Alhoewel ek in my vorige nuusbrief genoem het dat die buitemuurse wintersport op 9 September 2022 tot ‘n einde kom, het ons op Saterdag, 10 September, ons eie suksesvolle Rugby Sewestoernooi aangebied. Ter selfde tyd het ons o.12A en o.13A-Netbalspanne spreekwoordelik koning gekraai tydens die “Cape Town League Finals” in Kuilsrivier. Hartlike dank aan BSC wat ons o.11- en o.13-Rugby Sewestoernooi op Saterdag, 10 September, by die Conradieveld geborg het. Alhoewel die Cape Town 7’s ook in ons pragtige Moederstad oor die naweek plaasgevind het, het ouers van die volgende deelnemende skole in hul hordes by die Conradieveld opgedaag om die dag te ondersteun:

  • Laerskool Bastion
  • Laerskool Kampsbaai
  • Laerskool Milnerton
  • Laerskool Parkslands
  • Curro Durbanville
  • Laerskool Jan van Riebeeck

Selfs die weer het vir ‘n slag saam gespeel om die dag verder te komplimenteer. Opvallend was die sportmangees wat deur al die spanne aan die dag gelê is. Geen algehele wenners is op die dag aangewys nie, want die hooffokus van die dag was om ‘n baie lang winterseisoen op ‘n baie gepaste wyse af te sluit, en dit is presies wat Razelle en haar span met die puik dag reggekry het. Ek is so trots op die standaard van ons toernooi-aanbieding, aangesien uitnemendheid altyd ons fokus is.

Dan is dit my voorreg om die merkwaardige prestasie van ons o.12A- en o.13A-netbalspanne met die skoolgemeenskap te deel. Op Saterdag, 10 September, was daar sake in die verskillende ligas uitgespook om te bepaal watter span as die wenner van die onderskeie ligas aangewys word. Groot opwinding heers nog steeds met beide ons o.12A- en o.13A-netbalspanne wat goud verower het deur hul onderskeie liga-finales te wen. Hierdie merkwaardige prestasies kan slegs behaal word deur harde werk en toewyding van beide afrigters en spelers. Laat my assbelief toe om die afrigters van beide spanne, naamlik Ischké Felix hartlik geluk te wens met die puik pretasies. Baie geluk ook aan haar onderskeie o.12A (juf. Shahnee & juf. Heidre) en o.13A-ondersteuningspanne (juf. Shahneé en juf. Sharon) vir hul leeue aandeel in die sukses van beide spanne. Baie dankie aan al die betrokke ouers wat nie net getrou elke wedstryd en/of toernooi ondersteun het nie, maar ook dikwels gehelp het met die vervoer na wedstryde en toernooie. Hierdie is weereens ‘n bewys dat sport in die algemeen by Laerskool Jan van Riebeeck op die regte pad is en dat daar selfs meer geleenthede vir ons Jannies in 2023 beplan word. Ons beoog ook om die 2023 sportkalender so spoedig moontlik met julle te deel sodat julle lank voor die tyd ook jul beplanning kan doen en in die proses verseker dat ons Jannies vir al die opwindende sportdae en toernooie beskikbaar sal wees.

Gee my ‘n G, gee my ‘n E, gee my nog ‘n E en gee my ‘n S … hierdie kreet is vir seker iets wat die Jannies hierdie week ten volle uitgeleef het. GEES hardloop in die Jan van Riebeeckers se are! Dankie aan die leerderraad wat elke dag van hierdie week so besonders vir elke leerder en onderwyser gemaak het. Die gange het omtrent gegons met entoesiasme … opgewonde stemme is dit wat ons koester! Leerders en personeel kon dan aantrek volgens die onderstaande temas:

  • Maandag, 12 September: “Funky Socks”
  • Dinsdag, 13 September: Alternatiewe Tasse
  • Woensdag, 14 September: Gunsteling Filmkarakter
  • Donderdag, 15 September: “Funky” Haredag
  • Vrydag, 16 September: Pajamadag

Ons Jannies en onderwysers het beslis die ekstra myl geloop om behoorlik gees te vang en veral op Woensdag, 14 September, het daar baie bekende en gewilde filmkarakters by ons skool ‘opgedaag’ wat aan almal baie vermaak verskaf het.

Ek sluit dan af met die volgende aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Speak with honesty
Think with sincerity
Act with integrity.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF