Dit is my eer en voorreg om aan te kondig dat die verkiesing van die nuwe Beheerrraad (BR) se ouerkomponent d.m.v. die virtule platform (VotingCrowd) wat op 30 Maart 2021 plaasgevind het, baie suksesvol afgeloop het. Ek vra om verskoning dat julle so lank vir die bekendmaking van die nuwe BR-lede (ouers) moes wag, maar ongelukkig is daar streng protokol wat na afloop van die verkiesing eers gevolg moet word om te verseker die verkiesingsproses was deursigtig en regverdig. Gun my die geleentheid om al 11 kandidate hartlik te bedank vir hul bereidwilligheid om tot diens van die puik skool te staan. Ek glo julle sal saamstem dat hulle uiters professioneel in die verkiesingsvideo’s oorkom en hul uitstekend van hul taak gekwyt het. Ons skool is baie bevoorreg om soveel kundigheid en ervaring in ons skoolgemeenskap tot ons beskikking te hê.

Baie geluk aan die volgende BR-lede (alfabetiese orde) wat ons ouerkrops verteenwoordig:
1. Marié Cruywagen
2. Esri Marais
3. Merwe Scholtz
4. Izelle Venter
5. Andries Viljoen
Die res van die BR bestaan uit die volgende personeel:
6. Naas Beets (Skoolhoof)
7. Lucia de Jager (verkies om die opvoeders te verteenwoordig)
8. Ischké Felix (verkies om die opvoeders te verteenwoordig)
9. Hannes Muller (verkies om die nie-opvoeders te verteenwoordig)

Graag wens ek die nuwe BR sterkte toe met die belangrike taak wat voorlê. Ek weet die nuwe BR sal die skool na nog hoër hoogtes lei tot voordeel van ons Jannies.

Die einde van die 7de akademiese week bring ons by die begin van nog ‘n langnaweek. Natuurlik is dit Paasnaweek en die afgelope weke het ons honderde paaseiers ingesamel wat ons vir behoeftige kinders geskenk het. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer, nuwe skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck, en sy hoofleiers wat vanoggend saam met die twee paashase vir ons leerders en personeel paaseiers uitgedeel het. Die meeste Graad 1’s was uit hulle velle van opgewondenheid om die paashase in lewende lywe en dit nogal in die klaskamer van alle plekke te kon ontmoet, maar hier en daar het van hulle die besoekers versigtig en in ongeloof aanskou. Ons waardeer die spesiale besoek. Die leerders se reaksie was kosbaar.

Net as jy gewonder het waar kom die gebruik van paaseiers vandaan, haal ek graag die volgende aan:

“Paaseiers het ‘n baie lang geskiedenis en die gebruik het reeds voor die geboorte van Jesus begin. Eiers was nog altyd gesien as die simbool van ‘n nuwe lewe. Soos wat die Christendom versprei en gegroei het, is die eier al meer gesien as ‘n teken van Jesus se opstanding uit die graf. Die gebruik om eiers van sjokolade te maak, het in die 19e eeu in Frankryk en Duitsland begin. Die eerste sjokolade-eiers wat op groot skaal gemaak is, was deur Cadbury’s in Engeland. Gebruik gerus ‘n hol (leë) paaseier om vir jou kind te leer dat die graf leeg was, soos wat die eier binne leeg is, en dat Jesus lewe.”

Graag wil ek ons skoolgemeenskap ‘n geseënde Paasfees saam met familie en vriende toewens. Wees asseblief versigtig op die besige paaie en bly veilig.