Op Sondag, 31 Januarie 2021, het ons geliefde skool sy 100ste bestaansjaar so stil-stil bereik! Ons het verseker nie van hierdie groot mylpaal vergeet nie en het ‘n paar items laat maak ter viering van LS JvR se groot 100! In hierdie vreemde tyd wil ons darem steeds ‘n verjaardaggees verseker.

1. Hempie
Ouers kon aan die einde van 2020 vir hul kind(ers) ‘n spesiale feeshempie bestel ter viering van die skool se verjaardag. Ons het die eerste besending van die leerders se hempies ontvang. Dit is gemerk en aan onderwysers uitgedeel. Die meeste leerders sal hul hempies ontvang as hulle terugkeer skool toe. Die aflewering van die volwasse groottes is ongelukkig vertraag en ons verwag aflewering in die laaste week van Februarie.

Leerders kan die spesiale blou feeshempie elke Vrydag saam met hul blou LO-kortbroek / skort vir die res van die jaar aantrek! Dit beteken leerders wat reeds die hempie ontvang het, kan dit vir die eerste keer op Vrydag, 19 Februarie, aantrek. Indien leerders nog nie een bestel of ontvang het nie, moet hulle hul skooluniform aantrek. Ons sal hierdie jaar elke Vrydag vir leerders die geleentheid bied om hul LS-100-hempie te dra. Indien jy nog nie ‘n hemp kon bestel nie, gaan ons weer ‘n kennisgewing d.m.v. die Karri-toep stuur waartydens bestellings geplaas kan word. Ouers is welkom om ook vir hulself van die hempies te bestel. Die kindergroottes beloop R120 en die volwasse groottes R150. Ons sal nuwe leerders die geleentheid gee om hempies aan te pas. Jou kind(ers) sal ‘n brief huis toe bring met die grootte wat aanbeveel word. Maak asb. seker van hierdie grootte wanneer die bestelling op die Karri-toep geplaas word.

2. Geskenkies
Elke leerder ontvang ‘n linaal en aansteekbalkie (‘button badge’) . Die aansteekbalkie kan op die regterkant van hul skoolhemp of -trui gedra word. Elke huishouding sal ook twee motorplakkers ontvang. Plak gerus hierdie plakkers teen die motor(s) se voorruit.

3. Voorskote
Verder het ons ook ‘n pragtige denim-voorskoot wat ouers ter viering van die skool se verjaardag kan bestel. Bestellings hiervoor kan ook deur die Karri-toep teen R210 per voorskoot gemaak word.