Beste Oosie

In ons soeke na ‘n nuwe skoolhoof het ons besef hoe uniek jy regtig is. ‘‘Wees jouself’’ is iets wat jy geleef het – daarom dat dit so maklik gekom het vir personeel en die leerders. Dit is jou grootste nalatenskap na 26 jaar.

Jy ken jou Jannies by die naam. Jou lojaliteit aan jou personeel was opvallend. Boonop is jy die enigste skoolhoof wat ons ken wat sy kattebak vol wyn laai as die ouers aan die werskaf is by ’n funksie en sorg dat glase vol is. En vir kinders, lekkergoed slip in jou kantoor. Ons skool se atmosfeer is lig en lekker – jy het dit so gemaak.

Jy verdien nie hierdie vreemde koebaai nie, want afstand is nie jou ding nie. Jy maak jou hande vuil en sorteer dinge uit. Jy staan langs die rugbyveld en jy sit in die voorste ry by die konsert. Jy het baie veranderinge met kalmte bestuur in ’n tyd van ongekende omwentelings in die land en onderwys. Tegelykertyd het jy nooit met intimidasie gelei nie – jy is inklusief en het jou span altyd betrek.

Wat ons ook gaan mis, is jou liefde vir ‘n lekker storie en ‘n grap. Jy is ‘n vriend van menige by hierdie skool. Dankie vir jou omgee en energie vir so ‘n lang tyd. Jy, Marianna, Jana en Willem het ’n blywende impak op Laerskool Jan van Riebeeck gemaak – en die Oosie-era is iets om op geweldig trots te wees.

’n Ouer het hierdie onlangs gestuur: “Ek het dikwels aan jou leierskap gedink as dit: alhoewel jy voor in die saal staan en praat (en almal weet jy is skoolhoof) het ek nooit ooit die gevoel gehad dat jy enigsins jou posisie of gesag op enigiemand probeer afdwing het nie. So anders as toe ons kinders was. Dankie daarvoor.”

Geniet jou aftrede! Jy verdien dit.
Die Beheerraad