Ek is so opgewonde om die jaar saam met die leerders, julle en die personeel af te skop. Ek kan bevestig dat alle skoolaktiwiteite met die aanvang van die 2de week van die nuwe kwartaal in volle swang is en alles verloop klopdisselboom.

Op Vrydag, 16 Januarie, het die senior swemgala (Gr. 4–7) plaasgevind. Die weer het nie heeltemal saamgespeel nie, maar tog het die swemmers dit terdeë geniet terwyl hulle luidkeels deur die leerders, ouers, oumas en oupas, asook die personeel aangemoedig is. Baie geluk aan die volgende swemmers wat as die junior- en senior swemmers vir die jaar na afloop van die gala aangewys is:

Junior dogter (Gr. 4 & 5): Anouk Jacobsz

Junior seun (Gr. 4 & 5): Lukas Loubser

Senior dogter (Gr. 6 & 7): Ellen van Heerden

Senior seun (Gr. 6 & 7): Daniel van der Bergh

Verder het die buitemuurse program amptelik op Maandag, 19 Januarie, volstoom afgeskop. Dit sluit ook musieklesse en kooroefeninge in. Baie dankie aan al die ouers/voogde vir julle aandeel om jul kinders te motiveer om vanjaar weer aktief aan skoolsport en/of kultuuraktiwiteite deel te neem en dit saam met hul maats te geniet.

Baie geluk aan die volgende leerders (alfabeties) wat op Dinsdag, 20 Januarie, tydens die saalbyeenkoms hul leerderraadbalkies amptelik ontvang het:

Anabella Boshoff

Dane Botha

Chris Derksen

Jacques du Toit

Jamie Jordaan

Bella Naylor

Jana Nel

Mila Malan

Ghia Pereira

Pieter Rademeyer

Cato Terblanche

Lily van Zyl

My hartlike dank aan hul trotse ouers wat die spesiale geleentheid bygewoon het om die tradisionele aansteek van hul onderskeie balkies te behartig. My beste wense vergesel die 2026 leerderraad vir die belangrike rol wat hulle vanjaar as leerderleiers by ons skool speel.

Graag wil ek al ons ouers/voogde wat die gewilde inligtings- en bekendstellingsaand op Donderdag, 22 Januarie 2026, bygewoon het, hartlik bedank. Laat my toe om ons OOV-voorsitter, Susan Derksen, en haar span hartlik te bedank vir die puik reëlings en harde werk wat die sukses van die aand verseker het. Die samesyn was kosbaar en die ‘lekker gees’ onder die ouers/voogde was amper tasbaar. Die doel van die aand was natuurlik om inligting oor jou kind/ers se nuwe graad aan julle oor te dra, asook om die personeel bekend te stel. Ek dink almal stem saam dat die funksie absoluut die regte geleentheid was om die jaar op ’n hoogtepunt af te skop. Ek glo ouers/voogde het ook die geleentheid gebruik om mekaar sommer beter te leer ken, veral die graad 1-ouers asook al die nuwe ouers, om daardeur nuwe vriendskappe te bewerkstellig.

Die pret en samesyn vir die week het egter nie by Donderdagaand gestop nie; dus glo ek dat ek môreoggend almal weer tydens die ouer- en kindsportdag by die Conradieveld sal sien. Ouers/voogde en leerders word vanjaar weer in spanne van 5 lede gedeel wat bestaan uit 2 volwassenes en 3 kinders. Daar sal vanjaar weer aan sokker, raak-rugby, “pickle ball” en veldnetbal deelgeneem word. Hier is dus die ideale geleentheid om jou balvaardighede ten toon te stel en in die proses ’n wonderlike dag saam met jou kind/ers en ander ouers/voogde te geniet. Indien jy bekommerd is oor ’n moontlike besering, gaan ons spesiaal voorsiening van professionele noodhulp maak. Daar sal ook heerlike koffie, smaaklike eet- en drinkgoed te koop wees. By voorbaat dankie dat julle die dag gaan ondersteun. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes gaan optree en die snoepieverkope gaan hanteer.

Graag wil ek ook van die geleentheid gebruik maak om Hoërskool Jan van Riebeeck, asook Pieter Rademeyer en sy personeel, hartlik geluk te wens met hul pragtige 2025 matriek­uitslae. Baie geluk ook aan Hoërskool Jan van Riebeeck wat vanjaar sy honderdste bestaansjaar gaan vier. Ons wens vir julle nog ’n eeu van akademiese uitnemendheid en sukses toe!

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

“van ’n padda probeer vere pluk”

Die uitdrukking word gebruik om na iets te verwys wat onmoontlik is, of indien iemand die onmoontlike probeer doen.

Ek sien baie uit om julle môreoggend by die ouer- en kindsportdag te ontvang en om saam met jul kinders en vriende hope pret te geniet. Mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis

Naas Beets

SKOOLHOOF