Kan julle glo dat dit vandag presies oor ‘n maand Kersfees is! Ek staan verstom oor hoe vinnig tyd verby gaan en onwillekeurig kom die vraag by my op, maar hoe is dit moontlik dat die jaar so spoedig verby gesnel het? Daar is nog so baie goed wat gedoen moet word. Dis weer vir ons almal tyd om oor die jaar te reflekteer om te bepaal of ons onder andere wel ons doelwitte bereik het. Vanjaar word sover gekenmerk as ‘covid-loos’ of sal ek eerder sê sonder drakoniese Covid-inperkinge en dit plaas sommer gou weer alles vir ons in perspektief aangesien alles wat ons as normaal ken binne ‘n oogwink kan verander. ‘n Ander siening kan moontlik wees dat tyd net vanjaar baie vinniger verby gesnel het aangesien ons dit as ‘n ‘inhaal-jaar’ gesien het en sodoende meer gedoen het om op te maak wat ons tydens die pandemie verloor het. Wat dit ook al mag wees, die jaar staan einde se kant toe!

Hierdie week het gr. 4 – 6-leerders op Dinsdag, 22 November 2022, ook met hul finale eksamen begin. Finale assesserings en eksamens is nou in volle swang terwyl ons leerders skouer aan die wiel sit om net hul beste te doen voordat daar ‘n heerlike en welverdiende vakansie aanbreek. Die assessering vir die grondslagfase het gister geëindig terwyl die gr. 4 – 7-leerders op Donderdag, 01 Desember 2022, hul laaste vak skryf. My beste wense vergesel hulle tydens die eksamen. Daar wag ook vir ons leerders ‘n hele klompie opwindende aktiwiteite wat die laaste 2 weke van die kwartaal gaan plaasvind sodat hulle die jaar op ‘n hoogtepunt kan afsluit.

Op Maandag, 21 November 2022, het die Beheerraad se laaste vergadering vir die jaar plaasgevind. Graag wil ek ons dinamiese beheerraad hartlik bedank vir hul kosbare tyd, waardevolle insette en onbaatsugtige diens gedurende die afgelope jaar. Die Beheerraad het vanjaar 9 keer amptelik vergader onder leiding van ons puik BR-Voorsitter, Merwe Scholtz. Baie dankie dat jul as beheerraadslede jul ongelooflike kennis en vaardighede tot diens van die skool stel om te verseker dat die skool optimaal funksioneer en ons kollektief ‘n leeromgewing skep waar ons leerders floreer, gelukkig is en hulself kan wees.

Graag rig ek die volgende, ernstige versoek rakende die afhaal van leerders aan die einde van die skooldag: Pas asseblief die “drop and go / fetch and leave’’-beginsel toe. Moet asseblief nie so stop dat jou voertuig die verkeer belemmer nie. Indien ouers/voogde wel uit hul voertuie wil klim of heelwat vroeër arriveer om hul kinders af te haal, moet hulle asseblief hul voertuie in die toegewyde parkeerareas parkeer sodat die vloei van verkeer nog steeds so effektief as moontlik kan plaasvind. Baie dankie vir jul samewerking en dat ons almal sal konsidireer in die verband.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling wat op ons waarde vir die laaste kwartaal fokus, naamlik Respek en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Show respect to people who don’t deserve it
not as a reflection of their character,
but as a reflection of yours.’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF