Ruben Eksteen het Sondag, 13 Maart, saam met sy pa die 109 km Kaapstad Fietstoer op ‘n tandem in 4h49 voltooi. Om jou eerste Kaapstad Fietstoer op 10 jarige ouderdom agter die blad te hê, is ‘n groot prestasie, maar des te meer so in 2022. Dit was sopnat van die wegspring af vir die eerste 70km – beslis ‘n ervaring wat karakter bou en wat hy nog lank sal onthou. “Gelukkig kon ons vir hot chocolate in Noordhoek stop,” sê Ruben. “Dit het gehelp om die koue te verdryf – en my tande laat ophou klap. Daarna was Chapmans Peak eintlik lekker.” Baie geluk, Ruben!