Niemand sou kon voorspel dat ons 2021 op so ‘n vreemde noot sou begin nie. My wens is dat die pandemie so spoedig moontlik onder beheer sal kom en dat ons land en skoolgemeenskap kan terugkeer na ‘n nuwe normaal.
Graag deel ek die volgende inligting:

1. Ons het solank as moontlik kans gegee om formele direktiewe van WKOD rakende die opening van skole op 15 Februarie 2021 te ontvang, maar tot op hede het ons nog geen verdere inligting ontvang nie.
2. Skoolbestuurspan (EXCO) en administratiewe personeel keer op Maandag, 25 Januarie 2021, terug.
3. Opvoeders keer op Maandag, 1 Februarie 2021, terug.
4. Leerders keer op Maandag, 15 Februarie, terug 2021.

Die volgende inligting het ons nog nie ontvang nie:

1. Of die skool met 100% leerderkapasiteit mag open.
2. Ons het nog geen uitklaring rakende die opening van nasorgfasiliteite ontvang nie.
3. Die situasie rakende die bestuur van komorbiteite van personeel en leerders.

Die stimulering van ons leerders is van kardinale belang, daarom is ons plan van aksie as volg:

1. Ons vakansiesorgdiens wat in die Lizelle Kilbourne Nasorgsentrum aangebied word, word tot Vrydag, 12 Februarie 2021, verleng. Indien jy belangstel, kontak me. Madri Greyling (nasorg@jvrprim.co.za);

2. Aanlynonderrig d.m.v. ‘’Google Classrooms’’ begin op Woensdag, 3 Februarie – 12 Februarie 2021. Om seker te maak dat die leerders en opvoeders slaggereed is, gaan ons die volgende tydlyn volg:

• Maandag, 1 Februarie: Onderwysers keer terug skool toe, doen die nodige beplanning en kry materiaal gereed.
• Dinsdag, 2 Februarie: Gr.2 – 7 haal boeke en leermateriaal by die skool af. Tydgleuwe en verdere reëlings sal gekommunikeer word.
• Dinsdag, 2 Februarie: Die nodige Chromebooks word afgehaal.
• Woensdag, 3 Februarie: Gr.2 – 7 begin met aanlynonderrig.
• Woensdag, 3 Februarie: Gr.R & 1 het ‘n ontmoetingsessie met hulle ondervoeders en ontvang hul leermateriaal. Meer inligting met tydgleuwe sal gekommunikeer word.
• Donderdag, 4 Februarie: Gr.R &1 begin met aanlynonderrig.
• Maandag, 15 Februarie: Alle leerders, Huppelland ingesluit, keer terug skool toe tensy die WKOD se reëlings verander.

Neem asseblief kennis:

1. Leerareas:

Die volgende leerareas gaan voorkeur tydens aanlynonderrig geniet:

• Gr.R – Gr.3: Afrikaans, Engels en Wiskunde.
• Gr.4 – 6: Afrikaans, Engels, Wiskunde en NWT.
• Gr.7: Afrikaans, Engels, Wiskunde, NW en EBW.

2. Chromebooks:

Ons het ‘n beperkte aantal Chromebooks wat ons vir leerders kan uitleen. Indien jy ‘n Chromebook benodig, kontak gerus vir me. Suzaan Burger (suzaan@jvrprim.co.za). Bespreekte Chromebooks moet op Dinsdag, 2 Februarie 2021 vanaf 09:00 -13:00 by die skool afgehaal word en dit is onderhewig aan die voltooiing van ‘n ondernemingsvorm.

3. Grondslagfase:

Alle Grondslagfase-werkstukkies en leermateriaal sal ook elektronies aan ouers beskikbaar gestel word. Indien jy verkies om ‘n harde kopie te ontvang, sal jy op Dinsdag, 26 Januarie 2021, ‘n e-pos met ‘n skakel na ‘n Google Form ontvang, wat jy kan voltooi om dit te bestel.

Ontmoetingsessies vir Gr. R- en 1 leerders met hul onderskeie opvoeders word vir Woensdag, 3 Februarie 2021 beplan. Ouers sal teen Dinsdag, 26 Januarie 2021 spesifieke tydgleuwe deur die graadgroepe ontvang.

Ons fokus is om gereeld en openlik met alle belange partye te kommunikeer sodra die WKOD nuwe reëls en inligting stuur. Baie dankie vir die dringende aandag en geduld.

Mag 2021 vir julle en jul gesinne baie voorspoedig wees.
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF