Liewe ouers, leerders en personeel

Inperkingstydperk, afstandleer en kurrikulum
Ons hoop almal is nog gesond en positief in hierdie onseker en vreemde tyd. Ons wil vir julle opreg dankie sê vir die oorweldigende positiewe bydraes en samewerking. Ons personeel is vasbeslote om te sorg dat leerders nie agter raak akademies nie.

Ons besef dis vir sommige huisgesinne baie moeilik, veral as albei ouers werk en dalk alreeds terug is by die werkplek. Ons is ook deeglik bewus daarvan dat nie almal oor die infrastruktuur (data en WIFI) beskik wat afstandleer vereis nie. Ons kan julle egter die versekering gee dat ons gemotiveerde personeel alles in hulle vermoë doen om alle leerders te bereik en by te staan. (Die skool het ook begroot om sulke leerders by te staan sodat almal deel kan wees van afstandleer.)

Almal, leerders sowel as ouers, is enige tyd welkom om enige onderwyser te skakel of te e-pos indien julle hulp verlang. Ek self is ook 24 uur van die dag op my selfoon of e-pos beskikbaar. Ook belangrik: Ons sal ook wanneer die skole weer heropen, seker maak alle kinders is akademies op koers. Ons sal hersiening doen van alle langafstand-werk en fokus op take en opdragte wat gedurende hierdie inperkingstyd veronderstel was om gedoen te word. Ons sal vasstel wie het agter geraak en dan ekstra aandag allokeer om te verseker dat almal op standaard is. Moet dus nie wakker lê oor jou kind se akademie nie! Ons staan reg.

Heropening van die skool
Ongelukkig kan ons nie op hierdie stadium sê hoe die res van hierdie skooljaar gaan lyk nie. Ons weet ook nie of daar nog vakansies gaan wees en wanneer die skole aan die einde van die jaar gaan sluit nie. Alles is nog net voorstelle wat nog deur die kabinet goedgekeur moet word – wat hopelik nog hierdie week sal geskied.

Tans op die tafel rakende die heropening van skole en watter grade skool moet bywoon:

  • Op Maandag 11 Mei begin die leierskap van die personeel, sowel as alle nie-onderwyspersoneel.
  • ‘n Week later, Maandag 18 Mei, moet alle personeellede by die skool wees.
  • Op Maandag 1 Junie begin die Gr.7’s.

Presies wanneer die ander grade skool moet bywoon is nog nie seker nie, die Unies stamp nog koppe hieroor. Ons weet ook nog nie wanneer ons Gr. R’e, sowel as Gr. 0 en 00 mag terugkeer Huppelland toe nie. Ek is in kontak met die WKOD, FEDSAS en die SAOU en sodra ons van hulle gehoor het, sal ons dit met alle ouers kommunikeer.

Die Departement van Onderwys het vir skoolhoofde die versekering gegee dat daar nog hierdie week die nodige reinigingsmiddels, handskoene en maskers by skole afgelewer sal word. (Ons sal later weer kommunikeer wat maskers betref.) Ons kan vir elke ouer, leerder en personeellid die versekering gee dat ons by Laerskool Jan van Riebeeck, alles in ons vermoë sal doen om al die nodige veiligheidsmaatreëls te tref om dit vir almal veilig te maak.

Skoolfonds
Dankie aan ons ouers wat ten spyte van moeilike omstandighede steeds die betaling van skoolfonds as prioriteit beskou. Ons het pro-aktief opgetree en reeds verskeie uitgawes gesny om te verseker dat die skool akademies bly floreer en personeel betaal kan word indien skoolfondsbetalings daal.
Onthou asseblief dat bykans 80% van ons personeel deur die skool self betaal word en nie deur die WKOD nie. Dus as ons nie skoolfonds tydig invorder nie, gaan personeel nie betaal kan word nie. Ons rig ‘n ernstige versoek aan alle ouers om skoolfonds te prioritiseer – hou asseblief vol met betalings om ons skoolgemeenskap staande te hou.

Ons het wel op die volgende maatreëls besluit.

Skoolfonds Gr.R tot Gr.7:
Aanlynonderrig is aangebied vanaf 6 April – vir die groep leerders gaan ons steeds die kurrikulum dek vir die jaar. Volle skoolfondsbetaling word dus verwag vir 2020.

Skoolfonds Gr.0 en 00 asook nasorg:
Ons sal ‘n berekening doen van wanneer ons weer kan heropen, hoeveel dae in totaal verlore is (met inagneming van verkorte vakansies vir die res van die jaar) en ‘n pro-rata krediet gee. Ons behoort eers teen einde Mei te weet hoeveel dae ons minder gaan aanbied in 2020 as gevolg van die inperking. Voordat ons dit nie weet nie, is dit moeilik om te bepaal presies hoeveel krediet ons kan toestaan.

Covid19 impak op huishoudings en finansies:
Ouers wat inkomste verloor het weens Covid19 en kan bewys dat hul inkomste van so ‘n aard aangetas is dat hul skoolfonds vanaf Mei 2020 nie kan betaal nie, kan aansoek doen vir skoolfondsvrystelling. Agterstallige skoolfonds vir voor Mei sal nie hiervoor in aanmerking geneem word nie. Stuur asseblief vir Marili Thomson ‘n e-pos vir die vorms en bewysleweringsdokumente benodig: marili@jvrprim.co.za.

Beste wense,
Mnr Oosthuizen en die beheerraad