Tien netbaldogters het die naweek van 23-25 September hulle sakke gepak en die pad Weskus toe gevat.

Die meisies was moeg na die week se konsert en almal het eers ‘n uiltjie geknip om hulle kragte op te bou vir die eerste wedstryde in St Helenabaai. Die slapie was ongelukkig nie genoeg nie en hulle het die eerste wedstryd teen St Helenabaai primêr 9-14 verloor. Na die verloor was almal skielik wakker en wen die volgende wedstryd teen HP Williams 13 – 5. Meneer Lourens het die aand vir almal lekker hamburgers langs Jacobsbaai se waters gebraai. Vrydagaand se spanbousessies het nie te laat aangehou na die week se aktiwiteite nie en almal is vroeg bed toe.

Niemand het omgegee om vroeg op te staan toe hulle Saterdagoggend die ontbyt sien wat mnr. Lourens en Gladdys vir hulle voorberei het nie. Met die magies vol en die sakke gepak, was hulle reg vir die vol dag wat voorgelê het by Hoërskool Hopefield. DCAS in samewerking met Weskusnetbal het ‘n dag by die skool aangebied ter viering van die Wêreldbeker Netbal wat in Julie/ Augustus 2023 in Kaapstad aangebied word. Dit was ‘n dag vol opwinding waar ons saam met Hopefield se o.13-span Engeland verteenwoordig het. Ons is met ope arms en baie kos ontvang. Daar was drie stasies die oggend waar Weskus se federasiespelers vaardighede en speletjies met die spelers gedeel het. Die Tornado’s speler, Amber Coraizin, het haar ervarings met die spelers gedeel en hulle gemotiveer om aan te hou werk aan hul drome.
Teen 11:30 was die tyd vir speletjies verby en het ons die Jannie-wapenrusting (rokkies) aangetrek en Hopefield se o.13 /o.14-span op die baan aangevat. Halftyd was ons 8-5 voor en almal het reeds aan hul lywe gevoel dat dit ‘n baie fisiese wedstryd gaan wees. In die tweede helfte van die wedstryd het Hopefield verskeie spanveranderinge gemaak, maar dit het ons Jannies net meer woema gegee en hulle het dit alles op die baan gelos. Ons wen die wedstryd 19-12. In juffrou Ischké Felix se woorde “Elkeen het 100% en meer gegee. Dit is verewig in my hart gegraveer.”

Sophia Liebenberg word aangewys as speler van die dag. Dit is ‘n ongelooflike prestasie omdat dat daar o.11 tot o.15 spanne betrokke was. Bennie Saayman, President van die Wes-Kaap netbalfederasie en voormalige Proteasafrigter, het haar prys aan haar oorhandig.

Na die oggend / middag se opwinding was die gees hoog in die bus op pad terug Jacobsbaai toe. Hulle is verras met ‘n “Sunset cruise” op Langebaan se lagoon en het daarna heerlik by Mykonos geëet.

Dit was ‘n ongelooflike toer met spesiale dogters. Ons wens hulle alle voorspoed toe vir die toekoms en kan nie wag om hulle dop te hou op die pad vorentoe nie.

Baie dankie aan juffrou Ischké Felix (afrigter), juffrou Shahneé Felix (skeidsregter), mnr. André Lourens (busbestuurder en sjef) en Gladdys wat die leerders vergesel en versorg het.