Ek klink seker soos ‘n platespeler wat vasgehaak het, maar tyd en die lewe gaan so vinnig verby. Hier staan ons weereens aan die begin van die derde nuwe maand van die jaar. Maart het skielik opgedaag soos ‘n ongenooide gas. Vir my is 2023 die spreekwoordelike hoëspoedtrein wat eenvoudig nie by enige stasie wil stil hou nie. Ek besef onwillekeurig dat tyd en die lewe verby snel en dat dit onafwendbaar is. Dinge gebeur en dinge verander vinnig en ons moet aanpas of die lewe los ons agter. Ons besef elke dag hoe kortstondig die lewe is. Elke dag is ‘n geskenk en dit is dus belangrik om in die oomblik en met dankbaarheid te lewe. As jy iets wil doen, doen dit vandag! As jy kwaad is vir iemand, maak dit onmiddellik reg. Die lewe is kort en ons moenie tyd mors nie. Ons argumenteer ook dikwels dat ons net eenvoudig nie tyd het nie totdat die lewe onverwags ingryp. Maak dus tyd om saam met jul geliefdes te spandeer en hulle te waardeer!

Baie dankie aan al ons ouers/voogde en leerders wat Vrydagaand, 23 Februarie, die klasbraai bygewoon het. Die weer het perfek saamgespeel om die aand nog meer spesiaal te maak. Dit was heerlik om saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Dit was ook ons gr. 1-ouers se eerste amptelike klasbraai en opvallend was die heerlike samesyn terwyl daar nuwe vriendskappe gesmee is. Net voor die aanvang van die klasbraai het ons o.13A-rugbyspan vanaf 16:00 – 17:00 ‘n rugbywedstryd teen Curro Durbanville op die Conradieveld gespeel. Die veld was omring deur ons ouers en besoekers. Baie geluk aan die o.13-span en hul afrigters, mnre. Erick en André, met die puik oorwinning van 35 – 17. Verskeie ander tennis- en krieketwedstryde is ook die afgelope week gespeel waar ons tennisspanne puik teen heelwat groter skole gevaar het. Welgedaan aan al ons spelers wat getrou oefeninge bywoon, ons toegewyde afrigters asook ons ouers/voogde wat die wedstryde so getrou ondersteun.

Baie geluk aan Huppelland met die puik aanbieding van ‘n aand met Stef Bos onder die sterre. Die van julle wat nie vir Stef ken nie, hy is ‘n bekende Nederlandse sanger wat veral in sy geboorteland optree. Ons is so bevoorreg om Stef as ‘n ouer by ons te hê. Hy is altyd bereid om die skool te help en hier bied hy weereens sy talent gratis vir die skool aan om fondse vir Hupppelland in te samel. Baie dankie ook aan Louise Neser en haar span wat die wonderlike optrede saam met Stef beplan en gereël het.

Ons skoolgebou en terrein is sedert Woensdag, 01 Maart, baie stil aangesien ons gr. 7’s en 5’e weg is op kampe (onderskeidelik Franschoek en SOS). Ons gr. 7’s en 5’e is reeds vanaf Maandag so opgewonde en kon net nie meer wag om op Woensdag na die kampe te vertrek nie. Kamp bied die ideale geleentheid om leerders uit ‘n bekende omgewing te neem en bloot te stel aan ‘n onbekende natuur-omgewing wat gestruktureerd, veilig en vriendelik is. Terwyl hulle die natuur verken, word hul karakter gebou, kommunikasievaardighede verbeter en emosionele- en leiereienskappe ontwikkel, Dit is net ‘n wen-wen situasie. Vol pret.

Op Donderdag, 02 Maart, het ons Jannies soos hul gunsteling boekkarakter skool toe gekom om Wêreld Boekedag te vier. Ons onderwysers het ook nie op hulle laat wag nie en ook soos hul gunsteling boekkarakter aangetrek om die dag nog meer spesiaal vir die leerders te maak. Verder het die gr. 3’s ook op Donderdag, 02 Maart, spesiale noodhulpopleiding ontvang wat deur twee van ons dokter-mammas aangebied is. Baie dankie Drr. Hanneke Heyns en Charlotte-Louise Enslin wat ‘n pragtige aanbieding vir die gr. 3’s in die saal gedoen het. Ons is so bevoorreg dat julle tyd maak om ons leerders rakende noodhulp te bemagtig.

Sterkte aan die o.13 A-rugbyspan wat môre (04 Maart) aan die Hopefield Rugbytoernooi deelneem asook die volgende atlete wat vandag (03 Maart) by Dal Josafat (Paarl) aan die WP-Atletiekbyeenkoms deelneem:

Cato Terblanche
Delmar Benecke
Dawid-Wiese Viljoen
Jana Olivier
Klara Steyn
Mieke Bremer
Sofia Newton

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“If you find a path with no obstacles,
it probably leads to nowhere”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF