Vandag vier ons Bok Vrydag, met die helfte van kwartaal 3 wat vandag iets van die verlede is, wat ’n mens weereens laat besef dat tyd beslis nie stilstaan nie. Ons nader ook die einde van die wintersportseisoen met ’n opwindende interskole vanjaar teen Laerskool Welgemoed, wat oor die naweek van 28 en 29 Augustus by ons gaan plaasvind.

Graag deel ek van ons puik sportuitslae wat die vorige naweek plaasgevind het:

Netbal: Die topskole se distrikuitspeeltoernooi het op Saterdag, 15 Augustus, by Laerskool Kenridge plaasgevind, en ons is baie trots op die volgende uitslae:

  • o.13A behaal tweede plek en wen silwermedaljes.
  • o.11A wen brons.
  • o.10A wen brons.

Baie geluk aan ons spelers en afrigters met die puik prestasies.


Rugby: Op Saterdag, 15 Augustus, wen ons o.13A-span 17–12 in ’n titaniese stryd tuis teen Laerskool Dirkie Uys. Die rede hoekom ek dié spesifieke wedstryd uitsonder, is weens die feit dat ons eerste rugbyspan vanjaar ’n baie moeilike seisoen ervaar met sterk teenstanders van groter skole. Op Saterdag het hulle gewys waartoe hulle wel in staat is deur in hulself te glo, as ’n span saam te speel terwyl elkeen sy kant gebring het. Daar was baie emosie ná afloop van die wedstryd – die seuns en afrigters was in ekstase oor die puik oorwinning! Die trane het behoorlik geloop, want hulle het die afgelope tyd so hard gewerk om die een nederlaag ná die ander te oorkom. Die lewe leer mos maar harde lesse en dikwels werk ’n mens besonders hard, maar daar is nie onmiddellike resultate of sukses nie, maar aanhouer wen! Hulle het moeilike lesse die afgelope seisoen geleer, en ek en die afrigtingspan, onder leiding van mnr. André, moes ná afloop van elke wedstryd mooi praat en aanhou motiveer om nie moed op te gee nie. Ek was self emosioneel en so ongelooflik trots op wat die span op die dag vermag het, dat ek dit moeilik gevind het om ná die wedstryd met hulle in die kringetjie te praat. Ek het veral gefokus op die groot lewenslesse wat hulle die afgelope seisoen geleer het, want jy leer dikwels net as jy verloor of nie suksesvol is nie. Hulle het presies gedoen wat ek en die afrigterspan vir hulle wedstryd ná wedstryd gesê het om spreekwoordelik hul kenne op te tel, nooit moed op te gee nie, dat ons harder sal moet werk, en die belangrikste is seker die karaktertoets om in jouself te bly glo. Baie geluk, seuns en die afrigters, mnre. André, Keenen en Divan, met die puik oorwinning. Hierdie is ’n tipiese voorbeeld van leer buite die vier mure van ’n klaskamer wat karakter bou, en dit kan vir seker nie in die klaskamer geleer of nageboots word nie.

Ek is verder ook baie opgewonde om met julle te deel dat ons gr. 3–5-leerders aan die Mzansi Insek van die Jaar-kompetisie, wat deur die Entomologiese Vereniging van Suider-Afrika (ESSA) in samewerking met Media24 aangebied word, gaan deelneem. Die projek is oop vir alle skole en dit behels dat leerders foto’s van hul gunsteling-insek wat in hul tuin of in enige habitat voorkom, kan neem en dit dan as die Mzansi Insek van die Jaar kan nomineer, met ’n kort motivering wat dan aanlyn ingedien word. Baie dankie, juf. Marianne, dat jy die opwindende projek by ons skool saam met die gr. 3–5-onderwysers gaan dryf. Ek glo die Jannies sal dit terdeë geniet terwyl hulle ons persepsie van insekte gaan verander, sodat ons almal deel kan wees van die bewaring van ons kosbare insekpopulasie.

Op Sondagmiddag, 16 Augustus, het ons senior koor onder leiding van juf. Rolene en mnr. Leon Starker by die Stadsaal opgetree. Ons is vanjaar deur die Tygerberg Kinderkoor genooi om saam met hulle en die volgende top kore aan ’n koorfees (Tygerberg in Harmonie) in die ikoniese Stadsaal op te tree:

  • Laerskool Durbanville
  • Laerskool Panorama
  • Laerskool Pinehurst

Dit was ’n belewenis en ek glo dat ons ouers wat dit bygewoon het, met my sal saamstem dat ons beslis nie meer terugstaan vir enige van die ander top kore nie. Baie geluk en baie dankie aan juf. Rolene en mnr. Leon vir jul harde werk en toewyding om ons senior koor na nog hoër hoogtes te lei. Ek is so trots op elke senior koorlid wat week in en week uit getrou al hul oefensessies bywoon.

Op Dinsdagaand, 18 Augustus, was ek uitgenooi om die prestigekonsert van Hoërskool Jan van Riebeeck, waartydens hul die JanArté-sertifikate uitgereik het, by te woon. Baie geluk aan die volgende leerders wat spesiale sertifikate (90%+) ontvang het:

Kreatiewe Skryfwerk

  • Jamie Jordaan
  • Quinn du Toit

Visuele Kuns

  • Munday Lina
  • Elisa van den Berg
  • Louis Hofmeyer
  • Nina Ferreira
  • Anya Maritz
  • Dané Walker

Baie geluk aan die volgende leerders met hul puik optredes tydens die bogenoemde konsert:

  • Antjie Samuel (Gedig) – Die Heks met die Aërosolkan
  • Chris Derksen (Gedig) – Ril Restaurant
  • Coreen Scholtz (Gedig) – Is jy die Mooiste?
  • Alexander Styan – Elektriese kitaar, wat op die aand beslis die kollig gesteel het met sy indrukwekkende optrede.
  • Jack Theron – Tromstel
  • Deon de Kock – Saksofoon
  • Benjie Ntloko – Klarinet
  • Juf. Bea se uitstekende junior vokale ensemble: Frannie Samuel, Emma Venter, Marguerite Eksteen, Maya Basson, Sabastian Scott en Heike Louw.

Baie dankie aan al ons ouers wat ook die konsert en prysuitdeling bygewoon het. Ek is saam met julle ongelooflik trots op hulle!

Op ‘n hartseer noot dink ons besonders baie aan mnr. Ben Reynecke wat sy lewensmaat oor die afgelope naweek aan die dood moet afstaan. Ons dink aan Rudi se dogter, sy familie, vriende en natuurlik vir Ben wat hy agterlaat. Mag Rudi se mooi herinneringe nog lank voortleef.

Afrikaans is so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes, en daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

“Hy eet alles vir soetkoek op”

Die uitdrukking verwys na persone wat liggelowig waarhede van mense aanvaar, m.a.w. alles glo wat mense vertel.

Ek sluit dan week vyf af en mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne geniet. Mag die Bokke die All Blacks wys waar Dawid die wortels gegrawe het. Sterkte ook aan die sportspanne wat die naweek aan toernooie deelneem.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF