Laerskool Jan van Riebeeck Nuus

Liewe Ouers,

Datums

Saterdag, 14 September 2019 Tweekamp: Liga 1 (WEG) (Stellenberg H/S)

Donderdag, 19 September 2019 Marli Klynsmith (Juffrou) verjaar

Donderdag, 19 September 2019 Gratis Sivvies

Donderdag, 19 September 2019 Markdag vanaf 11:45 – 12:30

Donderdag, 19 September 2019 Skool sluit om 12:45 Gr.1 – 3, 13:00 Gr.4 – 7

Vrydag, 20 September 2019 Bokkie-dag Sivvies

Vrydag, 20 September 2019 Skool sluit

Vrydag, 20 September 2019 Heidre Ehlers (Juffrou) verjaar

Dinsdag, 24 September 2019 Erfenisdag

Vrydag, 27 September 2019 Lucia de Jager (Juffrou) verjaar

>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Konsert 2019

Baie dankie aan almal, ouers, onderwysers, leerders en terreinpersoneel se reuse bydraes om weer eens ‘n reuse sukses van ons konsert te maak! ‘n Baie groot dankie aan Ben Reynecke wat verantwoordelik was vir die teks en die choreografie, Jana Nel vir die afrig van die hoofkarakters en die regie behartig het, asook Thornley Webber wat vir ons elke aand die klank en beligting saam met mnr. Muller Joubert gedoen het. ‘n Groot dankie ook aan al die ouers wat elke aand gehelp het met die eet- en drinkgoed in ons pragtige nuwe teaterkafee! Ons sal vir julle laat weet wanneer die DVD’s beskikbaar sal wees en wat die koste sal wees. Ons sien sommer nou al weer uit na 2021 se konsert wat sal saamval met ons skool 100ste herdenking!

Dis weer tyd vir ons jaarlikse opname waar ouers genooi word om hul opinies te lewer oor kernfasette van die skool. Kliek HIER om die vraelys te voltooi (voor of op 11 Oktober 2019).

Julle insette is baie welkom en is ’n beduidende rigtingaanwyser vir die personeelkorps en die Beheerraad. Verlede jaar se antwoorde het belig dat ons leerders baie gelukkig is by die skool en dat ons akademiese benadering positief beskou word. Drie aspekte is uitgesonder as minder positief en het meer aandag geniet die afgelope jaar: Sport, diversiteit en godsdiens.

Hier is ’n lys van onlangse projekte:

SPORT: Hokkie is ingesluit as wintersport, ’n proefkontrak met ’n swemskool is gesluit asook ’n Suid-Kaap-toer, sportklinieke en meer wedstryde is georganiseer vir rugby en netbal. Die nuwe tennisbenadering kry ook gesonde aftrek.

DIVERSITEIT en GODSDIENS: ’n Onderwysersbeurs is geskep vir ’n aanstelling in 2020, twee Huppelland-assistente word ondersteun met verdere studies in vroeë kinderontwikkeling, twee personeellede word finansier om bestuurslisensies te bekom en drie diversiteitswerkwinkels is georganiseer vir alle onderwyspersoneel. Gereelde sprekers d.m.v. die Mense van Kaapstad-projek is genooi om leerders toe te spreek tydens saalbyeenkomste en die verwelkomingsprojek, Trotse Jannies. Die isiXhosa100-projek is ook gebore. ’n Nuwe beursprojek is pas bekendgestel waar 10 kinders vir 50% van fooie kan kwalifiseer. Die Godsdiensbeleid is herskryf en word stelselmatig geïmplementeer.

BESTUUR: ’n Personeel-bestuurraad is aangestel vir ’n ewewigtige en effektiewe bestuurstrategie, veral gesien in die lig van Mnr. Oosthuizen se aftrede binnekort. Die bestuur van Huppelland is geïntegreer by die laerskool en alle toelatings en administrasie word nou deur die laerskool bestuur.

TERREIN EN OPKNAPPING: Die verhoog, badkamers, snoepie en nasorgsentrum is opgegradeer. Meer sitspasie is op die speelgrond ingebou. Klaskamers se vensters en rame is vervang en netjies gemaak en verhitting van die swembad is gefinaliseer. Beligtingsprojek word eersdaags aangepak.

Daar is ook verskeie werkwinkels gehou vir personeel o.a. robotika, hantering van disleksie en positiewe dissipline. Verskeie addisionele kursusse vir leerders is ook aangebied soos lewensafrigting vir ouer grade asook studiekursusse.

Bogenoemde projekte is gefinansier met ouers se gesonde skoolfondsbetalings (sowat 85% van fondse word ingesamel) en die trust se jaarlikse veiling-insameling is van groot waarde. Daar is ook baie ouers wat goedgunstiglik sekere projekte finansieel ondersteun. Die ouers en leerders het ook ruim bygedra tot ‘n paar omgee-projekte soos die Wuppertal-brandfonds en ons ondersteuning van Ellerton Primary.

Vars peilingresultate asook huidige fokus-areas sal die bestuur se aandag bly geniet. Laat asseblief jou stem hoor. Die peiling sal teen 11 Oktober gesluit word.

Ons is opgewonde om ons 2020-beursprojek bekend te stel waar 10 nuwe leerders kan kwalifiseer vir 50% korting op skoolfondse en gratis nasorg toegang. As jy weet van enige laerskoolleerder wat sal baat by ons skoolomgewing, maar dit nie kan bekostig nie, verwys hulle asseblief na ons webwerf en stuur ‘n aansoek aan Jodene by admin@jvrprim.co.za. Vir enige navrae, kontak ook vir Jodene. Sy sal ook kriteria kan verskaf.

Aansoeke sluit Maandag 7 Oktober om 17:00.

---

NUUTSTE NUUS

Ons SKOP die Wêreldbeker-rugbytoernooi op die regte noot af hierdie jaar!

Kom Vrydag, 20 September skool toe in gratis GROEN EN GEEL sivvies om die Springbokke voorspoed toe te wens met die rugby!

Betaal R20 vir ‘n heerlike groen en geel smulpakkie/luckypacket om die vakansie en Wêreldbeker op die regte noot te begin.

– Pakkie sluit in: ‘n pakkie chips, ietsie om te drink, ‘n soetdingetjie en ook ‘n afwas tattoo.

– Pakkies sal op Vrydag 20 September voor eerste pouse uitgedeel word.

– Bestellings kan gemaak word op die Karri-toep of kontant betaal word by juf. Wright.

– Slegs ‘n beperkte aantal beskikbaar.

Baie dankie aan almal wat die promosie sessies 2-6 Sept saam met Swimmable bygewoon het, asook diegene wat die sessies op 16-18 Sept gaan bywoon. Ons wil vir beplanningsdoeleindes en veiligheid die swemgroepe vir kwartaal 4 begin regkry. Volg asb. die SKAKEL en lees die inligting aan die begin van die Google Sheet (dit verduidelik die stappe wat gevolg moet word). Ons herinner ouers weer daaraan dat leerders minstens een lengte op hul eie moet kan swem om hierdie sessies by te woon. Indien leerders dit nog nie kan doen nie, sal ons aanbeveel dat hulle eers vir privaatklasse gaan.

Vir almal se veiligheid moet ons die grootte van die klasse beperk. Daarom is die inskrywings belangrik. Indien leerders 2 oefeninge mis sonder om by die onderwyser verskoning te maak, gaan hul naam terug op die waglys en ons skuif iemand van die waglys af op. Ons vra ouers/leerders se samewerking hiermee asb.

Indien ouers sukkel met die Google Sheet (dit gebeur veral met toestelle wat nie Android gebaseer is nie) moet julle asb. seker maak dat julle die Google Sheet toepassing op jul foon afgelaai het. Inskrywings vir hierdie groepe sluit Vrydag, 4 Oktober,om 10:00. Vir enige verdere navrae, kontak die sportkantoor by sport@jvrprim.co.za.

Ons herinner ouers/spelers daaraan dat hul rugbytruie terug skool toe moet kom. Daar is enkele hokkieseuns wat ook truie ontvang het vir hul onderskeie wedstryde. Hulle moet dit asb. ook terugstuur. Leerders moet dit by juf. Hanekom inhandig. Baie dankie aan almal wat dit reeds gedoen het.

---

VERDERE NUUS

ALGEMEEN

Baie geluk aan ons Jannie van die week, Abigail Theron in Graad 1K. Dankie dat jy so getrou herwin! Geniet die R100 geskenkbewys van Col’Cacchio.

Rommelresies: Kom toets jou rommel skommel vernuf! Op 18 September is daar in skooltyd ‘n kompetisie vir al die grade om te sien watter klas die vinnigste en akkuraatste algemene herwinningsitems kan sorteer. Begin nou al om jou kind te leer om self die herwinning korrek te sorteer. Die wen-klas kry ‘n sivvies-dag in die vierde kwartaal.

Naam en van: Hendri Smit

Graad: 2J

Waar woon jy?: Ek woon naby die skool saam met my mamma, pappa en my sussie, wat in Huppelland is.

Gunsteling vak: Ek hou van LO, want ek geniet balspele. Krieket is my gunsteling sport. Ek is baie bly dat krieketseisoen weer hier is!

Ek is ‘n trotse Jannie, want ek maak maklik maats en ek is vriendelik.

AKADEMIE

Katryn Silvis (Gr.1) en Jana Brink (Gr.6) het Saterdag aan die Wow-spelkompetisie se provinsiale rondte deelgeneem. Die kompetisie was straf, maar hulle het hulself uitstekend van hul taak gekwyt. Jana het sesde geëindig en Katryn vierde! Katryn dring dus deur na die nasionale kompetisie wat Saterdag, 19 Oktober in Stellenbosch plaasvind. Lekker verder spel, Katryn! Ons is baie trots op jou!

Dit was ‘n uiters besige kwartaal – sport, assesserings en die konsert. Ten spyte daarvan, was daar 12 Gr.7 leerders wat ook vroegoggende voorberei het vir ‘n wiskundekompetise. Hulle het die vrugte gepluk van hul harde werk. Vir die 4de jaar in ‘n ry het Laerskool Jan van Riebeeck se wiskundespan beide trofeë by die Melkbos-Wiskundekompetisie gewen. Ons leerders het hulle puik van hulle taak gekwyt.

Ons het slegs drie spanne ingeskryf. Ons skryf gewoonlik vier in, maar a.g.v. die konsert het ons die spanne verminder.

Die spanne het as volg geëindig:

1ste plek: Anna van Biljon, Mari Swanepoel, Dawid Adler en Peet Karsten.

3de plek: Layla Erasmus, Jacomien van der Westhuizen, Thornley Webber en Alexander Newton.

7de plek: Zazzie Henderson, Liezel Snijders, Owen van der Linde en Bernard Lombaard.

Dit is ook die 4de jaar in ‘n ry dat ons 3 of meer spanne het wat in die top 10 geëindig het. Met hierdie uitslae is ons aangewys as die wenskool!

Baie geluk aan elke leerder wat so pragtig presteer het. Julle het weereens gewys dat harde werk beloon word en dat wiskunde pret is. ‘n Spesiale woord van dank aan mnr. Hanekom en juf. Baird wat die leerders voorberei het vir die kompetisie.

---

KULTUUR

Kaylin Grobler in Gr.7 VR het deelgeneem aan ‘n Eisteddfod contemporary dance item saam met ‘n paar hoërskool leerlinge van Caroline Kotze School of Dance. Hul dansgroep het ‘n diploma (bo 90%) verwerf en is ook in die finaal as wenners aangekondig in die kategorie small group dance age 15-16. Baie geluk Kaylin!

SPORT

Gedrurende die jaar neem verskeie tennisspelers aan die WP Wilson toernooie deel. Op 30 Augustus het Petrus Bosman en Gustav Pansegrouw aan die WP Wilson 6 toernooi deelgeneem, die laaste van die reeks toernooie hierdie jaar. Petrus het uitdunne teen 4 opponente gespeel en 3 van hulle gewen. Daar is ‘n A en B groep, Petrus het in die O/10 A groep deelgeneem. Hy is die wenner in die groep. Gustav het in die O/11 B groep deelgeneem en 2de geëindig. Baie geluk manne!

---

Kliek HIER vir advertensies van die week

“Do what is right, not what is easy nor what is popular.”

– Roy T. Bennett

Vriendelike groete

J.H. Oosthuizen

SKOOLHOOF

Laerskool Jan van Riebeeck
Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad, 8001
021 423 4209