Dit is my groot voorreg om ons leerders, ouers/voogde en personeel die week hartlik terug by die skool na ’n welverdiende wintervakansie te verwelkom. Ek glo dat almal die drie weke van lekker rus behoorlik gebruik het om die spreekwoordelike battery sommer ten volle te herlaai en dat julle slaggereed is vir nog ’n besige kwartaal propvol opwindende aktiwiteite. Daar is verder heelwat sport- en kultuurgeleenthede (Konsert & Eisteddfod) om na uit te sien, veral die jaarlikse interskole wat vanjaar vir die eerste keer teen Laerskool Welgemoed vanaf 15 tot 16 Augustus tuis plaasvind, asook die tweejaarlikse konsert vanaf 14–17 September.
 
Die Suid-Kaap-sporttoer wat vanaf 22–26 Junie 2026 plaasgevind het, was weereens ’n reuse sukses en die Gr. 6- & 7-leerders wat die toer meegemaak het, praat nog steeds met lof oor die wonderlike ervaring, veral om teen ander skole buite ons onmiddellike area te speel, asook die interessante besienswaardighede wat hulle besoek het. Ons het vanjaar weer eens nie toegelaat dat die leerders hulle selfone saam op toer neem nie. Hulle het dus saans na die sportwedstryde bordspeletjies gespeel en lekker met mekaar gesels. Dit is juis die samesyn, sosialisering en kameraadskap wat die leerders vir ’n baie lang tyd gaan onthou en koester. Weer eens baie dankie aan die personeel (mnre. Leon, André, Keenen en juff. Ischké, Shahneé, Sharon, Suné en afrigter Patrick) wat die leerders op toer vergesel het en so mooi na hulle welstand omgesien het. Baie dankie en geluk, mnr. Leon, vir al die puik beplanning en reëlings om die spesiale sporttoer moontlik te maak.
 
Op Dinsdag, 21 Julie, het ons Jannies en onderwysers met groot opwinding terug skool toe gekeer. Die eerste dag van kwartaal 3 was tradisioneel met ’n saalbyeenkoms begin, waartydens ek almal amptelik na die heerlike wintervakansie terug kon verwelkom. Juf. Ilse-Marié (gr. 4) het die saal met ’n puik boodskap oor moed en deursettingsvermoë aan ons leerders geopen. Normaalweg word die Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders kwartaalliks op die laaste dag van die kwartaal bekend gemaak. Weens die gr. 7’s se deelname aan die Suid-Kaap-sporttoer wat vanaf 22–26 Junie plaasgevind het, kon ons kwartaal 2 se Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders eers op die dag wat die skool vir die derde kwartaal open, bekendmaak en hul welverdiende sertifikate oorhandig. Baie geluk aan die volgende gr. 7-leerders (alfabeties) met jul harde werk en toewyding:
  • Anabella Boshoff
  • Jamie Jordaan
  • Karla Louw
  • Bella Naylor
  • Jana Nel
  • Ghia Pereira
  • Anna Rabie
  • Cato Terblanche
  • Ella van der Walt
  • Dané Walker
Tydens die saalbyeenkoms van Dinsdag, 21 Julie, is die 2026 Hoofdogter en Hoofseun, naamlik Mila Malan en Dane Botha, se simboliese aansteek van hul hoofleierbalkies deur hul onderskeie ouers behartig. Dit is altyd ’n baie spesiale geleentheid en baie dankie aan Elzette en Francois Malan (Mila se ouers) en Lené en Johan Botha (Dane se ouers) wat die saalbyeenkoms bygewoon het. My beste wense vergesel ons hoofleiers vir die groot taak wat op hulle wag.
 
 
Tans is ons o.13A-tennisspanne (seuns en dogters) besig om vanaf 20 Julie aan die prestige Sun City-tennistoernooi deel te neem. Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogter- en seunspanne vergesel.
 
Gedurende die laaste week van die vakansie was daar netbal- en rugbyklinieke vir ons leerders aangebied. Baie dankie aan ons personeel wat dit moontlik gemaak het.
 
Die sportopgraderingsprojek aan die agterkant van die skool vorder goed en ons kan amper nie meer wag dat dit gebruik kan word nie.
 
 
Die gr. R-badkamers by Huppelland is oor die wintervakansie opgegradeer en lyk ongelooflik. Baie dankie aan al die Huppelland-ouers vir jul donasies om die onbegrote projek moontlik te maak. Baie dankie aan Petro en Fanie Kruger (ouers by Huppelland en by Laerskool) wat aan die stuur van hierdie projek gestaan het – ons het groot waardering vir jul tyd en opoffering! Hartlike dank aan Louise en haar span wat so hard werk om Huppelland so mooi op te gradeer tot ’n wêreldklasinstansie!
 
 

Dit is dan vir ons ’n groot voorreg om ons nuwe nasorghoof, juf. Victoria Bampende (née April), aan julle bekend te stel. Juf. Victoria het op Dinsdag, 21 Julie, by ons begin en ons is baie opgewonde dat sy by ons nasorgspan aangesluit het. Juf. Victoria was ’n klasjuffrou by Disa Park Pre-Primêre Skool en het oor die jare die skool ook gehelp om hul nasorg te bestuur. Sy is ’n opgeleide onderwyseres en het ’n omgeehart vir kinders en is reeds bekend en geliefd deur van ons ouers. Sy bring nie net ervaring nie, maar ook hope energie, vars idees en liefde. Ons wens vir Victoria alle voorspoed toe met haar belangrike taak by ons skool.

 
Graag wil ons vir juf. Shahneé (gr. 6) hartlik gelukwens met haar verlowing gedurende die afgelope vakansie aan Cole.  Ons wens vir julle ‘n wonderlike en geseënde toekoms saam.
Ek gaan die kwartaal weer voort om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind/ers:
 
‘Honger is die beste kok’
 
Die uitdrukking beteken dat as jy werklik honger is, smaak alle kos lekker en dan is ’n honger mens nie sommer vol fiemies (voorkeure) nie.

Ek sluit dan die eerste week van die nuwe kwartaal af. My beste wense vergesel ons skoolgemeenskap vir ’n opwindende kwartaal 3! Geniet julle naweek!

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF