Ons het die jaar entoesiasties en geesdriftig met nog ‘n doel voor oë aangepak: Om die leerders van Laerskool Jan van Riebeeck bloot te stel aan meer diverse mense, kulture, ervarings, ens.

Ons het die jaar begin deur te fokus op Mense van Kaapstad wat op hul unieke manier ‘n verskil in hul eie lewe, maar ook die lewens van ander mense maak. Mense wat hul uniekheid in die rede vir hul sukses omskep het. Hierdeur wil ons ons leerders bemagtig deur die nodige toerusting aan hulle te gee sodat ons goed gemanierde, sterk individue vorm wat eendag as volwassenes vir Suid-Afrika en die wêreld iets kan terug gee. Tydens kwartaal 1 het die aktrise Quanita Adams en entrepreneur Vusi Vokwana ons tydens saalbyeenkomste kom toespreek.

Die iMadiba-gespreksruimte wat deur Erhardt Thiel ontwerp is en deur Zelda la Grange en Tom Moses geopen is, vorm nou ‘n perfekte plek waar heelparty konfliksituasies en sienings reeds tussen leerders aangespreek is. Leerders moet geleer en gelei word om verskille te leer hanteer, want dit is tog ‘n proses wat lewenslank neem om te bemeester.

Verder het ons pasklaar programme deur ervare sielkundiges laat saamstel om aan ons graad 6 & 7-leerders tydens verskeie sessies aan te bied om verdere verryking en bemagtiging te verseker. Hierdie onderskeie programme strek vanaf kwartaal 1 tot kwartaal 3. Dit sluit perfek by die PSW/Lewensoriëntering-kurrikulum aan. Dit is vir ons werklik baie belangrik dat ons skool se waardes deur die hele skoolgemeenskap uitgeleef moet word en daarvandaan die program Ek, Ons, Wêreld.

Aan die einde van kwartaal 2 kan ons trots terug kyk en sê dat ons nog ‘n stap in die regte rigting begin neem het. Selfs klein treëtjies maak ‘n verskil. Ons is opgewonde om te sien wat die jaar vir ons mag inhou.