Geagte Ouers,

En so kom ‘n unieke en uitdagende jaar tot ‘n einde …

Die koms van die pandemie het ons lewens totaal omgekeer. Normale leefwyse het skielik verander. Nuwe wetgewings en dra van maskers het die nuwe ‘normaal’ geword. Skoolonderrig en skoolgaan, soos ons dit altyd geken het, het ook drasties verander en ons sal dit lewenslank onthou. Alles was ook nie net negatief nie, gelukkig is daar ook silwer randjies. Van die positiewe dinge wat ons geleer het, is hoe ongelooflik aanpasbaar en kreatief ons as Suid-Afrikaners kan wees. Jan van Riebeeck het puik gevaar om te verseker dat ons leerders kon voortgaan om kwalitiet onderrig en ondersteuning te ontvang tydens die moeilike jaar. Baie geluk aan die Beheerraad en Exco wat met kreatiewe idees vorendag gekom het om effektiewe leer en die veiligheid van die leerders, ouers en personeel ten alle tye te verseker. Baie dankie aan die personeel van die skool en Huppelland vir hul harde werk, toegewydheid en bereidwilligheid om altyd die spreekwoordelike ekstra myl te loop tot voordeel van ons leerders! Laaste maar nie die minste nie, baie dankie aan mev. Marinda Brink wat die afgelope tyd as waarnemende skoolhoof die skool puik bestuur het.

Volgende jaar is vir Jan van Riebeeck ‘n besondere jaar – ons gaan die skool se 100ste bestaansjaar vier. Wat ‘n voorreg om as ‘n skoolhoof by ‘n skool te begin wat ‘n nuwe hoofstuk in sy geskiedenis gaan betree en ‘n voortreflike mylpaal bereik. Ek sien voorwaar uit om saam met die skoolgemeenskap ‘n 100 jaar van ‘wees jouself’ en die ryk tradisies te vier.
Die pandemie het bewys dat tegnologie ongelooflike potensiaal het om onderrig en leer drasties te verander. Die 21ste eeu vereis dat ons leerders meer betrokke raak by die onderrig- en leerproses. Leerders moet medeskeppers van kennis in die klaskamer word. Tegnologie-integrasie is baie belangrik en leerders moet kan kies tussen ‘n wye spektrum van metodes wanneer hul leer of take doen. Ek glo dat ons in die toekoms moet poog om ons leerders te leer hoe om te dink, eerder as wat om te dink.

Graag wens ek vir almal ‘n wonderlike en welverdiende vakansie toe. Geniet die spesiale Kerstyd saam met gesinslede en familie. Mag ons ook in die tyd dink aan hulle wat hul geliefdes as gevolg van die virus verloor het.

Veilig reis, lekker rus en ek en my gesin sien uit om julle almal volgende jaar te ontmoet en beter te leer ken.

Groetnis,
Naas Beets