Beste ouers en voogde

Aangesien alle kommunikasie met die Corona-amok langafstand is, gaan die beheerraad voortaan na elke maandelikse ontmoeting vir julle terugvoer stuur. Ons verlang na die skoolgemeenskap en hoop dit gaan onder omstandighede met julle goed.

Na President Cyril Ramaphosa se aankondiging gisteraand, is daar nog geen duidelikheid rondom die terugkeer na skole nie. Ons sal julle uiteraard op hoogte hou oor ons reaksie op die nuwe reëls sodra ons meer duidelikheid het. In die tussentyd, staan ons reg vir nog ’n geruime tyd van toe skole.

Hier is terugvoer op ’n paar kern-aspekte:

Afstandonderrig

  • Hoewel die Coronavirus amok saai regoor die wêreld, is daar nog heelwat dinge om voor dankbaar te wees. En een daarvan is ons Jan van Riebeeck-personeel. Ons is uiters trots op hul aanpasbaarheid die laaste paar weke en dankbaar dat ons skool voor in die koor is wat afstandonderrig betref. Natuurlik is die stelsel nie sonder sy foute nie en daar word nog daagliks aanpassings gemaak om dit so effektief as moontlik te maak.
  • Hoewel die werk verpligtend is wat die skool uitstuur, moenie die kinders te veel druk nie. Ons onderwysers is heeltemal bewus van die proses se tekortkominge en sal sorg dat alle leerders weer op koers kom na die inperkings – al verg dit buitengewone reëlings.
  • Die sisteem is juis so gekies om data-vriendelik te wees (in ag genome nie almal het onbeperkte WIFI nie) en om aanpasbaar te wees in verskillende huishoudings ter wille van ouers se eie verpligtinge en toegang tot tegnologie.
  • Sou jy enigsins bekommernisse of probleme hê met die huidige sisteem, deel asseblief jou gedagtes per e-pos met die onderwyser – eerder as op die Google Classroom-platform of individuele WhatsApp-klasgroepe.
  • Ons stuur ook ’n skrywe aan van Lucia de Jager wat aan die hoof is van die seniorfase met meer besonderhede hieroor.

Skoolfonds en veiling
Dis ’n moeilike een in hierdie tye. Meer as 80% van ons begroting gaan aan salarisse en harde kostes wat nie verdywn as die skool toe is nie. Ons is tegelykertyd ook bewus van die knoue wat ons reeds knap begroting gaan kry vanweë die ekonomie – en ons span staan reg om dit so goed moontlik te bestuur.

Ons rig dus ’n nederige versoek om by jul skoolfondsreëlings te hou. Daarsonder gaan ons baie moeilike besluite in die oë staar.

Die jaarlikse veiling wat geskeduleer was vir Mei, ’n belangrike jaarlikse fondsinsameling, word uiteraard uitgestel. Ons hoop om binne die volgende twee maande duidelikheid te gee rondom nuwe reëlings en planne. Dankie vir julle ondersteuning sover, hetsy as gaste of skenkers.

Sorg vir ons leerders
Ons behoeftige leerders is ’n prioriteit vir die beheerraad en ons maak ruimte in die begroting daarvoor. Daar is voorsiening gemaak vir ons behoeftige leerders wat nie data kan bekostig vir die aanlynprogram nie.

Van ons skoolgesinne het ook ’n behoefte aan kos in hierdie moeilike tyd. Ouers wat kan help met hierdie kostes, se bydraes sal baie welkom wees. Betaal dit asb. in die skool se bankrekening met verwysing BEHOEFTE BYDRAE. Dis ABSA (takkode 312109//internetkode 632005) en tjekrekening 0360490025.

Ten slotte, ons skoolhoofsoektog se tydlyne is uiteraard ook in die wiele gery. Sodra ons kan, sal die onderhoude in samewerking met die WKOD geskied. (Die aansoeke het gesluit voor inperking.) Dieselfde geld vir die verkiesing van ons nuwe Beheerraadslid – intussen het ons Esri Marais se tydelike koöptering verleng.

Onthou die beheerraad hoor graag van julle. Ons kontakbesonderhede is op die webwerf.

Beste wense vir julle in hierdie onsekere tye. Wees veilig.

Beheerraad Jan van Riebeeck Laerskool