Ons nader die einde van die tweede laaste week van ’n opwindende kwartaal, met ’n welverdiende langnaweek wat as ’n bonus op ons wag. Môre, Vrydag 21 Maart, vier ons Menseregtedag in Suid-Afrika. Dit is hartseer dat so min mense werklik die betekenis van hierdie belangrike dag besef en dit bloot as nog ’n openbare vakansiedag sien. Hierdie dag is juis ingestel ter nagedagtenis aan ’n tragiese gebeurtenis in ons land se geskiedenis – die gebeure van 21 Maart 1960 in Sharpeville. Duisende swart mense het op daardie dag vreedsaam teen die destydse paswette betoog. Die skare is egter deur die polisie uitmekaar gejaag en 69 mense is noodlottig gewond. Sedert 1994 word hierdie dag jaarliks herdenk om hulde te bring aan die slagoffers en om te verseker dat so ’n tragedie nooit weer in ons land herhaal word nie. Ek glo dat die herdenking van hierdie spesiale dag ’n waardevolle bydrae lewer tot ’n samelewing waarin mense met waardigheid, gelykheid, geregtigheid en vrede kan leef.

Die afgelope week was besonder besig met verskeie skoolaktiwiteite. Ek gee graag terugvoering hieroor:

Ons het op Donderdag, 13 Maart 2025, ons jaarlikse gholfdag by die Milnerton Gholfklub aangebied. Hierdie unieke “links-tipe” gholfbaan is geleë tussen die Atlantiese Oseaan en die Rietvleirivier. Die baan is relatief plat met min bome, maar bied steeds uitdagings vir die gemiddelde gholfspeler – veral toe die Suidooster sy spreekwoordelike tande gewys het en die speelomstandighede aansienlik moeiliker gemaak het. Die see en die strandmeer wat aan die meeste gate grens, tesame met die sewe pragtige waterhindernisse, het menige “skewe” gholfballe opgeëis. Die asemrowende uitsig oor Tafelbaai, met Tafelberg, Duiwelspiek, Seinheuwel en Leeukop as agtergrond, het verseker dat spelers nie net ’n uitdaging gehad het nie, maar ook ’n skilderagtige gholfervaring. Baie dankie aan al ons ouers wat die gewilde gholfdag ondersteun het, sowel as diegene wat met ruim borgskappe gehelp het. Ek wil ook mnr. Rashard hartlik bedank en gelukwens met die puik reëlings. Indien jy hierdie wonderlike gholfervaring vanjaar misgeloop het, maak gerus vroegtydig met hom kontak – 2026 se gholfdag beloof om nóg groter te wees!

Op Vrydagmiddag en Saterdag, 14 en 15 Maart, het ’n gekose groep personeellede noodhulpopleiding by die skool ontvang. Dit is vir my ’n voorreg om hulle te bedank en geluk te wens met hul prestasie – almal het die eksamen geslaag en in die proses hul noodhulpsertifikate verwerf. Hierdie sertifikate is drie jaar geldig. ’n Spesiale woord van dank aan Gavin Ford, een van ons ouers, wat die opleiding teen ’n baie spesiale tarief aangebied het.

Op Vrydag, 14 Maart, het ons skool vir die eerste keer ’n Waterbuffel-“Hamburgerdag” met groot sukses aangebied, waartydens ons ’n allemintige 1 700 hamburgers gebraai het! ’n Markiestent is op die mini-sportveld agter die skool opgeslaan, en lekker musiek het in die agtergrond gespeel, wat ’n feestelike atmosfeer geskep het. Ek was aangenaam verras oor hoeveel ouers en kinders die unieke funksie bygewoon het. Die samesyn was kosbaar en die waterbuffel-frikkadelbroodjies was smullekker. ’n Groot dankie aan Susan Derksen en haar OOV-span vir die reëlings, asook aan al die pa’s wat as wafferse braaiers opgetree het!

Die hoogtepunt van die naweek was ongetwyfeld die voorreg wat ons senior koor gehad het om deel te wees van die Mzansi Dirigente-konferensie, wat vanaf 14–16 Maart by die CTICC plaasgevind het. Ons was die enigste skoolkoor wat saam met drie ander jeugkore – die Tygerberg Kinderkoor, die Pietermaritzburg Kinderkoor en die Cantare Kinderkoor – hierdie spesiale geleentheid kon bywoon. Dirigente van regoor die wêreld het die konferensie bygewoon om by van die beste dirigente ter wêreld te leer, terwyl die kore as die “sangers” opgetree het. Ek het die ongelooflike voorreg gehad om prof. Zimfira Poloz te ontmoet. Sy word as die beste jeugdirigent ter wêreld beskou, en selfs ek, wat geen formele kennis van kore het nie, het behoorlik aan haar lippe gehang tydens haar sessies met die gesamentlike koor van 180 kinders. Prof. Poloz is oorspronklik van Kazakstan en het op ’n jong ouderdom na Kanada geïmmigreer. Ons koorleerders het soveel geleer en is, saam met juf. Rolene en mnr. Leon Starker, baie dankbaar vir hierdie ongelooflike blootstelling. Die naweek was ’n belewenis en is op Sondagmiddag met ’n merkwaardige konsert afgesluit. Ek wil ook ons ouerkomitee hartlik bedank vir hul onskatbare bydrae oor die naweek – van toesig tot logistieke reëlings met die koorleerders. Ons waardeer dit opreg!

Op Dinsdag, 18 Maart, het die mediasentrum-monitors (Graad 6-leerders) amptelik hul balkies tydens die weeklikse saalbyeenkoms ontvang. Graag wens ek die volgende monitors geluk en bedank ek hulle by voorbaat vir die belangrike werk wat hulle in die mediasentrum gaan verrig:

  • Alienor Coetzer-Dereymaeker
  • Eva McBride
  • Jamie Jordaan
  • Jenna Erasmus
  • John Bremridge
  • Klara Jansen van Vuuren
  • Morgan Smit
  • Quinn du Toit
  • Solange Stevens

Ek sluit af en wens julle ’n heerlike langnaweek saam met julle gesinne toe. Ter bevordering van ons pragtige taal, sluit ek die week af met ’n bekende Afrikaanse gesegde:

“Hy eet met sy Adamsvurk.”

Dit beteken hy eet met sy hande – presies hoe die meeste van ons verlede Vrydagaand ons Waterbuffel-hamburger geniet het!

Vriendelike groete,

Naas Beets

SKOOLHOOF