Liewe ouers,

Die Koronavirus domineer die nuusopskrifte en die situasie is onvoorspelbaar. Ons wil julle gerusstel dat ons sake noukeurig monitor. Sosiale media is vol gerugte, verkeerde inligting en vals nuus wat teenproduktief en alarmisties is. Ons doen ‘n beroep op ons ouers om gesonde verstand uit te oefen en om op hoogte te bly van die neigings en verwikkelinge uit betroubare bronne soos die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Ons Beheerliggaam het verder op die volgende stappe besluit:
1. Ons gaan baie strenger optree oor die implementering van die leerders se higiëne. Alle waskommetjies en handdoeke is verwyder en ons implementeer beste praktyk handwas vir die kinders en personeel. Alle klasse word vandag met handdoekpapier voorsien vir gebruik na handewas en ons het hoë alkohol handreiniger bestel wat volgende Woensdag afgelewer word. Dit sal in alle vertrekke aangewend word en volgens ‘n skedule gebruik word.
2. Fisiese kontak soos handskud, “high-fives” en drukkies moet sover moontlik vermy word.
3. Ons implementeer streng higiëne rakende die personeel.
4. Personeel ontvang tans opleiding in verdere voorsorgmaatreëls.
5. Personeel gaan leerders op voed in die moets en moenies wat gepaardgaan met die Koronavirus.
6. Alle sosiale en groepsbyeenkomste wat tot 12 April beplan was, word uitgestel. Byeenkomste wat uitgestel word tot verdere kennisgewing is Jannies Talent, Saalbyeenkomste, Oupa-en-Oumadag by Huppelland, die Kaperjolle, die graad 6-kamp en enige ander uitstappies).
7. Sportafrigting word aangepas om kontak te verminder maar gaan steeds voort. Ons het in elk geval nie enige geskeduleerde spansport wedstryde in April maand nie.
8. Leerders en personeel wat meer vatbaar is vir die virus word gemoniteer (droë hoes, asma, diabetes, hartsiektes).
9. Personeel volg goeie praktyk met betrekking tot personeelinteraksies.
10. ‘n Komitee onder leiding van die skoolhoof is aangestel wat 3 keer per week ontmoet om die situasie te monitor en nodige aanbevelings te maak.

Persoonlike higiëne
Soos voorgeskryf deur die Wêreldgesondheidsorganisasie, is die beste voorsorgmaatreëls om dikwels hande te was, met behulp van alkoholgebaseerde saniteermiddel of seep en water. Ons het ook die skoonmaakskedules vir die badkamers aangepas om baie meer gereeld en deeglik plaas te vind en moniteer dit deurlopend.

Oorsese reisplanne
Indien jy en/of jou gesin enige oorsese reis beplan nou of gedurende die skoolvakansie:
1. Stuur asseblief ‘n e-pos vir ontvangs@jvrprim.co.za om te bevestig waarheen julle gaan en vir watter periode julle weg sal wees. Deur so ‘n register te hou, kan ons beweging monitor en besluit of enige verdere stappe nodig is om ons gemeenskap te beskerm.
2. Indien ouers en/of leerders internasionaal reis, sal die standaard self-kwarantyn periode van twee weke aanbeveel word soos wat meeste instansies deesdae versoek. Dit sal uiteraard die skoolgemeenskap se kanse om geïnfekteer te word, drasties verminder. Leerders wat saam met hul ouers reis, bly (al reis hulle nie), word aangeraai om ook die stappe te volg.

Toetsing en kommunikasie
As jy of jou kinders tipiese Koronavirus-simptome toon (soos hoes, koors of asemhalings probleme), nadat julle gereis het of moontlik kontak met ‘n besmette persoon gehad het, kontak jou geneesheer vir advies en stel die skoolhoof vroegtydig daarvan in kennis indien julle onseker is of positief getoets is. Ons sal julle op hoogte hou van enige veranderinge in amptelike advies.

Baie dankie vir julle samewerking.

Kliek HIER vir illustrasies vir die voorkoming van die verspreiding van die virus.