Terwyl die Interskole-gees ons gange gevul het, het die gr. 7’s gesorg vir balans deur die kunsuitstalling by die Welgemeend se jaarlikse “Maand van Kuns” op Dinsdag, 15 Augustus, te besoek (weliswaar as kleurvolle Barbies en Kens!).

Die titel van hierdie jaar se uitstalling is ‘Kaapse oomblikke’ en is moontlik gemaak deur die samewerking tussen Strauss & Co, die Kilbourn-familie en genooide versamelaars. Die uitstalling bestaan uit ‘n wye verskeidenheid van historiese en kontemporêre werke wat die geografie, karakter en geskiedenis van die Wes-Kaap uitbeeld. Dit was ‘n groot voorreg om werke deur kunstenaars soos, onder andere, Irma Stern, Pierneef, Gwelo Goodman, Peter Clarke, George Hallet en David Goldblatt saam te sien. Elmarie van Straten (Strauss & Co) het die leerders begelei en hulle vrae beantwoord.

‘n Hoogtepunt was die ‘kunsskattejag’. Die leerders het bladsye gekry met blokkies wat gedeeltes van sekere kunswerke wys. Hulle moes die werke fyn ondersoek om die gedeeltes te identifiseer en dan die name van die kunstenaars by die ooreenstemmende blokkie te skryf.

Die uitstalling duur tot 31 Augustus en is beslis ‘n besoek werd!

Foto 2: Ruben Oosthuizen voor Goldblatt se ‘Dethroning of Cecil John Rhodes’ – wonder of hy die standbeeld van Rhodes sien as die voorland van Dirkie Uys hierdie naweek?!