Dit is veronderstel om heerlike en sonnige lenteweer te wees, maar in die Moederstad het ons gou geleer dat Lentedag mag dalk volgens die kalender vir die res van die land op 1 September haar verskyning maak, maar meer hier onder die ikoniese Tafelberg met haar magiese uitsig is dit vir ons stadbewoners gewoonlik eers vanaf 1 November beskore. Moet dus nog nie die snoesige winterklere wegpak nie en maak seker jou kaggelhoutvoorrraad is voldoende vir nog ‘n maand of wat.

Vanaf Donderdag, 9 September, tot Saterdag, 11 September, het ons Jannies te heerlik aan ons wintersportafsluiting deelgeneem. Die stralende gesiggies was beslis ‘n klinkslae bewys dat die wintersportafsluiting ‘n reuse sukses was en dat hulle dit terdeë geniet het om saam met hul maats aan spansportaktiwiteite deel te neem. Ek het die voorreg gehad om ook op Saterdag die Gr.1’s se heel eerste netbalwedstryd by te woon. Al was dit net ‘n interne wedstryd, het die Gr.1’s gespeel asof hul lewens daarvan afhang. Dit was so spesiaal en hul ouers het vanaf ‘n afstand die dogters luidkeëls ondersteun. Ek was ook bevoorreg om Saterdagoggend ons o/13A-netbalspan onder leiding van juf. Ischké by die jaarlikse Wes-Kaap Topskole Toernooi te Laerskool Bastion in Brackenfell te ondersteun. Hulle het teen baie sterk kompetisie te staan gekom en 2 uit 3 wedstryde gewen. Ek is so trots op die span wat met waardigheid uit die stryd getree het en as ware ambassadeurs vir ons trotse skool opgetree het.

Die program vir die wintersportafsluiting was ook so opgestel dat ons Jannies aan beide die wintersport en die Eisteddfod kon deelneem. Verskeie van ons Jannies het aan die spraakkuns op 10 en 11 September deelgeneem. Ons is so trots op die merkwaardige uitslae! Baie dankie juf. Jana en onderskeie klasonderwysers vir jul leeue-aandeel tot ons Jannies se suksesvolle optredes.

Terwyl ons op Saterdag, 11 September, heerlik aan sport en Eistedfodd deelgneem het, was dit ook die twintigste herdenking van die 9/11-tereuraanvalle. Ek kan amper nie glo dit was 20 jaar gelede nie. Meeste van ons het heeltemal van die skokkende gebeurtenis vergeet, maar hoe kan ‘n mens ooit die traumatiese dag met die terreuraanvalle op die bekende World Trade Center Twin Towers en die Pentagon vergeet. My eerste reaksie was soos menigte wêreldwyd, geskok en in ongeloof van wie so braaf kon wees om die magtige VSA aan te val. Dit was die eerste aanval op die Amerikaanse souwereine gebied sedert Pearl Harbour deur die Japanese in 1941. Ons meegevoel gaan uit aan die duisende onskuldige mense wat die dag tragies gesterf het en ek glo die nadraai van die 9/11-tereuraanvalle word vandag nog gevoel.

Die feesboek is in wording en ek kan nie meer wag om die meesterstuk te lees nie. Die afgelope week is daar indrukwekkende feesfoto’s deur Anel Duncun en Keith Quixley geneem wat die feesboek gaan verfraai. Baie dankie aan juf. Marinda wat die spesiale feesboek beplan en met entoesiasme bestuur. Hou die spasie dop, hier is iets spesiaals op pad wat die geskiedenis en tradisies van ‘n 100 jaar in ‘n pragstuk gaan ontluik.

Groot was die opwinding met die jaarlikse kunsuitstalling by Huppelland vanaf 14 – 16 September 2021. Die tema vanjaar was KUNSTENAARS en dit het die geleentheid geskep vir ons dierbare Huppellanders om kreatief te wees, hulself uit te leef en vryheid aan hul skeppingsvermoë te gee. Die kinderkunswerke was professioneel uitgestal in ons klubhuis en die spesifieke kunstenaars wat gekies is, was so gepas by die ouderdomsgroep. Die Gr.0- leerders het Marc Chaggal gekies. Hy skilder in helder kleure en skilder veral huise, mense en diere. Die Gr.00-leerders het Paul du Toit gekies. Hy het gespesialiseer in skilderkuns, papier en gemengde media, maar veral beeldhouwerk. Die Gr.R’e het Martina Shapiro gekies. Sy gebruik ook graag helder kleure en abstrakte vorms om emosies en passie uit te leef. Baie dankie aan al die Huppelland-personeel vir hul besonderse geduld en moeite om die sukses daarvan te verseker. Die kwaliteit van die kunswerke is verstommend! Jul harde werk, toegewydheid en omgee gaan nie ongesiens verby nie.

Graag wil ek afsluit en tydens ongekende tye darem vir ‘n slag ook goeie nuus rakende ons personeel met julle deel. Baie geluk aan mnr. Leon en juf. Razelle wat binnekort ‘n nuwe lid tot die gesin ryker gaan word. Ons glo dat dit ‘n gesonde en spesiale swangerskap sal wees.

Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe, wees veilig en graag sluit ek met die volgende aanhaling deur die legendariese Winston Churchill af:

“Success is not final
failure is not fatal,
it is courage to continue
that counts”