Vir die skool en sy mense, is ek baie lief en as ‘n mens lief is vir iemand of iets is dit maklik om dinge vir hul te doen. Dit som so te sê my 8 jaar by die Laerskool op. ‘n Plesier om die skoolgemeenskap te dien en ook deel te wees van ‘n ‘familie’ wat vir mekaar omgee. Dankie aan die personeel wat my elke dag laat lag het. Ons het beslis hard saam gewerk en net so hard saam gekuier. Dankie vir wedersydse respek wat deurentyd betoon is. Spesiale dank aan mnr. Oosthuizen wat my vrye teuels gegee het om inisiatief aan die dag te lê en in my vermoëns geglo het van dag een. Dankie aan die Beheerraad en spesifiek tesourier, Cobus Loubser. Jul bron van onuitputbare kundigheid is meer werd as enige formele kwalifikasie. Dankie aan my mede Exco-lede (Marinda, Jodene, Lucia, Benita, Mariëtte en Leon). Saam het ons gegroei en saam het ons mekaar gedra.

Finansies word dikwels gesien as ‘n baie vervelige veld. ‘n Wit en Swart wêreld, ‘n debiet en ‘n krediet, ‘n begroting – iets wat beperk. Vir my is finansies ‘n klomp feite wat ‘n wonderlike kleurvolle storie vertel, dikwels wat mense nie wil sê nie. ‘n Begroting, iets wat vryheid gee, om juis dit te kan doen wat regtig saak maak. Laerskool Jan van Riebeeck se finansies het vir my baie verskillende stories oor die jare vertel en dinge uitgewys waarop ons kon verbeter. Die een storie wat dit my wel vertel het, is ‘n storie van ‘n ouerkorps wat omgee en wie lynreg tot die sukses van die skool bydra. Dankie aan elke ouer/voog wat skoolfonds so presies en op datum betaal, ten spyte van moeilike tye. Dankie dat jul altyd vriendelik en gaaf gebly het, al was daar soms moeilike gesprekke. Doen so voort!

Nou ja, hierdie is my JvR-pad se einde as personeellid, maar beslis nie my einde as JvR-ouer nie!

Mag ons almal saam altyd een doel voor oë hê en dit is om gelukkige kinders te kweek!