Ek glo dat almal die meevallertjie van ‘n ekstra vakansieweek (week 4 van kwartaal 2) terdeë geniet het en almal is slaggereed dat ons weer na ‘n normale skoolprogram en –roetine kan terugkeer. Na al die vakansiedae het week 5 skielik weer 5 volle werksdae, propvol aktiwiteite.
Dus het die afgelope week vanaf Maandag, 05 Mei op ‘n hoë noot afgeskop met sportwedstryde (05 & 06 Mei) teen Curro Durbanville, netbal (05 & 09 Mei)- en rugbyproewe (06 & 08 Mei), grondslagfase besoek Kunstekaap (5 – 7 Mei) vir die Woordedief-produksie, netbalwedstryde teen Laerskool St. George (07 Mei) en die kore wat gisteraand by Hoërskool Jan van Riebeeck se musiekkonsert opgetree het as deel van hul Massa-Reünienaweek die komende naweek.
April-maand was beslis vreemd en rustig, maar vanaf Mei gaan ons spreekwoordelik van 0 – 100 km/h binne 5 sekondes. Dus moet jy seker maak jou kwartaalgordel is styf vasgegespe vir die opwindende en besige kwartaal wat voorlê.
Die kunsgrasprojek agter op die mini-sportveld loop volgens plan en gedurende die vakansieweek het die meeste grond- en siviele werk plaasgevind. Gerhard Conradie se span het heelwat grond uitgegrawe, nuwe grond en spesiale gruis is aangery, gegooi sodat daar ‘n behoorlike onderbasis vir die nuwe veeldoelige oppervlakte gelê kan word. Ek sal julle op hoogte hou rakende die vordering van die projek.
Op Maandagoggend, 05 Mei vanaf 06:30, het heelwat van ons ouers/voogde, leerders en personeel kom hand bysit om 1 500 toebroodjies vir behoeftige leerders te smeer. Hierdie is deel van ons kwartaalikse welwillenheidsprojek om uit te reik en te help waar nood verkeer. Dit was werklik ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel ouers en leerders kom help het, wat weereens die omgee-hart van ons skool uitlig. Ek was self deel van die ‘smeerproses’ en dit is wonderlik om welwillendheidsprojekte aan te pak waar ons ons leerders kan betrek en hulle voel dat hulle ook ‘n waardevolle bydrae tot ‘n uitreikprojek kan lewer. Ek glo die ouers wat kom hand bysit het, sal saamstem dat die spanwerk en kameradie kosbaar was!
Baie geluk aan die volgende drie leerders wat deur is na die semi-finale van die ATKV Redenaars op 14 Mei — julle maak ons baie trots:
• Antjie Samuel
• Katryn Silvis
• Sabine Barnard
Op Sondag, 10 Mei vier ons weer Moedersdag. Ek glo dat al ons mammas en oumas in ons skoolgemeenskap op Moedersdag tot in die afgrond bederf sal word. Graag wil ons al ons ma’s eerbiedig en hartlik bedank vir die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap speel, asook al die opofferinge wat hulle as ma’s maak tot voordeel van hul kinders en gesin. Ek glo moeders is die spreekwoordelike gom wat gesinne en gemeenskappe bymekaar hou, veral onder moeilike omstandighede.
Daar is ‘n anonieme uitdrukking wat sê dat ma’s soos knope is: hulle hou alles bymekaar. Die hart van ‘n ma is seker die mooiste meestestuk uit die hart van God, want ‘n ma is tog die begin van elke mens.
Ek sluit dan week 5 af. Mag julle as ‘n gesin ‘n wonderlike naweek geniet en ‘n geseënde Moedersdag vol bederf aan al ons mammas. Sien uit om julle die komende naweek langs die sportveld te sien. Sterkte ook aan Hoërskool Jan van Riebeeck vir hul Massa-Reünienaweek en baie dankie dat ons ook deel daarvan kan wees. My beste wense vergesel ook al ons leerders wat môreoggend aan die Horizon Wiskunde Olimpiade gaan deelneem — ons hou vir julle styf duimvas!
Graag gaan ek voort om ons pragtige taal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:
“Die hemp is nader as die rok.”
Die uitdrukking beteken as ‘n mens hulp verleen, moet jy eers aan jou eie familie en vriende dink — of soos die Engelse eweknie sou sê: “Charity starts at home.”
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF