Groot was die opwinding op Vrydag, 11 Februarie, met die aanbied van die jaarlikse senior swemgala. Die weer was absoluut perfek en ons leerders was so in hul noppies om hul geliefdes langs die swembad te sien wat hul luidkeels aangemoedig het om net hul beste te doen. Vir so ‘n lang tyd was daar geen toeskouers toegelaat nie en dit was net ongelooflik hoe ‘n groot verskil die teenwoordigheid van ouers, voogde, oumas en oupas tydens die swemgala gemaak het. Weer eens besef ‘n mens die massiewe negatiewe impak wat Covid-19 op ons lewens gemaak het. Ons is egter dankbaar dat ‘n bietjie van normaliteit teruggekeer het en mag ons net verder daarop bou en nie toelaat dat die pandemie ons onderkry nie. Lees gerus meer onder die sportafdeling in die nuusbrief van die uitslae en die bekerwenners.

Vrydagoggend, 11 Februarie, het die Gr.1’s as ‘klinker’-superhelde skool toe gekom. Dit was groot pret en als deel om op ‘n praktiese wyse die klinkers vir die Gr.1’s te demonstreer en vinnig het hulle geleer dat ‘n mens nie sinne sonder klinkers kan bou nie. Baie dankie aan al die Gr.1-opvoeders wat ook in hul superheld-uitrustings opgedaag het. Graag wil ek vir Mika van der Walt (Gr.1-leerder) hartlik bedank wat na afloop van die geleentheid, sonder dat ‘n juffrou vir haar gevra het, al die papiere wat rondgelê het gaan optel het en dit in die vullisdromme gegooi het. Sy het dan ook tydens die Grondslagfase se saalbyeenkoms op Dindag, 16 Februarie, die Jannie van die week-toekenning ontvang vir die pragtige voorbeeld wat sy vir ons almal gestel het. Ons is baie trots op jou, Mika!

Week 5 het verder afgeskop met Valentynsdagvieringe op Maandag, 14 Februarie, want Februarie is mos die maand van die LIEFDE. Valentynsdag het waarskynlik sy oorsprong van ‘n antieke Romeinse fees waar St. Valentyn blykbaar ‘n romeinse martelaar was, maar dit nou daar gelaat. Volgens navorsers is die gewildste ontvangers van valentynskaartjies onderwysers, kinders en vroue. Baie dankie aan al die Jannies wat pragtige kaartjies vir my en die opvoeders gemaak het. Dit is baie kosbaar. Baie interessant dat 85% van aankope van kaartjies deur vroue gedoen word. Vir die romantikus is dit ‘n heerlike dag om hul geliefde behoorlik te bederf en vir die ander is dit dalk bloot net ‘n kommersiële klug om mense van hul broodnodige geld te beroof. Hoe dit ookal sy, ons leerders en personeel het almal pienk en/of rooi aangetrek en het pragtig gelyk om die dag van liefde en omgee saam te vier. Ek hoop en vertrou dat die liefdesdag vir jou en jou geliefde baie spesiaal was.

Graag sluit ek met die volgende woorde rakende die liefde af:

“Liefde moenie ‘n geheim wees nie. As jy vir iemand lief is, maak seker dat hulle dit weet .”

Geniet die naweek!
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF