO om te sien wat die afgelope kwartaal in die Kodering en Robotikaklas plaasgevind het.